Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 

   Kersfees in Australië

joukontrei
hoofinhoud
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel


deur
Margaretha Lachmann

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld

 

Ek ervaar ongelooflike welwillendheid en 'n gees van omgee onder die mense hier, wat natuurlik 'n hoogtepunt gedurende Kerstyd bereik. Die hartseer teensy van die Kerstyd hiér is dat die ware kersboodskap verlore bly vir soveel mense. Die Kersverhaal word vertel soos 'n storie, met geen geestelike betekenis nie.


 Die reuse Kersboom in Albany


Reuse versierings vir 'n reuse boom

Terwyl ek nou die dag deur die dorp ry, begin my kinders ewe skielik histeries te gil: "Kyk, die boom!"
Een van die dennebome langs die biblioteek pryk met reuse rooi en silwer balle en liggies. Dit is ons eerste Kersfees in Albany (Australië) en ons is nog nie bekend met die rituele hiér nie.
Die hoofstraat se tooisels het kort daarna gevolg; én 6 Desember is Kersfees-parade!

In Perth word sommige strate getooi in die allermooiste liggie-versierings, en daar is kompetisies vir die bes versierde huise. Ons het die vorige twee Desembermaande baie aande ver ente gaan stap om na al die mooi huise te kyk. Ons het natuurlik self ook aan die prettigheid deelgeneem, en ons voortuin opgevrolik met 'n verskeidenheid liggies. 

Hierdie versierde huise word dan ook op baie plekke vir 'n goeie doel aangewend waar mens deur die sprokieslandskap kan gaan stap en 'n donasie kan gee vir 'n liefdadigheidsorganisasie. Ons het die Liggie-huis in Beckenham besoek – dié mense was reeds vanaf September besig om al die versierings op te sit. Die garage is omskep in 'n reuse vertoonarea waar al wat 'n Kersfees-figuurtjie uitgestal is.
Selfs die natuur sorg vir sy eie versierings. Met die winterreënval is die natuur maar dor en droog teen hoog somer – dit is dan wat die voëlent op die bome helderoranje blom en die landskap opvrolik!

Ek ervaar ongelooflike welwillendheid en 'n gees van omgee onder die mense hier, wat natuurlik 'n hoogtepunt gedurende Kerstyd bereik. Die kinders by die skole samel items in om aan welsynsorganisasies te gee. Daar is groepe wat die hele jaar lank geskenkbokse opmaak om aan Derdewêreldlande se mense te gee. Kerke het natuurlik hul eie welwillendheidsaksies wat regoor die wêreld strek. 

Na die kersdiens is daar altyd gemeentelede wat hul deure oopgooi vir mense wat die dag andersins alleen sou deurbring: Enigiemand is welkom om 'n maaltyd in goeie geselskap te gaan geniet. "No worries, mate!"
Dié week deel vrywilligers 'n spesiale donasie-sak saam met ons weeklikse streekskoerant in Albany uit. Die gemeenskap is gevra om asseblief nie-bederfbare voedselitems daarin te plaas en dit dan weer by die posbusse neer te sit, waar die vrywilligers dit dan oor die naweek sal kom insamel. Hiérdie bydraes vul dan weer die gemeenskap se nood-voedselvoorraad aan wat uitgedeel word aan mense wat in nood verkeer.
Gedurende Desember organiseer meeste stadsrade 'n Carols by Candlelight, wat dan ook baie goed ondersteun word deur die gemeenskap.

Die hartseer teensy van die Kerstyd hiér is dat die ware kersboodskap verlore bly vir soveel mense. Die Kersverhaal word vertel soos 'n storie, met geen geestelike betekenis nie.
In Oz word daar ook na die Kersseisoen verwys as die "silly season". Streng gesproke begin dit in Julie elke jaar wanneer die drie groot kettingwinkelgroepe hul jaarlikse speelgoed-uitverkopings hou en mens dan jou inkopies kan bêrekoop tot Kersfees.

Hierdie jaar het ek by die malligheid ingeval. Ek het my (baie beskeie) kersinkopies saam met die res van Albany se mammas in 'n dolle trollie jaagtog gaan koop en ge-lay-by tot Kersfees. Daar waar ons staan en wag in die kronkelende betaal-toue deur die winkel, kon ek my net verstom aan die baie oorlaaide trollies wat kreun onder duur goedkoop-vermaak vir die kinders. Daar was darem net soveel trollies wat meer praktiese geskenke in gehad het ook. Die gewag het natuurlik in 'n groot kuier ontaard, soos net 'n klomp vroumense saam kan! 'n Gawe winkelassistent het deur die toue beweeg en suigstokkies uitgedeel om al die kindertjies geduldig te hou.

Maar hierdie is net die begin van die kersinkopies: wanneer die winkelsentrums se jaarlikse versierings opgesit word, hervat dié sport met nuwe ywer. Behalwe vir daai "nog ietsie kleins" vir onder die boom, moet daar ook omgesien word na die spyse vir die groot dag!

Kersdag is 'n dag wanneer vriende en familie bymekaar kom en lekker kuier. Die spyskaart wat daarmee gepaard gaan, wissel van 'n tradisionele swaar ete met geglasuurde ham en kalkoen, tot ligte koel slaaie saam met 'n barbie (Aussie-styl braai). Baie gesinne pak 'n piekniekmandjie vir 'n dag op die strand of in die park.
Alle besighede is gesluit op Kersdag, dus moet mens voor die tyd seker maak dat jy alles het wat jy nodig gaan hê. Daar is net hier en daar 'n vulstasie oop om mens met die allernodigste uit te help – natuurlik teen 'n prys!

Almal sien uit na 'n paar dae se blaaskans om die batterye te herlaai en die Nuwejaar dan met nuwe krag aan te pak. So is ons huishouding ook stadig maar seker besig om daardie einde-van-die-jaar gevoel te kry. Die pakkies, vir die familie wat ver is, lê reg om gepos te word – en óns spyskaart is in die beplanningsfase!

Ek wens jul almal 'n wonderlike geseënde feestyd toe – regoor die wêreld! Mag daar vrede en vreugde vir almal heers.
Kersfees in Yorkstraat

Een van die vele uitstallings by die Liggie-huis

Die Liggie-huis in Beckenham

Die natuur se eie kersbome

Helderoranje voëlent

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]