|
"In Langstraat waar die cafés nog oop is tot
laat in die angry nag, het ek en my dolla
slaptjips loop koop, ek moes half an hour staan
en wag," sing Koos Kombuis op 'n album wat se
naam ek nou nie kan onthou nie.
Daar waar ek destyds in my buitekamer gelê en
droom het, was daar nie kafees oop tot laat in
die nag nie. Langstraat was 'n ander plek, doer
in die Kaap – 'n plek waar skrywers en ander
weird mense soos Koos Kombuis gedwaal het.
Ek wou soontoe gaan.
Daar is revolusie gesmee, gedigte geskryf en
partytjie gehou tot laat in die angry
nag.
Die nuwe Suid-Afrika het gekom en gegaan en niks
het verander in Langstraat nie. Dis nog steeds
die plek waarvan ek lank terug lê en droom het.
Jy kan steeds slaptjips – en deesdae nog meer –
te ete kry. Daar is steeds skrywers en digters
en ander weird mense, en revolusies word
steeds deur die Bohemians om tafels vol wyn
gesmee.
As ek die vlaktes mis en weghardloop lê nog
Maandag tot Vrydag ver, dan gaan loop ek 'n dag
en nag se draai in Langstraat. Net om my weer
terug te vat na my buitekamer, my drome en 'n ou
platespeler.
Ek weet nie of Mr. Pickwicks voor tien in die
oggend oopmaak nie, want ek was nog nooit voor
tien daar nie. Die musiek is oorverdowend vir só
vroeg in die oggend en die ou met die Bob
Marley-haarstyl wat die kos maak, roep die
kelner nader – dit lyk of hulle stry. Hy beduie
sy moet lees wat op die vertoon-yskas staan:
"PEACE, LOVE AND RESPECT."
Probleem verby, begin hy aan ons ontbyt werskaf.
Die koffie is sterk en laat my hare regop staan.
Ek sit by die venster teen die sypaadjie en voel
of ek big screen-TV kyk. Nigeriërs,
Kongolese, taxis, Bergies, aktetasse met bene en
dasse, sekuriteitswagte, kameras met toeriste
aan, donkerbril-smouse en 'n polisieman op 'n
perd. Die straat sal later besig raak.
By die Pan-African-mark wil almal iets aan my
verkoop tot hulle besef ek is nie 'n toeris nie
– dan zoom hulle in op die volgende ou
met 'n kamera om sy nek. Dis 'n doolhof van
kleurvolle krale, lappe, beeldjies, ornamente en
mense. Ons koop glas krale vir armbande.
"I saw opportunity in your country, that's why I
came here, twelve years ago from Ghana."
Ek groet en wens hom sterkte toe vir die
volgende twaalf.
Ek wonder of Koos geweet het wat Tapas is toe hy
hier gedwaal het. Ek dink toe was dit nog Hors
de Wors in die Afrikaanse mond. Dis klein
happies kos waarvoor jy baie betaal, wat
gewoonlik deur 'n kelner gebring word wat lyk of
hy op die besem gaan sit het. Ons kelner lyk
gelukkig of hy die besem dié keer gemis het,
maar ek voel nog steeds of ek nou net geroof is
en veronderstel is om dit te geniet. Ek lees die
naam op die deur toe ek uitloop: "FORK". Ek sê
dit hardop en laat die R weg terwyl ek aanstap.
As klere koop jou ding is en
ketting-klerewinkels nie jou hart vinniger laat
klop nie, kan jy maar 'n draai in Langstraat kom
maak. Met name soos Ska, Funkadelic Strawberries
en Second Time Round kan jy enige iets kry van
funk-a-delic funk clothes tot iets wat
jou ouma mee ge-Gatsby het. Die kuns is tyd op
jou hande en 'n lus om te snuffel.
Dis tyd vir voete rus en by die Ché-bar is alles
Kubaans behalwe die kroegman met die donker
gelaatstrekke, bruin oë en swart baret. Sy naam
is Alpheus Plaaitjie en hy bly in Phillipi. Daar
is niks fout met sy Margheritas nie en solank hy
nie praat nie, is jy, vir alle doeleindes, in
Kuba.
Oorkant die pad is die Zula Bar – musiek,
komedie, en groot partytjie hou is wat hier
gebeur. Vanaand is dit Fong Kong Bantu Sound
System se beurt, met Real Rozzano, Dubmasta
China, Ntone Edjabe en Boeta G. R20 kry jou in
by die deur.
Die son het al lankal in die see geval toe ons
by die Royale Restaurant uitloop. Die plek is
gepak met trendies. Ek voel of ek 'n rol
in That Seventies Show gekry het.
Die Afrika-tema restaurante is vyf diep met son-gebrande
toeriste. Was dit die rooi gevaar waaroor PW so
aangegaan het? Hulle is nie so erg soos hy gesê
het nie.
By die Waiting Room luister ons na 'n man met 'n
kitaar en woorde om te deel. Hy vra die gehoor
om stil te bly en te luister anders gaan dit 'n
f*kop wees, sê hy. Hy sing van revolusie en die
mens se gejaag na geld. Die kettings van
Kapitalisme. Toe ons heelwat later uitloop, stry
hy en die bestuurder oor sy geld vir die aand.
By Jo-Burg en Pretoria is dit nog nie so besig
nie: hier begin die partytjie laat en hou lank
aan. Voor die Adult World bied iemand my 'n hele
spyskaart susmiddels vir die menslike pyn aan.
Ek wonder hoe sê mens beleefd nee vir só iets –
veral as die wyn reeds sy werk begin doen het.
Dié tyd van die nag is Langstraat 'n ander plek
as vanoggend. Al die handelwinkels is nou agter
slot, grendel en alarm. Dis vanaand wat tel,
vandag is verby en môre is fuif ure ver. Die
straat het 'n lewe van sy eie. Die sagte reën
laat dit lyk soos 'n ou man wat in die koue
asemhaal terwyl hy kyk hoe sy kinders speel.
By 'n braai- drom-op-die-straat restaurant koop
iemand 'n Rooti terwyl 'n straatkind in 'n
vreemde man se vreemde motor klim.
"In langstraat waar die cafés nog oop is tot
laat in die angry nag," sing Koos op 'n
kis-boude platespeler. Ek onthou nou die plaat
se naam: Dit was Niemandsland en Beyond.
"Die stad is nie my eie nie, dis 'n nuwe tipe
anger," onthou ek van die ander woorde.
|