|
Die strandmeer het rustig sonder rimpel gelê toe
die telefoon in mev. Smuts se huis lui: Dit was
Ina Thomas.
"Frank is nou net dood," het haar stem oor die
lyn gekraak.
Skielik het die Noorder sonder waarskuwing
opgekom en die strandmeer se water het in
honderde blink stormagtige golwe oopgebreek.
Maar die storm was vinnig oor. Net so skielik as
wat die wind opgesteek het, het hy weer gaan lê
en die son het uitgekom.
Dis Frank, het die mense van die strandmeer gesê,
hy't koebaai kom sê . . .
Dit was 23 Februarie 1970: Frank Armstrong
Wightman het gesterf. Die kluisenaar wat vir 20
jaar op sy geliefde boot Wylo in Kraalbaai, en
later in 'n kothuis op Oesterval, gebly het, was
nou tydloos. Deel van die Langebaanstrandmeer.
Hy was 'n man vir avontuur,
'n man wat die lewe by die sagte vleis gegryp en
hom bloots gery het. Maar dit was die oop see,
en die eensaamheid wat dit bring, wat hom die
meeste aangegryp het.
Frank Wightman is in 1896 in Johannesburg gebore.
Toe hy agt jaar oud was, het hy reeds drie keer
per skip tussen Suid-Afrika en Engeland, waar sy
grootouers gewoon het, gereis. Hy was gek na die
rolbeweging van die skip op die water – en hy
het altyd sy pa gesoebat om 'n kleiner stoomskip
vir die volgende rit te kies sodat hy die
bewegings beter kon ervaar.
As jongman het hy vir Harry Pidgeon ontmoet – 'n
66-jarige ou man wat sy lewe gelei het soos wat
Frank dit begeer: 'n seewandelaar. Dié twee het
gereeld by mekaar gekuier, en Frank kon vir ure
na Harry se vertellings en ondervindings, van
die stoombote op die Mississippi-rivier, luister.
Eendag, net voor Harry weggevaar het, het hy vir
Frank gesê: "Jy het ook die groot siekte. Die
wanderlust."
Alhoewel Frank oor geen houtwerkondervinding
beskik nie, het hy besluit om in die Kaapse-hawe
sy eie seilboot te bou – 34 meter lank met 'n
enorme kajuit. Hy doop haar Wylo - na die
Longfellow-gedig.
Dinge raak moeilik in die Kaap, en in 1940 seil
hy na die Langebaanstrandmeer en besluit om daar
te wag tot die Tweede Wêreldoorlog verby is. Só
begin sy verhouding met Kraalbaai en die
Langebaanstrandmeer met sy plante en diere.
1947 breek aan en Frank kon sy droom verwesenlik:
om met Wylo om die wêreld te vaar. Saam met sy
skeepsmaat Graham Young verlaat hulle die
Suid-Afrikaanse waters.
Maar dit was 'n vaart wat vanaf dag een met
probleme en krisisse gepaard gegaan het. Toe
hulle uiteindelik Trinidad bereik, het Young die
skip verlaat.
Frank was 'n gebroke man, sy gees geblus. Ook hy
het moed opgegee – hy het Wylo net daar verkoop,
en 'n stoomskip terug Kaapstad toe geneem.
Sy siel was stukkend: in dié tyd skryf hy die
klassieke werk, The wind is free, wat die
verhaal van sy, Young en Wylo se ondervindings
vertel.
Sy verlange na Wylo kry egter die oorhand, en hy
skryf aan die nuwe eienaar om uit te vind of hy
nie sy boot kan terugkoop nie. Die antwoord was
ja: as 'n geskenk!
Vir die volgende twee jaar het Frank deur die
Bahamas gevaar, en uiteindelik by Baltimore in
Amerika uitgekom. Teen 1950 was hy terug in
Kraalbaai by die Langebaanstrandmeer.
Hiér het hy vir die volgende 15 jaar as
kluisenaar geleef, en homself stadig maar seker
ook van die wêreld afgeleef.
Frank het sy dae gevul deur te swem, na die
plaas Oesterval toe te roei vir melk en eiers,
en ander daaglikse takies te verrig, soos om sy
boot en nuwe eskimo-kajak te onderhou. Hy het
ook baie ure in die veld spandeer om die natuur
te bestudeer. Snags as die slaap nie wou kom nie,
het hy geruisloos en sonder klere op die
Strandmeer geroei – geen tyd of menslike gebeure
kon hom boei nie.
Maar maklik was dit nie altyd nie: hiér kan die
wind jou waai tot verby die diepste depressie –
veral die Suidoos het menigmaal Frank se moed
gebreek. Later het hy alle begrip van tyd
verloor: sy dae is bepaal deur die getye, die
seisoene en die wind. Sy dae en maande het die
een in die ander vervloei, met geen grense nie,
geen besondere gebeurtenis om te bepaal waar dit
begin en waar dit geëindig het nie.
Een oggend in Maart 1965 het Frank sy
persoonlike besittings in sy kano gelaai en Wylo
verlaat. Hy het een keer teruggekyk en gewaai:
"Good luck!" het hy geskree.
Toe het hy Kaap toe getrek.
Vir sy vriend, die skrywer Lawrence Green wat
ook sy biografie A Giant in Hiding
geskryf het, het hy gesê: "Ek is lief vir die
strandmeer, maar miskien het ek haar vir te lank
liefgehad."
Op sy oudag wou hy saans in 'n bed lê met vier
mure en 'n dak om hom, terwyl hy vir die weer
lag, het hy verduidelik.
Maar 'n jaar later was hy terug: hy het op die
plaas Oesterval huisvesting gekry vanwaar hy 'n
uitsig op Kraalbaai gehad het. En op Wylo wat
spookagtig in die verte gedryf het. Snags
wanneer hy in sy kothuis vir die ontwykende
slaap gelê en wag het, het hy die wind hoor
fluister: "En jy het gedink jy sou kon ontsnap .
. ."
Frank se gesondheid was besig
om finaal in te gee.
Op 14 Oktober 1969 sien hy sy geliefde
strandmeer die laaste keer. Die velde om
Langebaan was oortrek met die laaste laat-blomme,
asof die Weskus sy beste vir Frank gebêre het.
Hy het sy laaste rekening by Marra se winkel
betaal en is toe saam met Lawrence Green
Oesterval toe. Die strandmeer was die
blouste-blou. Frank het weggelê aan die
toebroodjies en vir nog tee gevra.
"Hierdie was my paradys," het Frank skielik gesê.
"Hoekom kon ek nie bly soos ek was toe ek die
eerste keer hier ingeseil het nie?" vra hy
sonder om regtig 'n antwoord te kry.
"Dis iets in ons as mense wat faal, ons moet
altyd die kontras in 'n ervaring gaan soek: as
ons gelukkig is sal ons ongeluk gaan soek. Ons
faal altyd, en nou is dit verby."
Frank se graf is 'n ou verslete klip met 'n
koper plak van Wylo in vol seil - iewers in die
roaring forties – nie ver van die
strandmeer op Oesterval nie. En Wylo? Sy is
deesdae oud en siek en op droë grond iewers in
Houtbaai.
Ek dink Frank wink haar steeds nader – hy mis sy
boot, haar seile blink in die maan as hy van
haar afduik en sy kaal lyf deel word van die
tydlose water.
"Solitude should teach us how to die," het Byron
lank gelede gesê.
Of dit wel so is, kan nie een van ons sonder
twyfel bevestig nie – nie soseer omdat ons nog
lewe nie - maar omdat dit nie maklik of vir
almal beskore is om regtig alleen te leef nie.
|