joukontrei

Helen Ueckermann
deur Helen Ueckermann




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Perfeksie in die Karoo

Onder ons lê die vyfster Samara Private Wildreservaat, in die Graaff-Reinet distrik, se luukse Karoo Lodge met sy breë stoepe, knus houtstompvure en interieur in die ou koloniale Karoo-styl. Jagluiperde, witrenosters, swartwildebeeste, zebras, kameelperde, springbokke, blesbokke en elande bewoon weer die vlaktes soos voorheen.

Dit is ysig koud en doodstil. Voete stewig in die stof geplant, kilometers se Karoo-veld wat voor my uitstrek, stoom wat trek uit 'n welkome beker warm sjokolade.
Daar lê plek-plek 'n dun kombersie sneeu op die berge en rypkolle wys op die vergeelde wintergras. In die skerp sonlig kerf die kontoere van die Sneeuberge donker skadulyne deur sand en bos. Na regs staan twee njalas roerloos in die oggendson.
Alles is roerloos op die wye, nimmereindigende vlaktes van die Kamdeboo in die Groot Karoo.
Dan is die oomblik verby. Die bokke beweeg aan. Wayne Reed, veldgids, waai sy arm: Kom!

Die piekniekmandjie weggepak, toegedraai in kombers-poncho’s, oormoffies in posisie, warmwatersakke in die skoot of vasgeklem teen die bors, is dit tyd om die pad te vat na die hange van die Kondoa-berg deur die Wolwekloofpas. Kort voor lank brul die 4x4 'n styl grondpad uit.
Onder ons lê die vyfster Samara Private Wildreservaat, in die Graaff-Reinet distrik, se luukse Karoo Lodge met sy breë stoepe, knus houtstompvure en interieur in die ou koloniale Karoo-styl.

Omring deur 'n natuurlike berg-amfiteater en die 70 000 akker Karooland waaruit die reservaat bestaan, is die lodge die soort van ding waarvan Afrika-drome gemaak word. Hier kry gasvryheid weer nuwe betekenis met puik opgeleide personeel wat na elke behoefte omsien, liplekker maaltye voor knetterende kaggelvure en persoonlike aandag wat tot aan die fynste besonderhede gegee word.
Die elegansie van die lodge staan in skerp kontras met die strak, ongenaakbare landskap. Die stylvolle interpretasie van die oorspronklike Karoo-plaashuis spog met 'n gemaklike leefvertrek, gesellige kroeg en eetkamer. Al die suites het breë verandas en die binnenshuise versiering sluit antieke meubelstukke, negentiende eeuse werke van Suid-Afrikaanse kunstenaars, zebravelle op die houtvloere en beddens van inheemse hout in.

Die Karoo Lodge is een van drie luukse verblyfplekke in die Samara-reservaat. Die Manor House is vir eksklusiewe gebruik van private groepe van tot agt mense en bestaan uit agt luukse, lugversorgde en suite-kamers met pragtige uitsigte oor die Karoo-landskap. Die Mountain Retreat is weer afgesonder en wild, sonder elektrisiteit. Dit is in 'n geïsoleerde deel van die reservaat waar privaatheid ongesteurd geniet kan word.
Beide dié verblyfplekke kom met die bykomende luukses van jou eie persoonlike veldgids, sjef en butler.
Die eienaars, Mark en Sarah Tompkins, het Samara oor die afgelope dekade uitgebrei deur aangrensende plase op te koop en het die grond herstel tot die natuurlike glorie van weleer. Jagluiperde, witrenosters, swartwildebeeste, zebras, kameelperde, springbokke, blesbokke en elande bewoon weer die vlaktes soos voorheen.

Aan die bopunt van die Wolwekloofpas kom 'n vergeelde grasland in sig. Wayne trap die petrol om nie agter te raak by die drie bergzebras en 'n blesbok wat sowat 'n honderd meter van ons af galop nie, terwyl swartwildebeeste huppel en baljaar teen die agtergrond van die Sneeuberge. Geen wonder die wildebees staan bekend as die nar van die bos nie, en ook nie juis moeder se mooiste nie. Stories loop dat toe God al die diere gemaak het, die wildebees met die oorblyfsels aanmekaar gesit is, grap Wayne.

Die wildbesigtigingsvoertuig vorder tot op die rand van die plato waar 'n 180º vista van die Kamdeboo-vlaktes voor ons oopmaak. In die verte kan ons net-net die plaashuis uitmaak van die plaas Cranmere waar die internasionaal bekende skrywer Eve Palmer The Plains of Camdeboo geskryf het. Sowat 100 km weg bewe die Cox Comb-berge blou op die horison.
“Die laaste jaarlikse springbokmigrasie in hierdie gebied was in 1896,” sê Wayne, terwyl hy na die vlaktes beduie. “Miljoene springbokke het hier verby getrek, onophoudelik vir twee weke lank. En toe hulle weg is, het dit volgens oorlewering nog twee weke geduur voor die laaste stof gaan lê het.”
Jagluiperde is die wêreld se vinnigste landsoogdiere en op Samara is baie moeite die afgelope jare gedoen om die vinnig krimpende habitat te red en die diere tot hul vorige glorie te herstel deur 'n pro-aktiewe rehabilitasieprojek. Twee van Samara se jagluiperds, Sibella en Beethoven, dra ook halsbande vir navorsingsdoeleindes.

Dit is aandete by Samara. Die oop vuurherde skep 'n warm, intieme atmosfeer in die eetkamer, sitkamer en die kroegie. Die rietdakke en aardse Afrika-kleurskema dra by tot die statige, maar huislike gevoel.

Na 'n volmaakte einde aan 'n volmaakte dag durf ons weer die koue en donkerte aan vir 'n vinnige stappie na ons suite, vergesel van 'n veldgids vir ingeval die buffels wat dikwels snags op die grasperke wei, 'n onverwagse verrassing beplan het.
In die suite brand die oop vuur, die lig is sag, die gansdonsduvet is omgeslaan en 'n klein botteltjie Amarula-likeur rus op elke kussing. En net om die hoek, in die ruim badkamer, wag daar die finale detail, daardie laaste perfeksie: 'n Warm borrelbad is ingetap, twee glasies soet sjerrie binne maklike reikafstand, verwarmde handdoeke, kamerjasse en pantoffels net 'n handuitsteek ver.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?