
Lianie May heet die skare welkom.
|
'n Gratis musiekfees waar die room van die land
se Afrikaanse kunstenaars op die reuse verhoog
te sien was – dit is wat die
burgerregte-organisasie AfriForum verlede maand
vir Pretoria en sy inwoners aangebied het.
Dié musiekmakietie is op die gronde van die
Voortrekkermonument gehou om Pretoria se 153ste
verjaarsdag te herdenk, asook om steun uit te
spreek vir die behoud van die stad se straatname
wat 'n besondere kultuurhistoriese waarde het.
Die Pretoria-stadsraad is tans besig met 'n
veldtog om die geskiedenis van die stad uit te
wis – onder andere beplan hulle om 27 straatname
in die middestad te verander teen 'n koste wat
miljoene rande gaan beloop. Dié strate is almal
vernoem na mense wat 'n groot rol in die
totstandkoming, vestiging en ontwikkeling van
Pretoria gespeel het.
Sowat 20 000 mense het die musiekfees bygewoon.
Die skare, tesame met die kunstenaars op die
verhoog, het hul ondersteuning aan, en
solidariteit met, die geskiedenis van Pretoria
uitgespreek en gedemonstreer.
Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Lianie May, Dozi,
Gerrie Pretorius, Elizma Theron, Guillaume,
Irene, Beeskraal, Mel Botes, Albert de Wet, Adam
Tas, Gerald Clark en Piet Paraat was almal op
die verhoog te sien.
Sean Else het as seremoniemeester opgetree.
Die krieketspelers, AB de Villiers en Morné
Morkel, het ook 'n draai op die verhoog gemaak
om Pretoria met sy verjaarsdag geluk te wens. 'n
Lid van die publiek het selfs van die
geleentheid gebruik gemaak om sy vriendin die
ja-woord te vra!
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van
AfriForum,
wys die feit dat 20 000 mense by die
Voortrekkermonument opgedaag het, dat mense baie
sterk oor die stad se naam en straatname voel
en dat hulle nie gediend is met pogings om name
met 'n besondere kultuurhistoriese waarde te
verander nie. "Die Minister van Kuns en Kultuur,
dr. Pallo Jordan, en ander besluitnemers, moet
hiervan kennis neem en toesien dat pogings om
die stad se naam en straatname te verander,
gestaak word," het Kriel gesê.
Dit is die tweede jaar wat AfriForum die
musiekfees aangebied het. Verlede jaar se fees
ter viering van Pretoria se 152ste verjaarsdag
is op Kerkplein aangebied en is deur sowat 10
000 mense bygewoon. |

Elizma Theron laat waai. |