|

Selfs die strande ondergaan 'n
gedaanteverwisseling met die verandering van
seisoen

Porongurups

Geil plantegroei in die Porongurups
Koraalboom in 'n park |
Die lang, nat winterreënseisoen dwing mens om
meer tyd binnenshuis te spandeer. Vir my is dit
'n goeie tyd van die jaar om dinge te doen soos
om albums op datum te bring, kaste uit te
sorteer, en natuurlik meer tyd met my neus in 'n
boek te spandeer. Noem dit maar seisoenale
introspeksie!
Selfs die strande ondergaan 'n
gedaanteverwisseling soos die seisoene verander.
Waar die water glashelder en turkooisblou is in
die somer, verander dit geleidelik gedurende
herfs om 'n grou, grys massa water in die winter
te word. Die sand is spierwit en aanlokkend in
die somer, maar in die winter kry dit 'n groen
skynsel en lyk sommer vaal. Tog is dit 'n goeie
tyd van die jaar om op die strand te gaan stap,
met die sand wat hard onder 'n mens se voete
gekompakteer is. Dit is natuurlik solank die
wind na die regte kant waai: Die branders spoeg
in die winter berge seegras uit, en dit gee 'n
onaangename reuk af as die wind verkeerde kant
toe waai!
Vir die meer aktiewe lede van ons huisgesin,
word winter gou 'n seisoen van frustrasie, waar
veels te veel energie opgehoop word, met
heeltemal te min geleentheid om daarvan ontslae
te raak. Ons benut dus elke geleentheid wat daar
is om uit te gaan. Die kusstreek van Albany en
omgewing (Wes-Australië) is bekend daarvoor om
vier seisoene in een dag te hê, en met bietjie
voorbereiding, kan mens darem steeds uitstappies
aanpak.
Somtyds, net soos mens oorweldig voel deur die
lang nat seisoen, kom daar 'n fantastiese
sonskyndag wat mens opnuut laat uitsien na die
somer.
Om 'n opeenhoping van energie te voorkom, het
ons onlangs in die Porongurups gaan stap. Die
wolke was sigbaar op die horison, maar ons het
'n kans gevat. Die berge is ongeveer 'n halfuur
se ry uit die dorp, en die pad daarheen neem
mens deur 'n wonderskone omgewing, verby
grasgroen weivelde en spekvet skape. Teen die
voet van die berg is 'n pragtige piekniekarea
met braaigeriewe. Daar aangekom, was die weer
steeds gunstig, en gewapen met ons waterbottels,
besluit ons om net so entjie met die paadjie te
gaan stap.
Nodeloos om te sê, het die entjie gou in 'n
volledige staptog ontaard. By die eerste kruin
het die wolke dreigend begin saampak, maar ons
was reeds byna halfpad, en het besluit ons kan
nou netsowel die roete voltooi.
Van die kruin af is ons met 'n ongelooflike
uitsig beloon, en op 'n helder dag sal mens
selfs die baai kan sien. Die roete het ons deur
geil plantegroei geneem, die grond is ryklik met
varings bedek, en die bome het hoog bo ons
uitgetroon. Dit was tydens die laaste kilometer
se stap dat die dik grys wolkkombers uitgeskud
is. Die groot vet druppels het hard op ons
neergestort, en ons het waternat by die
piekniekarea aangekom! Die braaigeriewe is
onderdak, en nadat ons in droë, warm klere
verklee het, kon ons middagete voorberei.
Gelukkig was daar geen wind om deur ons te sny
nie.
Aan die begin van ons eerste nat, koue seisoen
het Ouboet gevra: "Mamma, verloor die bome
steeds hul blare in die herfs as dit dan so baie
hier reën?"
Ek was self nie seker nie, en ons het die bome
dopgehou. Die antwoord is natuurlik: "Ja."
Sommige bome verkleur van groen, na goud of rooi
en bruin, voor die blarejasse onbeskaamd
afgeskud word, terwyl ander bome verkwik word
deur die water, en nuwe lewe kry om hulself in
heldergroen blare-stolas toe te wikkel.
Die winterlandskap eindig dan met 'n mengelmoes
van bewende kaal bome, en grasgroen parke en
plase, met bloedrooi Koraalbome in sterk kontras.
Teen die einde van die nat seisoen, word mens
met 'n kleurvolle en vrolike lente beloon. Dis
dan wat die euforiese energieke gevoel weer oor
my spoel, en ek fisies en psigies nuwe lewe kry!
|