Feestelike okkasies reg oor die land
Robertson Slow
Swellendam Canola Karnaval
Hermanus Times Kalfiefees
Mutual & Federal Agri Kierieklapper Kunstefees
Harrismith Berg Bohaai
Montagu Jeugkunstefees
Hantam Vleisfees
Robertson Slow
6 - 9 Augustus
Robertson is een van ons land se bes bewaarde juwele en 'n plek waar jy behoorlik kan uitspan. 29 Wynplase en gastehuise in die streek maak hul deure wyd oop vir 'n voortreflike kos-en-wynervaring tydens hierdie fees.
Jy kan uitsien na tradisionele boerekos – soos waterblommetjiebredie en gebraaide snoek – by die voorste wynmakers in die Robertson-vallei. Wyn is ook 'n fokuspunt van die naweek waar jy die mense agter jou gunstelingwyne kan ontmoet en met hulle oor hul uitsoekprodukte kan gesels. Leer hoe om salami en pasta te maak, ry perd of gaan wandel in die veld. Vat dit stadig en geniet 'n slag die goeie dinge in die lewe sonder om te jaag.
Meer inligting: www.robertsonslow.comTerug na bo
Swellendam Canola Karnaval
6 - 8 Augustus
Hoewel talle topkunstenaars – soos Elizma Theron, Snotkop en Arno Jordaan – by hierdie fees te sien sal wees, val die fokus eerder op buitelugaktiwiteite soos die 4x4-roete, die 21 km-marathon, kwadfietsbane en 'n pretloop.
Besoek die kanola-oliefabriek en 'n kunsgalery op die dorp, smul aan die produkte van die hordes stalletjies of gaan leer meer van hierdie pragtige dorp se geskiedenis by die Drostdy Museum.
Meer inligting: www.canolakarnaval.co.za. Terug na bo
Hermanus Times Kalfiefees
5 - 9 Augustus

Hermanus, bekend as die walviskykhoofstad van die wêreld, verwelkom alle besoekers vir die hope aktiwiteite tydens die langnaweek.
Daar word in elke smaak voorsien, van verhoogproduksies soos Deon Opperman se My Sarie Marais en Seks in die suburbs, musiekproduksies, kunsuitstallings tot boekbesprekings en 'n Vrouedagontbyt.
Meer inligting: www.kalfiefees-hermanus.co.za. Terug na bo
Mutual & Federal Agri Kierieklapper Kunstefees
5 - 9 Augustus

Die mense in die Noorde kan maar makietie hou, daarvan is hierdie fees in Potgietersrus – wat vanjaar vir die tiende keer plaasvind – 'n bewys. Die hoogtepunt op vanjaar se program is Kurt Darren se optrede die Saterdagaand. Ander groot name wat die naweek op die verhoog te sien is, is Die Heuwels Fantasties en Romanz. As teater jou ding is, kan jy na die drama Grootseun gaan kyk met Pierre Breytenbach van Die Casper Rasper Show en die Wimpy-advertensies in die hoofrol. As jy nog kleingoed in die huis het mag hulle nie die Wielie Walie-vertoning misloop nie. Vir die aktiewes is daar 'n gholfdag en 'n pretdraf.
Meer inligting: www.klappertjie.co.za. Terug na bo
Harrismith Berg Bohaai
5 - 8 Augustus

Kunstenaars soos Juanita du Plessis, Eden, Wynand & Chereé en Gerhard Steyn, 'n bergfietsresies en valskermspring is wat jy kan verwag by die negende Harrismith Berg Bohaai.
'n Tekort aan vermaak is daar beslis nie: jy kan selfs 'n mosaïekklas bywoon, jou tuisgemaakte tjor inskryf vir die kaskarwedren, jou hart uitsing tydens die karaoke in die biertent of kyk hoe 'n kulkunstenaar te werk gaan.
Meer inligting: www.bergbohaai.co.za. Terug na bo
Montagu Jeugkunstefees
22 - 28 Augustus
Dit is 'n fees waar dié klein Wes-Kaapsedorp se uitsonderlike jeug vanuit die hoërskool, laerskool en privaat studente uitvoerings in verskillende genres gee. Besoekers kan tydens die fees kunswerke, fotografie en letterkunde-inskrywings by die Montagu Kunsgalery besigtig. Die musiekprogram bestaan uit klassieke solosang, ligte musieksolos en dan is daar ook klavier-, fluit- en kitaarspel. Dit vind alles by die Montagu Museum plaas. Verskeie kore tree ook by Laerskool Montagu op.
Maak jou dramatiese kant wakker en gaan kyk na de toneelopvoerings by Laerskool Montagu waaraan verskeie Wes-Kaapse laerskole en hoërskole deelneem. Verder sorg die gewilde dansprogram vir groot opgewondenheid, want dit bevat elemente van hip-hop, klassieke ballet, kontemporêre dans sowel as skeppende bewegings. Toegangsfooie is deurgaans R25 vir volwassenes en R15 vir skoliere en alle kunsliefhebbers is welkom.
Meer inligting: Lynn-Ann du Preez by 084 568 0533 of montaguyouthfest@gmail.com. Terug na bo
Hantam Vleisfees
27 - 28 Augustus

Calvinia is skaapwêreld en tydens hierdie fees vier die dorp alles wat met hierdie Suid-Afrikaanse stapelvoedsel te doen het. Vanjaar is dit reeds die 21ste keer wat die Vleisfees plaasvind en die hoofdoel is steeds – soos in 1990 toe alles begin het – om die heerlike, geurige skaapvleis van die streek te bevorder. Maak dus reg om jou oor 'n mik te eet.
Vermaak tydens die fees sluit in 'n sterkman-, sweepklap- en skaaptelkompetisie, die Mej Vleisfees-skoonheidskompetisie en skaapskeerdemonstrasies in. En as jy 'n talent vir dans het is die opskop op die Vrydag- en Saterdagaand vir jou.
Meer inligting: www.hantamvleisfees.co.za. Terug na bo
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na joukontrei volgende artikel vorige artikel |

