|
Stilbaai, ook bekend as die Bay of Sleeping
Beauty, is deel van die Tuinroete aan die
Suidkus. Dié pragtige dorpie is 26 km vanaf die
N2-hoofroete tussen Mosselbaai en Riversdal
geleë, langs 'n baai waar die Goukourivier in
die Indiese Oseaan invloei. Die naaste nasionale
lughawe is by George, 150 km verder, maar
Stilbaai beskik oor 'n eie vliegveld vir ligte
vliegtuie, asook 'n klein vissershawe.
Seevakansies is heerlik, maar nou en dan raak 'n
mens sku vir die son en soek jy iets anders om
te doen. Tydens só 'n oggend het ek besluit om
Stilbaai se strate te verken – en het toe op 'n
hele paar baie oulike winkeltjies afgekom waar
'n mens ure kan spandeer!
Mamma Mia
was my eerste stop. As jy instap, lyk dit soos
'n tuisnywerheid, maar loop gerus verder, want
daar is gangetjies en kamertjies na die
agterkant toe waar jy oulike geskenke,
versierings en stokperdjies sal ontdek.
So entjie verder het Art 2 Heart my
aangenaam verras: 'n pragtige kunsgalery met 'n
goeie verskeidenheid en as jy op die regte tyd
gaan, sal die kitaarspeler in die hoek die
besoek nóg meer die moeite werd maak.
As jy iets soek, maar jy weet nie mooi wat nie,
is Busy Bee net die plek om by in te gaan.
Daar is alles van kombuisware, albums en
kaartjies tot die mooiste goed wat uit hout
gekerf is met temas van die see. Jy sal beslis
iets kosbaars vind wat vir altyd 'n herinnering
aan jou besoek sal wees.
Oasis water
se windpomp laat my besef ek is dors en op pad
soontoe vang 'n ou fiets bo in die lug my oog: "Gister
se goeters" sê die bord. Binne kom ek af op
Mazawattee-blikke, die mooiste ou groot bruin
koffers en allerhande kombuisgoed en meubels.
'n Hele ent verder trek 'n gordyn van skulpe my
aandag en laat my by Allegaartjie instap.
Allerhande produkte wat van skulpe gemaak is, of
met skulpe versier is, is hier te kry. As jy
dalk te min skulpe na jou sin op die strand
opgetel het, kan jy ook sommer sakke skulpe hier
koop. Die gewilde Aloe Ferox-produkte wat
van die fabriek op Albertinia kom, is ook hier
beskikbaar.
Tabeel
is net so 50 m verder. As jy gedink het jy kry
nie goeie Christelike boeke in Stilbaai in die
hande nie, is jy verkeerd! Hier is 'n goeie
verskeidenheid, asook allerhande skryfbehoeftes,
kaartjies en sleutelhouers.
Moeg gestap en lekker warm, soek ek na 'n
afkoelplekkie. Die bult is steil, maar as jy bo
kom, is die beloning groot: Lilliput is
'n oulike klein restaurantjie waar ek dankbaar
op 'n stoel neersak. Daar is min tafeltjies,
maar omtrent almal is vol en die kos en
atmosfeer is uitsonderlik. Na 'n heerlike ligte
ete durf ek weer die strate aan.
Die bord net buite Lilliput dui aan dat
Be.leef net om die draai is. Daar gekom
is ek alte dankbaar dat ek op dié juweel van 'n
plek afgekom het. Dis enige mens se droom en jy
kan daar uitstap met sakke en sakke mooi goed
vir jou huis en baie inspirasie om sommer self
ook sulke mooi goed te maak.
Klaar gestap klim ek in my kar en gaan soek na
Matchbox, wat nader aan die rivier is. As
jou swembroek jou iewers gedurende die vakansie
in die steek laat, kan jy hierheen kom en kies
en keur. Klere en skoene is volop en bekende
handelsname soos Billabong en Lizzard
is teen 'n baie billike prys hier te kry.
Droë vrugte, neute, sjokolade, die mooiste
kombuisgoed, tafeldoeke en huisgoed sal jou weer
'n keer hierheen laat kom.
Nog 'n plek om te besoek as jy regtig baie tyd
het en lief is vir lees, is Die Boekwurm.
Dit is 'n tweedehandse boekwinkel waar jy ure
kan spandeer, sommer koffie kan drink en
interessante boeke spotgoedkoop in die hande kan
kry. The Joker is ook baie gewild onder
tieners en studente – "in"-klere en ander
toebehore wat jy op die strand kan nodig kry, is
hier beskikbaar. En vir die dames wat meer
skoene as klere het, is El Shaddai 'n
moet – die mooiste fynste skoentjies is hier te
kry – 'n groot verskeidenheid. Jy sal beslis met
meer as een paar daar uitstap. Seespens
het lekker vis en tjips en Still Fishing
verkoop gevriesde snoek as jy op die regte tyd
gaan.
Met baie kreatiewe inspirasie en idees ry ek
moeg, maar gelukkig huis toe. Stilbaai het
oorgenoeg om te doen – ook wanneer die son te
warm raak.
|