|
Onderweg op die N1 vanaf die Kaap na die Noorde
maak die reisiger kennis met talle klein dorpies
wat min of meer iets in gemeen het: soort van
vinkel en koljander, die een is soos die ander –
maar tussen Drie Susters en Hanover, geborge in
die rante van die Karoo, lê Richmond met 'n heel
unieke rede tot roem: dit is sedert 2007 'n
boekedorp.
Bo teen die rant, agter die dorp, staan daar
geskryf: www.richmondnc.co.za en onder dit:
1843. Dit klink natuurlik na 'n anomalie, want
die jaartal en webtuiste kan nie met mekaar
vereenselwig word nie. Die stigters van die dorp
in die 1800's sal egter trots gewees het om te
weet dat hul dorp nou sy rol in die vervulling
van die bewaring en uitbouing van die geskrewe
woord speel.
'n Paar nuuskieriges wil gereeld by my weet wat
'n boekedorp is – en dan is ek dankbaar vir die
kennis wat ek meestal op die internet en deur
inwoners van Richmond verwerf het:
'n Boekedorp is 'n klein dorpie, of 'n gehuggie,
wat toerisme bevorder deur die verkoop van
tweedehandse boeke – meestal boeke wat steeds in
aanvraag is, maar nie meer in die gewone
boekwinkels beskikbaar is nie. Boekfeeste word
dan ook op die dorpie gehou, 'n enorme lekkerte!
Daar is so ver ek weet, maar net 26 boekedorpe
in die wêreld. Die eerste boekedorp was Hay-on-wye
wat in die sestigerjare in Wallis begin is,
waarna dié idee met die tyd oor die wêreld heen
versprei het.
|

Richmond se mooi kerk in Loopstraat waar die
woord uitgedra word. |
|
'n Indiër, Darryl Earl David, Afrikaanse dosent
in Durban, het sy doktorsgraad oor boekdorpe
gedoen en sy navorsing het Richmond as die dorp
in Suid-Afrika uitgewys wat geskik sou wees waar
so 'n boekedorp begin kan word. Tesame met 'n
paar ander sakemanne is die bal toe aan die rol
gesit en so het Suid-Afrika se eie Boekedorp
ontstaan.
As mens vooraf daarvan weet, sal jy betyds vir
die padaanwyser uitkyk wat sê: Boekedorp. Maar
ek moet bieg: eers nadat ek toevallig op die
internet ontdek het dat Richmond die plek vir
boeke is, het ek vir die heel eerste keer my
motor se neus van die grootpad in die dorp in
gedraai.
En watter oulike plekkie is dit nie! Ons was
verras om 'n dorpie met 'n eie karakter te
ontdek. Daar is 'n pragtige kerk, 'n hotel wat
in 'n ouetehuis omskep is, 'n tronk en baie
gastehuise waarvan 'n hele paar verwelkomend op
die straat uitkyk. Voor die supermark, met die
lekker naam, "Percy se plek", het 'n sekere
"ant' Koekie" se vriendin haar luidkeels 'n
lekker-lui vakansiedag toegeroep. Sy het die
goeie wense vol giggels en teenopmerkings beaam.
Twee guitige jongelinge het verbygeloop,
vriendelik gegroet terwyl hulle vir mekaar na my
Vrystaat-nommerplaat wys. Richmond het lekker
mense, het ek sommer dadelik vir myself gesê.
Daar is vier groot boekwinkels en twee kleineres
in Loopstraat, met bekoorlike name soos die
The Book Orphanage, Diesel & Dust en
Books on 30, Springbok Huis en
Richmond Books and prints. By die restaurant
met die oulike naam
Vetmuis plaaskombuis kan jy 'n
stukkie lees oor 'n koppie koffie of twee. Ek
moet sê dat The Book Orphanage die
paslikste naam het vir tweedehandse boeke.
Voor die deur van Richmond Gallery,
gespyker aan 'n boom, is 'n paar aanwysers, en
ons is uiters geamuseerd oor die een wat sê
Objects D' junk.
Binne is 'n een en ander snuistery cum
kuns-objek te koop en agter in kamers, is rakke
met Afrikaanse juwele. Met ontsag het ek my daar
verkyk aan al die groot name in die
Afrikaanse-skryfwêreld, soos Dirk Opperman,
Daleen Matthee, Elizabeth Eybers, Andre P. Brink
– almal mense met towerpenne en goue woorde, elk
'n legende in eie reg. Natuurlik het ek vir my
'n paar letterkundige skatte uitgedelf – later
was ek egter jammer dat ek nie meer vir myself
toegeëien het nie.
Gedurende die laaste naweek in Oktober 2008 is
die eerste Boekbedonnerd-fees op Richmond
aangebied – boekliefhebbers het van regoor die
land gekom en oor en om boeke gekuier. Alles
natuurlik ter viering van boeke! Boeke is
verkoop en regte Karoo-spesialiteite is vir die
hongeriges te koop aangebied.
Dié fees sal in Oktober 2009 weer aangebied
word. Maak nou al 'n nota in jou dagboek!
By die Supperklub, waar jy geen boeke kan
koop nie, maar net besonderse Africana kan
ervaar en waardeer, se deur staan daar geskryf :
"Richmond, you can check out any time you want,
but you can never leave."
Dalk word dit vir jou ook waar. Sien jou daar! |