|
Dis warm, sommer vroeg al. My
kar staan agter 'n groot Couch bus geparkeer.
"Do you think it is safe for me to drive with my
own car," vra ek vir een van my swart kollegas.
"Yes, it's totally safe," verseker sy my.
Ek en bykans 40 mense wat saam met my werk, is
oppad na Orange Farm – 'n informal settlement
– in die Vaaldriehoek om te gaan help
huise vir Habitat For Humanity
bou. My kollegas is gedress in denims en
sweetpakbroeke, met ou tekkies, en sonhoede. Ek
het 'n seilbroek en Crocs aan, en my kamera lê
in die kattebak van my wit Japannese motor.
Ek's die dag se amptelike fotograaf. Hulle gaan
bou, en ek gaan shoot. Dié keer kom 'n
whitey in 'n township shoot, maar met
geen lood.
Omtrent 50 km vanaf Sandton
draai ons regs van die Golden Highway af, en ry
op 'n baie slegte semi-teerpad na die hart van
Orange Farm. Verbaasde voetganger-gesigte kyk na
my, en ek wonder of enigiemand lus voel om my te
hijack.
Voor ek enige verdere gedagtes van vrees kan
koester, stop ons voor 'n halfgeboude huis, en
ek sien die bekende Old Mutual-banners
wat wapper in die welkom-wind. Die
organiseerders roep almal bymekaar, en ek lig my
kamera: vandag shoot ek real life,
real township life.
Kort na almal gehoor het wat van hulle verwag
word, stap ek die naaste stofpad af, om te kyk
wat daar is wat ek kan afneem. Iemand roep my
naam, en ek besef dit is Mammone, die
organiseerder, wat my terugroep. "Wait," roep sy,
"it is dangerous to walk alone."
Dis eers toe dat ek besef dat ek 'n sitting
duck is met 'n R15 000-Nikon oor my skouer. Ek
word met 'n gids 'uitgereik', wat as Simon aan
my voorgestel word.
Simon het 'n rustigheid wat my dadelik op my
gemak laat voel. Vir die volgende 4 ure was
Simon langs my sonder om my een oomblik uit sy
oog te laat.
Hy verduidelik vir my dat daar vyf huise is wat
aan gewerk word, en dat ons na almal soontoe sal
stap sodat ek van die aktiwiteite kan foto's
neem. Ek is daar as Old Mutual se amptelike
fotograaf vir die dag, om die Old Mutual-werknemers
af te neem waar hulle vrywillig RDP-huise help
bou vir die Habitat for Humanity-projek.
My doel is om soveel as moontlik van die
township-lewe af te neem – en ek verduidelik
vir Simon dat ek alles wil sien wat hy vir my
kan wys.
By die eerste shack wat hy vir my wys, is
daar 'n dogter van omtrent 14 jaar oud. Sy het
skoolklere aan. Dis tienuur die oggend, en sy
verduidelik dat dit eksamen is, en dat sy haar
vak vir die dag klaar geskryf het. Sy en 12
ander wesies bly in 'n 3-vertrek shack
met 'n moddervloer. Dit het baie gereën die
afgelope paar dae, en Simon en die jong meisie
verduidelik vir my dat die water dan onder die
sinkplate inloop, en die shack in 'n
modderbad verander. My kamera werk oortyd, ek
neem af en luister. Ek voel hoe 'n druppel sweet
teen my rug afloop, en besef toe eers hoe warm
dit in die sinkgehuggie is. Die reuk van nat
grond en vuil klere oorweldig my. Ten spyte van
die omstandighede is alles relatief netjies.
Beddens is byna opgemaak, en klere is in oop
kaste gepak. Dertien kinders in een
sinkplaatkonstruksie, dertien kinders alleen in
die modder wanneer dit reën.
|

‘n Man in sy 50’s kom uit een van die
vertrekke gewaggel. In sy linkerhand is
‘n apparaat wat mens gebruik om jou
handspiere te versterk – hy het in 2002
‘n beroerte gehad. Die kreupel man sien
om na ses wesies, waarvan net een van
hulle ‘n tydelike werk het. |

Simon het 'n rustigheid wat my dadelik
op my gemak laat voel. Vir die volgende
4 ure was Simon langs my sonder om my
een oomblik uit sy oog te laat. |

Sy en 12 ander wesies bly in ‘n
3-vertrek shack met ‘n modder vloer. Dit
het baie gereën die afgelope paar dae,
en Simon en die jong meisie verduidelik
vir my dat die water dan onder die
sinkplate inloop, en die shack in ‘n
modderbad verander. |

Jong kinders was klere – hulle lag nog. |
Buite sien ek tekkies wat oor 'n telefoondraad
hang en my kamera is vinnig om dié vreemde
verskynsel te verewig. Simon sien my verbasing,
en verduidelik dat tekkies wat aan hulle veters
hang, 'n aanduiding is dat daar dwelms in die
omgewing verkoop word. Later hoor ek by 'n
vriendin wat van Nieu-Seeland af kom, dat
dieselfde verskynsel by hulle ook voorkom.
Simon klop aan die volgende deur en stap binne
asof hy verwag word. Ek is kort op sy hakke. Dis
warmer in dié shack as in die vorige een.
'n Man in sy 50's kom uit een van die vertrekke
gewaggel. Hy stut homself op 'n kierie wat hy
krampagtig in sy regterhand vasklou. In sy
linkerhand is 'n apparaat wat mens gebruik om
jou handspiere te versterk. Simon verduidelik
vir my dat hy in 2002 'n beroerte gehad het. Die
kreupel man sien om na ses wesies, waarvan net
een van hulle 'n tydelike werk het. Die man
praat Sotho met Simon en ek is nie deel van die
gesprek nie. Toe hulle klaar is, vat ek die man
se hand, en bedank hom dat hy my toegelaat het
in sy huis. Sy mond vorm 'n skewe glimlag, en ek
sien watter kant sy verlamming is.
Ons stap verder. Simon vertel hoe die gemeenskap
na die behoeftiges omsien. Ons kom by 'n
netjiese huisie waar 'n vrou van ongeveer 60 ons
met 'n stil glimlag begroet. Simon verduidelik
dat sy na 'n tweeling omsien. Hulle ma is
onlangs aan VIGS dood. Twee seuns van ongeveer
15 jaar kom by die deur uit, en my hart pyn toe
ek na hulle mooi gesiggies kyk.
'n Paar kilometer verder vat Simon my na 'n huis
waar 'n jong man van 23 woon. Sy sussie is 8. Hy
het nie werk nie, maar hy sien om na haar. Ek
gesels 'n rukkie met hom. Hy't 'n sagte gesig,
met baie hartseer wat hy wegsteek. Hy
verduidelik dat sy doel in die lewe slegs is om
te sorg dat sy sussie veilig is.
Ek en Simon lê in totaal meer as 6 km af tussen
sinkplaatgehuggies, en af en toe 'n RDP-skenking.
Dis na twaalfuur. Die son is onvriendelik. Ons
loop verby 'n oop stuk veld waar omtrent ses
perde rondloop. Simon verduidelik dat die perde
gesteel is "from the white people", en nou hul
tuiste in Orange Farm vind. Die eienaar van die
perde sien ek neem foto's. Ek hoor hoe sy stem
harder word en sien hom met mening nader stap.
Simon raak effens ongemaklik. Hy praat Sotho met
die eienaar, en beduie met sy hande. Ek laat my
kamera sak, en groet die eienaar in die paar
Zulu-woorde wat ek by my ma geleer het. Hy
glimlag; ek sien geen tande nie. Hy beduie iets
en Simon verduidelik aan my dat die eienaar geld
wil hê as ek "sy" perde wil afneem. Ek beduie
dat ek niks geld by my het nie – dit was die
waarheid – geld was iets wat ek nie in 'n
township by my wou dra nie. Miskien moes ek
– want waarmee onderhandel mens dan as jy nie
ruilmiddels het nie? Die eienaar is inskiklik
dat ek sonder betaling nog foto's kan neem, mits
hy daarin verskyn saam met die perde.
Ek en Simon kom aan die einde van ons toer. Moeg,
warm en vol emosie stap ons terug tot by die
plek waar ons journey begin het. Ek het
485 foto's – en 'n oorvol gemoed.
My dag eindig in my kar oppad na Henley-on-Klip
– waar ek weet ek 'n warm bed en 'n warm
verwelkoming gaan hê.
|

Simon verduidelik dat die perde gesteel
is “from the white people”, en nou hulle
tuiste in Orange Farm vind. Dié nuwe
“eienaar” van die perde wou betaling hê
vir dié foto. |

Voor ek enige verdere gedagtes van vrees
koester, stop ons voor 'n halfgeboude
huis, en ek sien die bekende Old
Mutual-banners wat wapper in die welkom
wind. |

Ons kom by 'n netjiese huisie waar 'n
vrou van ongeveer 60 ons met ‘n stil
glimlag begroet. Simon verduidelik dat
sy na ‘n tweeling omsien. Hulle ma is
onlangs aan VIGS dood. Twee seuns van
ongeveer 15 jaar kom by die deur uit. |
|