joukontrei

Trish Botha
deur Trish Botha




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Die storie van die walvis

Suid-Afrika het vir 200 jaar 'n florende walvisjag-industrie gehad – gelukkig is dié tydperk verby en walvisse voel weer veilig in die plaaslike waters. Nietemin het die Weskus 'n baie interessante walvis-geskiedenis.

Die Langebaan-omgewing aan die Suid-Afrikaanse Weskus was vir dekades lank die kern van die plaaslike welwarende walvisbedryf, met die Donkergat Walvisstasie as een van die grootstes langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Bedrywighede by dié historiese walvisstasie het in 1967 tot 'n einde gekom waarna die weermag die stasie oorgeneem het.
Vandag is walvisse steeds net so 'n gewilde dier in Suid-Afrika, maar gelukkig om 'n ander rede: as toeriste-aanloklikheid waar dié majestieuse soogdier in sy natuurlike habitat bewonder word. Nietemin het Suid-Afrika 'n baie interessante walvis-geskiedenis, met kommersiële jag as 'n florerende industrie wat oor 200 jaar gestrek het.

Dié geskiedenis strek terug na 1791 toe Britse walvisjagters met 32 skepe in St. Helenabaai walvisse gejag en verwerk het. Oor 'n kort tydperk van net 24 maande het dié jagters 1 200 walvisse geslag, waarvan die meeste Suidelike Noorkapers was. Die walvisbeen het destyds die rol vervul van plastiek vandag: dit is veral gebruik om die hoepels in vroue se rokke te maak, maar is ook aangewend in korsette, sambrele, stoelvere en haarborsels.
Walvisse is ook verwerk vir walvisolie wat destyds in aanvraag was. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is walviskraakbeen gebruik om rekonstruktiewe chirurgie te doen wanneer soldate gesigbeserings opgedoen het. Snaaks genoeg verwerp die liggaam van die mens nie hierdie vreemde stof nie.

In 1909 het 'n groep Noorweërs op pad na Antarktika hul skip, die Svend Foyn,byMeeu-eiland geanker. Met twee kleiner bote, die Frey en die Frig, het die jagters 33 walvisse in drie weke met harpoene geslag.

Hierna het John Bryde die SA Walvis Maatskappy van Durban uitgebrei na die Weskus, met die Donkergat Walvisstasie naby Langebaan as hoofkwartier. Bote wat gesink is, is gebruik om gedeeltes van die destydse hawe te vorm. Meer as 210 Boggelruswalvisse (Megaptera Novaeangliae), is net in 1909 by die Donkergat Walvisstasie verwerk.
By Donkergat het walvisvleis vinnig baie gewild geraak, veral lekkernye soos walvisfilette en walvisbiltong. Weskus Walvisfrikkadelle was 'n verdere gunsteling onder die plaaslike inwoners.
Maar Langebaan se walvisjag-geskiedenis het in 1967 geëindig waarna die weermag dit oorgeneem het. Vandag is dit die tuiste van die 4 Spesiale Magte.

Na eeue se slagting en bloedvergieting het die Internasionale Walvisjag Kommissie in 1986 'n algemene verbod op walvisjag ingestel, maar dit is iets waaraan veral Oosterse lande hulle nie veel steur nie. Hulle maak hulle skuldig aan onwettige jag en probeer ook om die wette om te keer, omdat hulle glo walvissyfers het intussen voldoende gegroei. Lande, soos Suid-Afrika, wat teen walvisjag gekant is, voel egter dat die walvis 'n bedreigde spesie is wat deur die mensdom bewaar behoort te word en dat die manier waarop hierdie soogdiere doodgemaak word, baie wreed is.

Walvistoerisme is nou aan die toeneem in Suid-Afrika en duisende oorsese en plaaslike vakansiegangers besoek jaarliks plekke aan ons kus om hierdie reusagtige soogdier in sy natuurlike habitat dop te hou. Die mees algemene walvis wat vandag in Saldanhabaai voorkom, is die Suidelike Noordkaper (Eubalaena Australis). Die Noorkapers migreer teen die Afrika-kuslyn op tot by die 20°-breedtegraad waar hulle hul kleintjies kry en grootmaak om dan weer terug te keer.

Baie dankie aan Lt Kol JT Marx en Professor Peter Best wat inligting en foto’s verskaf het. 
Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?