Met geure van warm plaasbrood
Elbie Els

deur Elbie Els




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die Turksvy Padstal in Victoria-Wes
ontlok nostalgiese onthou-oomblikke.

Heerlike geure tref my toe ek oor die Turksvy Padstalse drumpelstap. Dié winkel in die Karoodorp Victoria-Wes se hoofstraat ruik soos warm, vars plaasbrood. My neus lei my na die kombuis-gedeelte. Die spyskaart is in netjiese wit letters op 'n swartbord geskryf. Allerhande broodjies, pizzas, roomys en ander lekkernye, selfs afval – 'n koninklike dis vir 'n ware boerekind – word aangebied. Die pryse is baie billik en die reuke onweerstaanbaar.

Ek verkyk my aan die ou kasregister op die toonbank by die kombuis. 'n Stokou pop wat 'n paar ledemate verloor het, sit langsaan en waghou. Hierdie is geen gewone padstal nie. 'n Kreatiewe inslag is selfs te sien in die winkelrakke: ou houtwerkbanke met mandjies bo-op word hiervoor gebruik. Dit voel soos 'n verkenningstog – elke paar tree is daar nog iets wat jou verras. 'n Kombuiskas wat my aan my ouma s'n laat dink, dwing my tot stilstand. Die helderoranje kas is blink gevryf en die oopskuif glasdeurtjies laat my terugdink aan my kinderdae toe ek moes rek om 'n beker uit ouma se kas te haal. Met 'n kop vol onthou-oomblikke, stap ek verder. 'n Ry blikbekers hang by die deurgang na die restaurantarea – kompleet soos 'n kantgordyn. Hier trek 'n groot ou eettafel met plekmatjies wat gereed staan vir enige reisiger wat 'n bord kos nodig het, my aandag. 'n Ou radio in die een hoek is natuurlik ook 'n treffer.

Die eienaar, Charl Vermeulen, is opgewonde oor sy nuwe besigheid en vertel hoe hy van New York af na Victoria-Wes gekom het om naby sy ouers te wees. Die Turksvy Padstalis maar nog net 'n paar maande oud en is in Victoria-Wes se hoofstraat regoor die rugbylegende Mannetjies Roux se museum, Mr. Man. Ou afleweringsfietse met mandjies op, lusernbale en ander oudhede by die ingang sal vir jou 'n aanduiding gee dat jy in die regte rigting beweeg.

'n Vrou kom skielik met die lieflikste warm brode reg uit die oond by my verby op pad rak toe. Ek knip my gesprek kort en haas my agter haar aan. Baie in my skik met my ontdekking, stap ek later by die Turksvy Padstal uit. Wat 'n juweel van 'n plek – beslis die ideale plek om onderweg tussen Kaapstad en Johannesburg te stop.


Foto's deur Stefen Els
Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend