Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 

Oornag in 'n plaasatmosfeer

joukontrei
hoofinhoud
terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

Een van die vriendelikste, gasvryste en mees nostalgiese B&B's op die N14-roete word in Ventersdorp gevind: die Mosaic-gastehuis, waar die tam reisiger nie net rus vir sy liggaam gaan vind nie, maar ook vrede en rustigheid vir die siel.


Nog foto's

Motoriste wat hul gereeld op die N14-hoofroete tussen Gauteng en die Noord-Kaap bevind, is bewus van dié klein dorpie – so ongeveer twee ure se ry vanaf Johannesburg – waarby die hoofpad hul neem.

Ventersdorp, vertel die afdraaibord.

Wanneer jy dan jou oë vir 'n paar sekondes vanaf die warm teer wat voor jou uitstrek wegneem, sien jy Ventersdorp aan jou regterkant – so 4km of wat vanaf die hoofpad.
En dit is dan net hier waar menige motoris al die grootste fout van sy lewe gemaak het – om dan nié af te draai opsoek na 'n oornagplekkie vir die moeë gees nie.
Omdat hy dink dié dorp is te klein om aan sy eet- en slaapbehoeftes te voldoen.

Fout! Fout! Fout!

Want een van die vriendelikste, gasvryste en mees nostalgiese B&B's op die N14-roete word hiér gevind: die Mosaic-gastehuis, waar die tam reisiger nie net rus vir sy liggaam gaan vind nie, maar ook vrede en rustigheid vir die siel.
Die gevaar bestaan natuurlik dat jy langer gaan vertoef as wat jy beplan het . . . want dié plek drup van plaas-nostalgie en tradisionele plattelandse vriendelikheid!

Die hoofgebou is vanuit 'n ou skuur omskep tot 'n eetsaal, funksievenue, kuier-area, kroeg en 'n kombuis. Die dekor neem die gas 'n hele paar dekades terug: vanaf die ou weefmasjien by die ingang tot die plaasgereedskap wat teen die mure hang.
Op tipiese warm Noordwes-aande kan drankies buite onder die veranda geniet word, met 'n uitsig oor die swembad en die ongerepte veldvlaktes wat daaragter wink. Vir die fikse toeris, wat nou nie te haastig is om die volgende oggend vroeg die pad te wil gryp nie, is die staproetes deur die veld die ideale manier om die varsheid van 'n Noordwes-oggend mee in te asem.
Wees egter gewaarsku: as jy te laat die oggend wegspring, kan dit nogal warm daar in die veld raak. Sus jou dan met die wete in die agterkop dat daar 'n koue bier en swembad by die gastehuis wag – en natuurlik 'n stewige ontbyt!     

Langs die "skuur" is sewe oornagkamers gebou en ingerig volgens die behoefte van die moderne reisiger: die en-suite badkamer, TV-stel en 'n ketel met voorraad vir jou oggend-koffie-en-beskuit is standaard. In die groter kamers gaan jy 'n kroegyskassie vind. Net vir die wis en die onwis.

Met die kreatiewe binnehuisversiering van die kamers is die romantiese plaasagtergrond-konsep voortgesit met die unieke gebruik van sinkplate, oud-styl krane en spieëls en muurpatrone. In die binnehof, wat op die oorblyfsels van 'n tennisbaan gebou is, is talle klein tuintjies aangelê wat met ou plaasgereedskap en –toerusting afgerond word. 'n Klip-spuitfontein vorm die fokuspunt.

Jy kan natuurlik jou tyd so beplan dat die Mosaic B&B nie net 'n vinnige oornag-stoppie is nie, maar ook jou verblyfplek vir 'n dag of drie terwyl jy die Ventersdorp-omgewing ontdek.
Sowat 6 km buite die dorp, op die Kosterpad, vind mens die Schoonspruitrivier waarvan die dorp vir sy water afhanklik is. Selfs in droë tye vloei dié rivier steeds. Die eerste gebottelde water in Suid-Afrika, Schoonspruit, is vanuit dié rivier afkomstig.
Verskeie damme in die omgewing, soos die Rietspruitdam-oord, Elandskuildam en die Klerkskraaldam, bied vir die hengelaar en watersport-fanatikus 'n idilliese natuurparadys.
Ander besienswaardighede sluit in die Tarentaal-staproete en die Swartrandgrotte. Vir 'n volledige lys van wat jy alles in dié omgewing kan sien en doen, praat met die eienaar van die Mosaic B&B, of kontak die Ventersdorp Toerismekantoor (
018 464 9021).

Ventersdorp is in die Vaalriviervallei, op die grens tussen Gauteng en Noordwes, geleë, en is ongeveer 180 km vanaf die Johannesburg Internasionale lughawe, 50 km vanaf Potchefstroom, 160 km vanaf Pretoria, 100 km vanaf Krugersdorp en 85 km vanaf Lichtenburg geleë.
Die N14-hoofroete tussen Gauteng en die Noord-Kaap, asook die R30 en R53, loop deur dié dorp.

Maar die Mosaic B&B se gasvryheid is nie net op die toeris gemik nie.
Die fasiliteite is ook baie gesog onder inwoners van die omgewing vir huweliksonthale, herdenkings, korporatiewe funksies, konferensies en verjaarsdagpartytjies.
 

Vir besprekings en meer inligting:
Mosaic B&B (018 264 2586 of 083 456 6110)
Ventersdorp Toerismekantoor (
018 464 9021)
Besoek hul webwerf hier.

Kliek op 'n foto om die groter weergawe te sien.

Die ingang van die
Mosaic B&B vertel die toeris reeds wat hy te wagte kan wees.

Die kamers is uniek en modern, maar het tog 'n plaas-nostalgiese element.
Die onthaalarea, veranda, kroeg en swembad bied die ideale agtergrond vir enige geleentheid.
Die binnehof is getrou aan die oorkoepelende styl.

Die finale proef en bekendstelling van jouwêreld se Desember-skemerkelkiespyskaart, bestaande uit vier skemerkelkies en talle bygeregte, is by die Mosaic B&B in Ventersdorp aangebied. Kry die volledige spyskaart en al die resepte hiér.

Kyk ook na die foto's van dié geleentheid. 

Wil jy jou gastehuis, motel of funksievenue aan die lesers van jouwêreld bekendstel? Skryf aan redaksie@jouwereld.co.za

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na joukontrei
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]