April 2009
Jaargang 1 Uitgawe 9

 


  Die draai van die seisoen

joukontrei
hoofinhoud
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel


deur
Margaretha Lachman




 

Die roete het ons deur geil plantegroei geneem, die grond is ryklik bedek met varings, en die bome het hoog bo ons uitgetroon

 


Herfs-sonsondergang

Dis weer daardie tyd van die jaar: die seisoene is besig om te draai. Die son steek sy kop ál later oor die bult in die oggend, en die lug het 'n vars byt as mens vroegoggend jou neus by die huis uitsteek. Die lug ruik ook anders. Baie huise in ons buurt het houtkaggels vir verhitting, en die reuk van die houtvure maak my melankolies. Dit word vroeër donker in die aand, en ek vind dat ons al meer neig na heerlike warm disse vir aandete om liggaam en siel te voed. Herfs voel vir my soos 'n tyd waarin my binneste voorberei vir 'n rustydperk gedurende die winter.




Selfs die strande ondergaan 'n gedaanteverwisseling met die verandering van seisoen


Porongurups


Geil plantegroei in die Porongurups

 
Koraalboom in 'n park

Die lang, nat winterreënseisoen dwing mens om meer tyd binnenshuis te spandeer. Vir my is dit 'n goeie tyd van die jaar om dinge te doen soos om albums op datum te bring, kaste uit te sorteer, en natuurlik meer tyd met my neus in 'n boek te spandeer. Noem dit maar seisoenale introspeksie!

Selfs die strande ondergaan 'n gedaanteverwisseling soos die seisoene verander. Waar die water glashelder en turkooisblou is in die somer, verander dit geleidelik gedurende herfs om 'n grou, grys massa water in die winter te word. Die sand is spierwit en aanlokkend in die somer, maar in die winter kry dit 'n groen skynsel en lyk sommer vaal. Tog is dit 'n goeie tyd van die jaar om op die strand te gaan stap, met die sand wat hard onder 'n mens se voete gekompakteer is. Dit is natuurlik solank die wind na die regte kant waai: Die branders spoeg in die winter berge seegras uit, en dit gee 'n onaangename reuk af as die wind verkeerde kant toe waai!

Vir die meer aktiewe lede van ons huisgesin, word winter gou 'n seisoen van frustrasie, waar veels te veel energie opgehoop word, met heeltemal te min geleentheid om daarvan ontslae te raak. Ons benut dus elke geleentheid wat daar is om uit te gaan. Die kusstreek van Albany en omgewing (Wes-Australië) is bekend daarvoor om vier seisoene in een dag te hê, en met bietjie voorbereiding, kan mens darem steeds uitstappies aanpak.

Somtyds, net soos mens oorweldig voel deur die lang nat seisoen, kom daar 'n fantastiese sonskyndag wat mens opnuut laat uitsien na die somer.

Om 'n opeenhoping van energie te voorkom, het ons onlangs in die Porongurups gaan stap. Die wolke was sigbaar op die horison, maar ons het 'n kans gevat. Die berge is ongeveer 'n halfuur se ry uit die dorp, en die pad daarheen neem mens deur 'n wonderskone omgewing, verby grasgroen weivelde en spekvet skape. Teen die voet van die berg is 'n pragtige piekniekarea met braaigeriewe. Daar aangekom, was die weer steeds gunstig, en gewapen met ons waterbottels, besluit ons om net so entjie met die paadjie te gaan stap.

Nodeloos om te sê, het die entjie gou in 'n volledige staptog ontaard. By die eerste kruin het die wolke dreigend begin saampak, maar ons was reeds byna halfpad, en het besluit ons kan nou netsowel die roete voltooi.
Van die kruin af is ons met 'n ongelooflike uitsig beloon, en op 'n helder dag sal mens selfs die baai kan sien. Die roete het ons deur geil plantegroei geneem, die grond is ryklik met varings bedek, en die bome het hoog bo ons uitgetroon. Dit was tydens die laaste kilometer se stap dat die dik grys wolkkombers uitgeskud is. Die groot vet druppels het hard op ons neergestort, en ons het waternat by die piekniekarea aangekom! Die braaigeriewe is onderdak, en nadat ons in droë, warm klere verklee het, kon ons middagete voorberei. Gelukkig was daar geen wind om deur ons te sny nie.

Aan die begin van ons eerste nat, koue seisoen het Ouboet gevra: "Mamma, verloor die bome steeds hul blare in die herfs as dit dan so baie hier reën?"
Ek was self nie seker nie, en ons het die bome dopgehou. Die antwoord is natuurlik: "Ja." Sommige bome verkleur van groen, na goud of rooi en bruin, voor die blarejasse onbeskaamd afgeskud word, terwyl ander bome verkwik word deur die water, en nuwe lewe kry om hulself in heldergroen blare-stolas toe te wikkel.

Die winterlandskap eindig dan met 'n mengelmoes van bewende kaal bome, en grasgroen parke en plase, met bloedrooi Koraalbome in sterk kontras. Teen die einde van die nat seisoen, word mens met 'n kleurvolle en vrolike lente beloon. Dis dan wat die euforiese energieke gevoel weer oor my spoel, en ek fisies en psigies nuwe lewe kry!

 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] joutuisblad ] jougeskenke ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

Opsoek na enige
onderwerp in jouwêreld?
Deursoek ons hier!

Google
Custom Search

joutuisblad
jouhoofstories
joumenswees
joupolitiek
jouapplous
jouleefstyl
joukontrei
jou
jourubrieke
joufiksie
jougeskenke
 
gratis nuusbrief
vertel jou vriende
medewerkers
adverteer
wie is ons
 
ander uitgawes
jouwêreld Facebook-groep