|
joukontrei
Méér as 'n pragtige strand
Wanneer jy die Weskus-dorpie Stilbaai se strate verken, sal jy 'n hele paar baie oulike winkeltjies ontdek waar jy ure kan spandeer!
deur Elbie Els
Stilbaai, ook bekend as die Bay of Sleeping Beauty, is deel van die Tuinroete aan die Weskus. Dié pragtige dorpie is 26 km vanaf die N2-hoofroete tussen Mosselbaai en Riversdal geleë, langs 'n baai waar die Goukourivier in die Indiese Oseaan invloei. Die naaste nasionale lughawe is by George, 150 km verder, maar Stilbaai beskik oor 'n eie vliegveld vir ligte vliegtuie, asook 'n klein vissershawe.
Seevakansies is heerlik, maar nou en dan raak 'n mens sku vir die son en soek jy iets anders om te doen. Tydens só 'n oggend het ek besluit om Stilbaai se strate te verken – en het toe op 'n hele paar baie oulike winkeltjies afgekom waar 'n mens ure kan spandeer!
Mamma Mia was my eerste stop. As jy instap, lyk dit soos 'n tuisnywerheid, maar loop gerus verder, want daar is gangetjies en kamertjies na die agterkant toe waar jy oulike geskenke, versierings en stokperdjies sal ontdek.
So entjie verder het Art 2 Heart my aangenaam verras: 'n pragtige kunsgalery met 'n goeie verskeidenheid en as jy op die regte tyd gaan, sal die kitaarspeler in die hoek die besoek nóg meer die moeite werd maak.
As jy iets soek, maar jy weet nie mooi wat nie, is Busy Bee net die plek om by in te gaan. Daar is alles van kombuisware, albums en kaartjies tot die mooiste goed wat uit hout gekerf is met temas van die see. Jy sal beslis iets kosbaars vind wat vir altyd 'n herinnering aan jou besoek sal wees.
Oasis water se windpomp laat my besef ek is dors en op pad soontoe vang 'n ou fiets bo in die lug my oog: "Gister se goeters" sê die bord. Binne kom ek af op Mazawattee-blikke, die mooiste ou groot bruin koffers en allerhande kombuisgoed en meubels.
'n Hele ent verder trek 'n gordyn van skulpe my aandag en laat my by Allegaartjie instap. Allerhande produkte wat van skulpe gemaak is, of met skulpe versier is, is hier te kry. As jy dalk te min skulpe na jou sin op die strand opgetel het, kan jy ook sommer sakke skulpe hier koop. Die gewilde Aloe Ferox-produkte wat van die fabriek op Albertinia kom, is ook hier beskikbaar.
Tabeel is net so 50 m verder. As jy gedink het jy kry nie goeie Christelike boeke in Stilbaai in die hande nie, is jy verkeerd! Hier is 'n goeie verskeidenheid, asook allerhande skryfbehoeftes, kaartjies en sleutelhouers.
Moeg gestap en lekker warm, soek ek na 'n afkoelplekkie. Die bult is steil, maar as jy bo kom, is die beloning groot: Lilliput is 'n oulike klein restaurantjie waar ek dankbaar op 'n stoel neersak. Daar is min tafeltjies, maar omtrent almal is vol en die kos en atmosfeer is uitsonderlik. Na 'n heerlike ligte ete durf ek weer die strate aan.
Die bord net buite Lilliput dui aan dat Be.leef net om die draai is. Daar gekom is ek alte dankbaar dat ek op dié juweel van 'n plek afgekom het. Dis enige mens se droom en jy kan daar uitstap met sakke en sakke mooi goed vir jou huis en baie inspirasie om sommer self ook sulke mooi goed te maak.
Klaar gestap klim ek in my kar en gaan soek na Matchbox, wat nader aan die rivier is. As jou swembroek jou iewers gedurende die vakansie in die steek laat, kan jy hierheen kom en kies en keur. Klere en skoene is volop en bekende handelsname soos Billabong en Lizzard is teen 'n baie billike prys hier te kry. Droë vrugte, neute, sjokolade, die mooiste kombuisgoed, tafeldoeke en huisgoed sal jou weer 'n keer hierheen laat kom.
Nog 'n plek om te besoek as jy regtig baie tyd het en lief is vir lees, is Die Boekwurm. Dit is 'n tweedehandse boekwinkel waar jy ure kan spandeer, sommer koffie kan drink en interessante boeke spotgoedkoop in die hande kan kry. The Joker is ook baie gewild onder tieners en studente – "in"-klere en ander toebehore wat jy op die strand kan nodig kry, is hier beskikbaar. En vir die dames wat meer skoene as klere het, is El Shaddai 'n moet – die mooiste fynste skoentjies is hier te kry – 'n groot verskeidenheid. Jy sal beslis met meer as een paar daar uitstap. Seespens het lekker vis en tjips en Still Fishing verkoop gevriesde snoek as jy op die regte tyd gaan.
Met baie kreatiewe inspirasie en idees ry ek moeg, maar gelukkig huis toe. Stilbaai het oorgenoeg om te doen – ook wanneer die son te warm raak.
Vir meer inligting oor Stilbaai, besoek ook: www.stilbaaitourism.co.za www.stilbaai.com www.stilbaaionline.com
|