|
Herfs is die tyd van die jaar wanneer dit 'n
plesier is om op die Hoëveld se paaie te ry: Dan
is die natuur een groot skilderdoek met die
talle lappe kleurvolle kosmosblomme as
fokuspunt. Vanjaar is dit nóg meer so met die
goeie reën van die afgelope paar maande – ons
het inderdaad jare laas so 'n uitsonderlike
kosmosfees beleef.
Die kosmos se botaniese naam is Cosmos en word
wêreldwyd aangetref. Die tuinkosmos word
Cosmos bipinnatus genoem. Die algemene
kleure is wit, pienk, donkerpienk en perspienk,
maar oranje en rooi is ook beskikbaar op die
mark. Een soort het selfs 'n sjokolade geur!
Hierdie plant is, soos die ou mense altyd gesê
het, 'n dankbare blommetjie. Dit groei in vol
son, is redelik droogtebestand, groei goed in
swak grond (solank dit goed dreineer) en is
siektebestand. Daarom is dit ook ideaal vir
potte in daardie moeilike sonhoekies waar alles
verlep. Saai dit in die lente en jy word in die
herfs beloon met 'n pragtige kleurespel wat
enige tuin sal ophelder.
As 'n mens op die internet gaan rondloer, is dit
verstommend om te sien hoeveel mense deur dié
eenvoudige blommetjie geïnspireer word:
Reisagentskappe, gastehuise, dorpe,
kerkgemeenskappe, marathons en selfs 'n karnaval
is al daarna vernoem, en dit is ook die
inspirasie vir talle gedigte, liedere en
skilderye.
|