|
joukontrei
Uitstappie na die Stirlings
Dit is een van min bergreekse in Wes-Australië, maar dit bied ongekende blommeprag.
Deur Margaretha Lachmann
Die berge op die horison trek my soos 'n magneet: Oppad huis toe, oor die bult, sien ek daagliks die Stirling-bergreeks binneland se kant toe. Hierdie is een van min bergreekse in Wes-Australië. Somtyds is dit net 'n dynserige grys spieëling, maar op helder dae staan dit indrukwekkend en majestueus en wink. Maar Manlief deel nie my sentiment nie – hy is doodgelukkig om die berge op 'n afstand te waardeer. Ek karring egter nou al só lank om te gaan kyk hoe dit van nader lyk, dat hy uiteindelik ingestem het om te gaan.
Dit is nog blomtyd, en gewapen met kameras is ons vroegoggend hier weg om te gaan blomme kyk. Die ongeveer 100 km daarheen het ons verby 'n lappieskombers-landskap geneem: Grasgroen blokke met spikkels spierwit skape, afgewissel met blokke goudgeel canola-blomme. Swart verbrande bome staan soos fyn borduurwerk tussen die helder kleure, en vaalgroen bossies word die knope op die kombers. Die nasionale park, wat die bergreeks insluit, het verlede jaar sleg onder 'n bosbrand deurgeloop, en die skade is nog baie sigbaar. Ons het egter gekom om na die blomme te kyk, en was vasbeslote om so te maak. Daar is staproetes teen meeste van die pieke, en ons wou ten minste teen een uitstap.
Met die eerste uitklimslag, uit die kar, moes ons al die moeilikheid sien kom het – onwillige kinders wat ons planne gaan dwarsboom . . .
Ouboet en Sussa neem gewoonlik baie entoesiasties aan ons natuur-uitstappies deel, maar hiérdie keer was daar onweer in hul gemoed. Die paar los stofdruppeltjies oppad na die eerste uitkykpunt het Sussa hewig ontstel, want die waterkolletjies doen haar uitrusting 'n onreg aan. Die los klippe op die voetpaadjie het gemaak dat Ouboet gly, en wee o wee, die skrapies wat hy in die proses opdoen veroorsaak dat hy nie behoorlik kan loop nie.
Ek draai maar halfpad om, terwyl Manlief aanstap en die pragtige uitsig van bo inneem.
Doekvoet stap ek met die kinders kar toe. Skuifel-skuifel, agter Hinkepink, verken ek die plantegroei hier by my voete baie intiem. Wat 'n belewenis! Piepklein helder blommetjies kyk vrolik op na my, hoopvol dat ek nie bo-op hulle sal trap nie. Kleurvolle blaartjies groei laag op die grond, half weggesteek onder die droë blare wat die bome afgeskud het. Aan weerskante van die voetpaadjie groei bossies met blomme in alle denkbare kleure en vorms. By die kar kyk ek op na die bome, en ontdek interessante sade en 'n heel ander verskeidenheid blommeprag net bokant my kop! Hier is nog soveel wat ek van Oz sal moet leer!
Na 'n kort piekniek, het ons verder deur die park gery. Mount Magog het om die een of ander rede vir my uitgestaan op ons kaart en ek het volgehou dat ons daar moet gaan stap. Die bordjie het egter baie duidelik gesê: "Allow 3 hours return." Noem dit maar vader- en moederlike hardkoppigheid, of net ernstige determinasie, maar stap wou ons stap.
Eers was die heerlike koel briesie 'n koue wind vir Sussa en die appel wat Ouboet as padkos wou eet, het nie "soos 'n appel geproe" nie. Om die tweede draai moes ons stop vir 'n water-breek, want die dors het die kinders oorweldig. By die derde draai het die son te warm geskyn en tien tree verder het daar weer tien druppels reën geval. 'n Moedige kilometer se stap verder, moes ek en Manlief maar die aftog blaas. Enige ouer kan net soveel kinderlike gekerm verduur. Die breekpunt het gekom toe Sussa begin huil: "Hier is geen huise nie! Waarheen is ons dan nou oppad?!"
Met Sussa op haar pa se skouers, en Ouboet wat weet ons is oppad na die gerief van die kar, val daar dadelik 'n vreedsaamheid oor hulle neer. Soveel so dat hulle ewe skielik die natuur rondom hulle begin inneem en geniet. By 'n termietnes het hulle doodstil gaan sit om die werkende termiete dop te hou. Vasgenael soos voor 'n TV-program het die twee bly sit! Hier is almal se emosionele ekwilibrium herstel.
Die staptog het egter tot 'n einde gekom. In die kar het die twee familie-monstertjies gou aan die slaap geraak en ons het 'n rustige rit terug huis toe gehad, so al met die scenic route langs.
|