|
Die Wacky Wine Weekend in die Boland is 'n wynproe-extravaganza vir die hele gesin.
Die wintermaande (en veral die naweek voor die Sokker Wêreldbeker) is 'n gulde geleentheid om van die stadslewe weg te breek, te ontspan en tyd met jou familie en vriende te spandeer. As jy nog nie planne vir 'n wegbreek-naweek het nie, gaan besoek die Robertson Wynvallei in die Boland se sewende jaarlikse Wacky Wine Weekend tussen 3 tot 6 Junie 2010.
Alle besoekers koop 'n “paspoort” teen R70. Dit sluit 'n geskenkpak, feesprogram, stylvolle proe-glas en 'n bottel water in. Hierdie paspoort gee jou toegang tot gratis 25 ml proe-glasies van verskillende wyne. As jy egter vreeslik baie van 'n spesifieke wyn hou, koop sommer 'n bottel vir jouself.
Die fees sal, soos altyd, plaasvind by deelnemende wynkelders. Daar sal ook addisionele aktiwiteite saam met die wynproe gehou word. Die aktiwiteite sluit sport en avontuur, musiek, kos en baie aktiwiteite vir die kinders in. Die program en meer besonderhede is beskikbaar op hul webwerf.
Sluit ook aan by die Robertson Wine Valley se Facebook-groep.
Jy kan hulle ook skakel by 023 626 3167, of 'n e-pos stuur.
Die aangewese bestuurder-program
Die Wacky Wine Weekend het hulself genoop om 'n veilige fees te hou en het 'n geen-verdraagsaamheid-beleid ten opsigte van drink en bestuur. Wys 'n bestuurder aan of maak gebruik van die Buddy Bus. Die Buddy Bus is vir groepe van minimum 8 persone teen R2000 en is beskikbaar vanaf 8:00 - 22:00. Maak seker jy bespreek vooraf by Jacques van A2B-toere deur 'n e-pos te stuur. Daar was geen dronkbestuur-insidente verlede jaar nie en daar moet op die prestasie voortgebou word. Die aangewese bestuurders wat registreer by die Feeskantoor (of by een van die toerisme-kantore) sal koepons by deelnemende wynkelders kry. Die belonings sluit gratis koffie, tee, water, gaskoeldrank, ens in.
Waar om oor te slaap
Verblyf in sommige dorpe is reeds volbespreek en jy moet dadelik bespreek om 'n holte vir jou voete te vind. Besoek die webwerf www.robertsonwinevalley.com of gaan loer in by plaaslike toerisme-kantore om te help.
Vir meer verblyf-inligting:
Bonnievale-toerisme - info@bonnievaletourism.com / 023 616 3753
McGregor-toerisme - info@tourismmcgregor.co.za / 023 625 1954
Montagu/Ashton-toerisme - info@montagu-ashton.info / 023 614 2471
Robertson-toerisme - info@robertson.org.za / 023 626 4437
(Foto’s vanaf die Robertson Wine Valley Facebook-groep deur Bonita Malherbe)
|