wen
'n dubbelkaartjie na die brandewynfees, of 'n pragboek oor die geskiendenis van brandewyn.
Skryf só in.



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend
Talle brandewynmeesters en mengelfoendies vat vlam by die Suid-Afrikaanse brandewynfees wat in Mei in Gauteng plaasvind. 

Die GoodLife Fine Brandy Festival, die enigste feesgeleentheid geheel en al gewy aan die kuns en genot van Suid-Afrikaanse brandewyn, word van 20 – 22 Mei 2010 by die Sandton Sun-hotel in Sandton, Johannesburg, aangebied.

As 'n vertoonvenster vir die brandewynbedryf val die kollig op die volle spektrum van brandewynprodukte, van meesterlike potketelbrandewyn tot brandewyn spesiaal vir modieuse mengeldrankies. Met die tema Kontinuïteit in verandering bied die fees aan groot distilleerders sowel as klein, enkellandgoed-brandewynmakers die geleentheid om Gautengse brandewynliefhebbers in die stylvolle omgewing van 'n luukse vyfsterhotel te ontmoet.

“Ons gaan voortbou op die wegholsukses van verlede jaar se inwydingsfees, maar vanjaar se fees sal fokus op innoverende nuwe maniere om brandewyn te waardeer,” sê Caroline Snyman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting. “Dit beklemtoon die verfynde aard en gebruik van Suid-Afrika se brandewynprodukte in 'n gesofistikeerde uitstalomgewing.”   
Volgens Caroline vorm Suid-Afrikaanse brandewyn 'n integrale – en unieke – deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf: 'n landbou- en handelsektor wat tans na skatting aan 257 000 mense werk verskaf.
“Hoewel die fees die moderne era van brandewyn vier, is dit in eeue oue tradisies en die uitnemende standaarde waarop die bedryf gebou is geanker,” sê sy.

Besoekers aan die fees kan die uitgesoekte versameling potketel- en vintage-brandewyne na hartelus met neus en tong ondersoek, én hulle verlustig in die heerlikste mengeldrankies gemaak met brandewyn.
“Die gonswoorde by vanjaar se fees is avant garde-mengeldrankies en die interessante nuwe wêreld van molekulêre mengelkuns, of te wel mixology soos dit internasionaal bekend staan,” sê Ielanda Koen, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting.

Die mees moderne cuisine, molekulêre gastronome en kulinêre skerpdenkers kom saam met mengelfoendies om avontuurlustige mengeldrankies te skep, en sal demonstrasies en spesiale meesterklasse aanbied. Dit sal feesgangers uitdaag om nuut te dink oor smake en teksture en hoe dit gekombineer kan word, veral om klassieke kombinasies nuwe lewe te gee. 
 
'n Spesiale smaakpawiljoen, Die reis van wynstok tot kuip, illustreer die maak van goeie brandewyn en wys hoe die verouderde produk se kenmerkende aromas en smake ontwikkel. Ander feeshoogtepunte sluit die grootste versameling Suid-Afrikaanse brandewyne onder een dak in. Die Salon Privé bied 'n asemrowende palet van verouderde brandewynskatte. En danksy ongekende belangstelling in die vakmanskap van kuipery is Van Ryn se veteraankuiper Abie Valentyn terug by die fees.

Volgens Michael Fridjhon, feesorganiseerder, fokus die GoodLife Fine Brandy Festival op Suid-Afrikaners – veral diegene wat in die prestasies van die wynbedryf belangstel – se aandag op ons trotse brandewynerfenis.

“Hierdie vertoongeleentheid herinner ons aan die grootse prestasies van ons land se
distilleerders – van wie verskeie as Die Wêreld se Beste Brandewynprodusente by internasionale wedstryde die afgelope dekade bekroon is.”

Ons wêreldgehalte brandewynbedryf word ondersteun deur moontlik die strengste en mees presiese stel regulasies ter wêreld. Elke jaar keer Suid-Afrikaanse distilleerders terug van die Verenigde Koninkryk met hande vol goue medaljes van die Internasionale Wyn-en-spiritualieë-wedstryd en die Internasionale Spiritualieë-kompetisie. Vir twee agtereenvolgende jare, en in totaal vir sewe jaar sedert 1999, het 'n Suid-Afrikaanse brandewyn die prys vir Beste Brandewyn in die Wêreld verower.

As die gewildste gedistilleerde drankie in Suid-Afrika (wat 50% meer verkoop as sy naaste mededinger), het brandewyn 'n verbruikersprofiel wat die Suid-Afrikaanse demografie goed weerspieël. Hoewel verbruikers meestal mans is, word brandewyn toenemend 'n gewilde drankie onder vroue. Tans is sowat
25 persent van brandewyndrinkers vroue, met brandewynmengeldrankies as hul gewildste keuse. In ooreenstemming met die internasionale neiging is daar 'n beduidende verskuiwing in die Suid-Afrikaanse mark na premiumprodukte, met verbruikers wat vakmanskap, luuksheid en oorsprong hoog op prys stel.
Innoverende nuwe produkte soos wit potketelbrandewyn lok 'n nuwe generasie van modebewuste verbruikers in hul twintigerjare na die produkkategorie.

Datum: 20 tot 22 Mei 2009
Plek: Sandton Sun, Sandton, Johannesburg
Tyd: 18:00 – 21:00 (geen toegang ná 20:30)
Toegang: R180 per persoon, wat 'n brandewynglas en koopbewyse vir drankies insluit.
Kaartjies: By Computicket of by die deur.
Let wel: Geen besoekers onder 18 jaar.
Inligtinghulplyn: Kontak die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting by 021 887 3157.

Die boek Fire Water: South-African Brandy, vertel in woord en beeld die geskiedenis van die ontwikkeling van plaaslike brandewyne, asook hoe dié produk vervaardig word met wenke oor hoe om dit die beste te geniet. Verder verduidelik dit die fyn vaardighede waaroor die brandewynmaker moet beskik om 'n topproduk op die rak te kry. Van Suid-Afrika se top kokke en mengeldrankiekenners deel hul resepte.

Fire Water: South-African Brandy is deur Quivertree Publications uitgegee, en is teen R260 + BTW landswyd in boekwinkels te koop. Indien die boek nie in jou omgewing beskikbaar is nie, kontak die uitgewers direk by info@doyle.co.za.

jougeskenke

1 Gelukkige leser kan toegangskaartjies vir twee mense, ter waarde van R360, na die GoodLife Fine Brandy Festival wen. SMS die woorde JW FINE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 30 April 2010.

As jy nie naby Sandton woon en die fees kan bywoon nie,
is die volgende kompetisie vir jou:

1 Gelukkige leser kan die koffietafelboek, Fire Water: South-African Brandy, ter waarde van R296, wen. SMS die woorde JW FIRE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 30 April 2010.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend