Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 

 
Die lewe in 'n township: deur 'n whitey se lens

joukontrei
hoofinhoud
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel


deur
Ronell Riekert

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld

 

"Wait," roep sy, "it is dangerous to walk alone".
Dis eers toe dat ek besef dat ek 'n sitting duck is met 'n R15 000-Nikon oor my skouer. Ek word 'uitgereik' met 'n gids wat as Simon aan my voorgestel word.



Buite sien ek tekkies wat oor 'n telefoondraad hang – dit is 'n aanduiding dat daar dwelms in die omgewing verkoop word.

Die Methodist Church of SA – in Orange Farm

Dis warm, sommer vroeg al. My kar staan agter 'n groot Couch bus geparkeer.
"Do you think it is safe for me to drive with my own car," vra ek vir een van my swart kollegas. 
"Yes, it's totally safe," verseker sy my.
Ek en bykans 40 mense wat saam met my werk, is oppad na Orange Farm – 'n informal settlement – in die Vaaldriehoek om te gaan help
huise vir Habitat For Humanity bou. My kollegas is gedress in denims en sweetpakbroeke, met ou tekkies, en sonhoede. Ek het 'n seilbroek en Crocs aan, en my kamera lê in die kattebak van my wit Japannese motor.
Ek's die dag se amptelike fotograaf. Hulle gaan bou, en ek gaan shoot. Dié keer kom 'n whitey in 'n township shoot, maar met geen lood.

Omtrent 50 km vanaf Sandton draai ons regs van die Golden Highway af, en ry op 'n baie slegte semi-teerpad na die hart van Orange Farm. Verbaasde voetganger-gesigte kyk na my, en ek wonder of enigiemand lus voel om my te hijack.
Voor ek enige verdere gedagtes van vrees kan koester, stop ons voor 'n halfgeboude huis, en ek sien die bekende Old Mutual-banners wat wapper in die welkom-wind. Die organiseerders roep almal bymekaar, en ek lig my kamera: vandag shoot ek real life, real township life.

Kort na almal gehoor het wat van hulle verwag word, stap ek die naaste stofpad af, om te kyk wat daar is wat ek kan afneem. Iemand roep my naam, en ek besef dit is Mammone, die organiseerder, wat my terugroep. "Wait," roep sy, "it is dangerous to walk alone." 
Dis eers toe dat ek besef dat ek 'n sitting duck is met 'n R15 000-Nikon oor my skouer. Ek word met 'n gids 'uitgereik', wat as Simon aan my voorgestel word.

Simon het 'n rustigheid wat my dadelik op my gemak laat voel. Vir die volgende 4 ure was Simon langs my sonder om my een oomblik uit sy oog te laat.
Hy verduidelik vir my dat daar vyf huise is wat aan gewerk word, en dat ons na almal soontoe sal stap sodat ek van die aktiwiteite kan foto's neem. Ek is daar as Old Mutual se amptelike fotograaf vir die dag, om die Old Mutual-werknemers af te neem waar hulle vrywillig RDP-huise help bou vir die Habitat for Humanity-projek. My doel is om soveel as moontlik van die township-lewe af te neem – en ek verduidelik vir Simon dat ek alles wil sien wat hy vir my kan wys.

By die eerste shack wat hy vir my wys, is daar 'n dogter van omtrent 14 jaar oud. Sy het skoolklere aan. Dis tienuur die oggend, en sy verduidelik dat dit eksamen is, en dat sy haar vak vir die dag klaar geskryf het. Sy en 12 ander wesies bly in 'n 3-vertrek shack met 'n moddervloer. Dit het baie gereën die afgelope paar dae, en Simon en die jong meisie verduidelik vir my dat die water dan onder die sinkplate inloop, en die shack in 'n modderbad verander. My kamera werk oortyd, ek neem af en luister. Ek voel hoe 'n druppel sweet teen my rug afloop, en besef toe eers hoe warm dit in die sinkgehuggie is. Die reuk van nat grond en vuil klere oorweldig my. Ten spyte van die omstandighede is alles relatief netjies. Beddens is byna opgemaak, en klere is in oop kaste gepak. Dertien kinders in een sinkplaatkonstruksie, dertien kinders alleen in die modder wanneer dit reën.


‘n Man in sy 50’s kom uit een van die vertrekke gewaggel. In sy linkerhand is ‘n apparaat wat mens gebruik om jou handspiere te versterk – hy het in 2002 ‘n beroerte gehad. Die kreupel man sien om na ses wesies, waarvan net een van hulle ‘n tydelike werk het.


Simon het 'n rustigheid wat my dadelik op my gemak laat voel.  Vir die volgende 4 ure was Simon langs my sonder om my een oomblik uit sy oog te laat.


Sy en 12 ander wesies bly in ‘n 3-vertrek shack met ‘n modder vloer. Dit het baie gereën die afgelope paar dae, en Simon en die jong meisie verduidelik vir my dat die water dan onder die sinkplate inloop, en die shack in ‘n modderbad verander.


Jong kinders was klere – hulle lag nog.

Buite sien ek tekkies wat oor 'n telefoondraad hang en my kamera is vinnig om dié vreemde verskynsel te verewig. Simon sien my verbasing, en verduidelik dat tekkies wat aan hulle veters hang, 'n aanduiding is dat daar dwelms in die omgewing verkoop word. Later hoor ek by 'n vriendin wat van Nieu-Seeland af kom, dat dieselfde verskynsel by hulle ook voorkom.

Simon klop aan die volgende deur en stap binne asof hy verwag word. Ek is kort op sy hakke. Dis warmer in dié shack as in die vorige een. 'n Man in sy 50's kom uit een van die vertrekke gewaggel. Hy stut homself op 'n kierie wat hy krampagtig in sy regterhand vasklou. In sy linkerhand is 'n apparaat wat mens gebruik om jou handspiere te versterk. Simon verduidelik vir my dat hy in 2002 'n beroerte gehad het. Die kreupel man sien om na ses wesies, waarvan net een van hulle 'n tydelike werk het. Die man praat Sotho met Simon en ek is nie deel van die gesprek nie. Toe hulle klaar is, vat ek die man se hand, en bedank hom dat hy my toegelaat het in sy huis. Sy mond vorm 'n skewe glimlag, en ek sien watter kant sy verlamming is.

Ons stap verder. Simon vertel hoe die gemeenskap na die behoeftiges omsien. Ons kom by 'n netjiese huisie waar 'n vrou van ongeveer 60 ons met 'n stil glimlag begroet. Simon verduidelik dat sy na 'n tweeling omsien. Hulle ma is onlangs aan VIGS dood. Twee seuns van ongeveer 15 jaar kom by die deur uit, en my hart pyn toe ek na hulle mooi gesiggies kyk.

'n Paar kilometer verder vat Simon my na 'n huis waar 'n jong man van 23 woon. Sy sussie is 8. Hy het nie werk nie, maar hy sien om na haar. Ek gesels 'n rukkie met hom. Hy't 'n sagte gesig, met baie hartseer wat hy wegsteek. Hy verduidelik dat sy doel in die lewe slegs is om te sorg dat sy sussie veilig is.

Ek en Simon lê in totaal meer as 6 km af tussen sinkplaatgehuggies, en af en toe 'n RDP-skenking. Dis na twaalfuur. Die son is onvriendelik. Ons loop verby 'n oop stuk veld waar omtrent ses perde rondloop. Simon verduidelik dat die perde gesteel is "from the white people", en nou hul tuiste in Orange Farm vind. Die eienaar van die perde sien ek neem foto's. Ek hoor hoe sy stem harder word en sien hom met mening nader stap. Simon raak effens ongemaklik. Hy praat Sotho met die eienaar, en beduie met sy hande. Ek laat my kamera sak, en groet die eienaar in die paar Zulu-woorde wat ek by my ma geleer het. Hy glimlag; ek sien geen tande nie. Hy beduie iets en Simon verduidelik aan my dat die eienaar geld wil hê as ek "sy" perde wil afneem. Ek beduie dat ek niks geld by my het nie – dit was die waarheid – geld was iets wat ek nie in 'n township by my wou dra nie. Miskien moes ek – want waarmee onderhandel mens dan as jy nie ruilmiddels het nie? Die eienaar is inskiklik dat ek sonder betaling nog foto's kan neem, mits hy daarin verskyn saam met die perde.

Ek en Simon kom aan die einde van ons toer. Moeg, warm en vol emosie stap ons terug tot by die plek waar ons journey begin het. Ek het 485 foto's – en 'n oorvol gemoed.

My dag eindig in my kar oppad na Henley-on-Klip – waar ek weet ek 'n warm bed en 'n warm verwelkoming gaan hê.
 


Simon verduidelik dat die perde gesteel is “from the white people”, en nou hulle tuiste in Orange Farm vind. Dié nuwe “eienaar” van die perde wou betaling hê vir dié foto.


Voor ek enige verdere gedagtes van vrees koester, stop ons voor 'n halfgeboude huis, en ek sien die bekende Old Mutual-banners wat wapper in die welkom wind.


Ons kom by 'n netjiese huisie waar 'n vrou van ongeveer 60 ons met ‘n stil glimlag begroet. Simon verduidelik dat sy na ‘n tweeling omsien.  Hulle ma is onlangs aan VIGS dood. Twee seuns van ongeveer 15 jaar kom by die deur uit.


 

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!