|
As jy moeg word vir die lewe in die stad, neem een van hierdie wandelpaaie in Gauteng.
Hierdie wandelpaaie is hoofsaaklik in en om Johannesburg. Net omdat jy in die stad woon is daar geen rede om nie die natuurskoon te kan bewonder nie. Jy kan net 'n dagstappie hiervan maak, of vir 'n hele naweek op 'n staproete gaan. Vir 'n dagstappie kan jy natuurlik 'n piekniekmandjie saamneem en die dag behoorlik geniet.
As jy egter besef dat jy werklik ernstig oor stap is kan jy by die Johannesburg Hiking Club aansluit.
Suikerbosrandreservaat
Die natuurreservaat van naby die 12 000 hektaar is ongeveer 'n uur se ry vanaf Johannesburg, naby Heidelberg. Dit bied 'n totaal van 66 km se wandelroetes, met drie familiewandelroetes van vier, 10 en 17 kilometer. Daar is hutte vir die wat wil ver stap en moet oornag, terwyl die wat nie soveel energie het nie 'n wildrit kan neem of natuurbewaringvideo’s kan kyk.
Lees meer oor die Suikerbosrandreservaat of skakel hulle by 011 904 3933.
Ezemvelo Natuurreservaat
Die Ezemvelo Natuurreservaat is op die R25, vier kilometer buite Bronkhorstspruit geleë, ongeveer 'n uur se ry van die OR Tambo-lughawe en 45 minute van Pretoria. Die natuurreservaat bied kort en lang roetes tot drie-dag-roetes, akkommodasie, 33 wildsoorte, 300 voëlsoorte en 'n groot verskeidenheid fauna en flora. Daar is ook braai- en swemplek.
Ingang is R30 vir volwassenes, R25 vir kinders en R10 vir voertuie.
Besoek hul webwerf vir meer inligting, of skakel Marotti by 013 680 1399.
Klipriviersberg Natuurreservaat
Die natuurreservaat is in Frandaphlaan in Mondeor, net 10 km van sentraal Johannesburg, 15 km vanaf Sandton en kan maklik van die Oos- en Wesrand bereik word. Klipriviersberg is ongeveer 680 ha groot, en beskik oor 6 wandelroetes, van verskillende moeilikheidsgrade. Begeleide toere vind elke tweede en vierde Sondag van die maand plaas en neem ongeveer drie ure. Van Mei tot Augustus begin die begeleide toere om 09:00, hoewel die reservaat daagliks van 07:00 tot 18:00 oop is. Daar is 'n wye verskeidenheid wild te sien, sowel as oor die 170 voëlsoorte en reptiele.
Besoek hul webwerf of skakel Tony Ferguson by 082 454 6114 vir meer inligting.
Kloofendal Natuurreservaat
Die 110 ha-natuurreservaat is in Kloofendal, in Roodepoort. Die wild is beperk tot kleiner diere, maar die bsoom- en voëlsoorte bied groot verskeidenheid. Daar is gekwalifiseerde veldgidse, of jy kan jouself op 'n staproete deur die reservaat neem. Neem 'n piekniekmandjie saam om die dag te geniet.
Die reservaat is elke dag oop van 06:00 tot 18:00 en dis gratis om in te gaan. Begeleide roetes kos tussen R20 en R40.
Besoek die webwerf vir meer inligting, of skakel Karin by 011 674 2980
The Wilds
The Wilds is een van Johannesburg se mooiste parke en is in Houghton. Die staproete, van ongeveer 4 km, word elke eerste, tweede en vierde Sondag van Mei tot Augustus om 08:00 en September tot April om 07:00 gehou. Die roete duur ongeveer 1 uur en 30 minute.
Skakel TJ by 082 554 9972, stuur 'n e-pos of gaan na die webwerf om meer oor die staproetes uit te vind.
Alberts Farm
Alberts Farm is in 6e straat in Greymont. Die derde Sondag van elke maand kan jy om agtuur saam op die 5 km-staproete gaan. Dit is die ideale plek om met jou hond te gaan stap, of 'n vlieër te vlieg. Daar is ongeveer 139 voëlsoorte te sien. Maak seker dat jy ten minste 'n uur het om die reservaat te verken.
Skakel Nina by 083 583 5383, stuur 'n e-pos aan haar of besoek die webwerf.
Melville Koppies Natuurreservaat
Die plantegroei op Melville Koppies is heeltemal inheems, dit is ook as Erfenisgebied verklaar.
Daar word verskeie begeleide toere, veral op Saterdae en Sondae, aangebied. Die gidse is professioneel opgelei. Die staptoere neem twee tot drie ure, gaan deur graslande en woud en jy stap tot so hoog as 1720 meter bo seevlak. Daar is ook “sosiale” staproetes vir diegene wat net die omgewing wil bewonder.
Skakel 011 482 4797, stuur 'n e-pos of besoek Melville Koppies se webwerf vir meer inligting.
Smutsroete, Irene
Die Smutsroete is 'n 3 kilometer-staptog deur die graslande rondom die Smuts-huismuseum in Irene. Dit is perfek vir die voëlentoesias, met oor die 300 voëlspesies, binne 'n 7 km-radius van die Irene treinstasie. Daar is ook spesiale staptogte wat deur professionele gidse gelei word.
Die staproete is Maandae tot Vrydae van 09:30 tot 16:30 en naweke en publieke vakansiedae tot 17:00 oop.
Skakel 012 667 1176 vir meer inligting. |