|

Half versteek onder die dooie blare, steek
piepklein blommetjies hul kleurvolle koppies uit. |
Die berge op die horison trek my soos 'n magneet:
Oppad huis toe, oor die bult, sien ek daagliks
die Stirling-bergreeks binneland se kant toe.
Hierdie is een van min bergreekse in Wes-Australië.
Somtyds is dit net 'n dynserige grys spieëling,
maar op helder dae staan dit indrukwekkend en
majestueus en wink.
Maar Manlief deel nie my sentiment nie – hy is
doodgelukkig om die berge op 'n afstand te
waardeer. Ek karring egter nou al só lank om te
gaan kyk hoe dit van nader lyk, dat hy
uiteindelik ingestem het om te gaan.
Dit is nog blomtyd, en gewapen met kameras is
ons vroegoggend hier weg om te gaan blomme kyk.
Die ongeveer 100 km daarheen het ons verby 'n
lappieskombers-landskap geneem: Grasgroen blokke
met spikkels spierwit skape, afgewissel met
blokke goudgeel canola-blomme. Swart verbrande
bome staan soos fyn borduurwerk tussen die
helder kleure, en vaalgroen bossies word die
knope op die kombers.
Die nasionale park, wat die bergreeks insluit,
het verlede jaar sleg onder 'n bosbrand
deurgeloop, en die skade is nog baie sigbaar.
Ons het egter gekom om na die blomme te kyk, en
was vasbeslote om so te maak. Daar is staproetes
teen meeste van die pieke, en ons wou ten minste
teen een uitstap.
Met die eerste uitklimslag, uit die kar, moes
ons al die moeilikheid sien kom het – onwillige
kinders wat ons planne gaan dwarsboom . . .
Ouboet en Sussa neem gewoonlik baie
entoesiasties aan ons natuur-uitstappies deel,
maar hiérdie keer was daar onweer in hul gemoed.
Die paar los stofdruppeltjies oppad na die
eerste uitkykpunt het Sussa hewig ontstel, want
die waterkolletjies doen haar uitrusting 'n
onreg aan. Die los klippe op die voetpaadjie het
gemaak dat Ouboet gly, en wee o wee, die
skrapies wat hy in die proses opdoen veroorsaak
dat hy nie behoorlik kan loop nie.
Ek draai maar halfpad om, terwyl Manlief aanstap
en die pragtige uitsig van bo inneem.
Doekvoet stap ek met die kinders kar toe.
Skuifel-skuifel, agter Hinkepink, verken ek die
plantegroei hier by my voete baie intiem.
Wat 'n belewenis! Piepklein helder blommetjies
kyk vrolik op na my, hoopvol dat ek nie bo-op
hulle sal trap nie. Kleurvolle blaartjies groei
laag op die grond, half weggesteek onder die
droë blare wat die bome afgeskud het. Aan
weerskante van die voetpaadjie groei bossies met
blomme in alle denkbare kleure en vorms.
By die kar kyk ek op na die bome, en ontdek
interessante sade en 'n heel ander
verskeidenheid blommeprag net bokant my kop!
Hier is nog soveel wat ek van Oz sal moet leer!
Na 'n kort piekniek, het ons verder deur die
park gery. Mount Magog het om die een of ander
rede vir my uitgestaan op ons kaart en ek het
volgehou dat ons daar moet gaan stap.
Die bordjie het egter baie duidelik gesê: "Allow
3 hours return." Noem dit maar vader- en
moederlike hardkoppigheid, of net ernstige
determinasie, maar stap wou ons stap.
Eers was die heerlike koel briesie 'n koue wind
vir Sussa en die appel wat Ouboet as padkos wou
eet, het nie "soos 'n appel geproe" nie. Om die
tweede draai moes ons stop vir 'n water-breek,
want die dors het die kinders oorweldig. By die
derde draai het die son te warm geskyn en tien
tree verder het daar weer tien druppels reën
geval.
'n Moedige kilometer se stap verder, moes ek en
Manlief maar die aftog blaas. Enige ouer kan net
soveel kinderlike gekerm verduur. Die breekpunt
het gekom toe Sussa begin huil: "Hier is geen
huise nie! Waarheen is ons dan nou oppad?!"
Met Sussa op haar pa se skouers, en Ouboet wat
weet ons is oppad na die gerief van die kar, val
daar dadelik 'n vreedsaamheid oor hulle neer.
Soveel so dat hulle ewe skielik die natuur
rondom hulle begin inneem en geniet.
By 'n termietnes het hulle doodstil gaan sit om
die werkende termiete dop te hou. Vasgenael soos
voor 'n TV-program het die twee bly sit! Hier is
almal se emosionele ekwilibrium herstel.
Die staptog het egter tot 'n einde gekom. In die
kar het die twee familie-monstertjies gou aan
die slaap geraak en ons het 'n rustige rit terug
huis toe gehad, so al met die scenic route
langs.
|