joukontrei

Beatri Kotzé
deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

Laat ons feesvier!

In September word daar 'n groot fees in elke provinsie aangebied. Kom dus uit die huis, vat die pad en geniet jouself by een van dié talle geleenthede.

Verveeld? Hier is nege feestelike byeenkomstevan die moederstad tot in die verre noorde – wat jou uit jou skoene sal vermaak. Maak nie saak in watter provinsie jy woon nie, ons mooi land bied aan almal iets om te doen!

Wes-Kaap: Kirstenbosch Botanical Art Biennale 2010
Oos-Kaap: Absa Fugard Festival
KwaZulu-Natal: Nguni Classic
Mpumalanga: InniBos Kunstefees
Limpopo: Magoebaskloof Lentefees
Gauteng: Good Food and Wine Show
Noordwes: Aardklop Nasionale Kunstefees
Vrystaat: Vrede Paddadors Rooivleis en Kultuurfees
Noord-Kaap: Kalahari Kuierfees

Wes-Kaap: Kirstenbosch Botanical Art Biennale 2010

Kaapstad, 5 - 24 September
Hierdie kunsuitstalling fokus op werke waarvan die onderwerp daardie skaars en bedreigde plantspesies, wat endemies tot Suidelike Afrika is, is. Die geleentheid, nou in sy tiende jaar, lok jaarliks hordes besoekers na een van ons land se beste besienswaardigehede: Die Kirstenbosch Botaniese Tuine. As die kunsuitstalling nie vir jou is nie, kan jy steeds in die manjifieke tuin rondloop.

Meer inligting: www.sanbi.org.Terug na bo



Oos-Kaap: Absa Fugard Festival

Nieu-Bethesda, 23 - 26 September
Hierdie fees bring eer aan 'n man wat as een van die wêreld se beste dramaturge beskou word. Nieu-Bethesda is seker die bekendste vir Helen Martins se Uilhuis, wat Athol Fugard aan die wêreld bekend gestel het in sy rolprent The road to Mecca. Nege van sy verhoogstukke is ook óf op die dorp geskryf, óf speel daar af. Hoewel Fugard op die buurdorp Middelburg gebore is, kan Nieu-Bethesda as sy spreekwoordelike tuisdorp gesien word. 

Meer inligting: www.fugardfestival.co.za.Terug na bo

KwaZulu-Natal: Nguni Classic

Elandslaagte, 4 - 5 September
Hierdie nuwe bergfietsresies en landloopkompetisie fokus op pret vir die hele gesin. Al neem jy nie aan die aksiebelaaide kompetisies deel nie, kan jy dit steeds geniet terwyl jy saam met die gesin en jou vriende ontspan in die hartjie van die KwaZulu-Natalse slagvelde op een van Suid-Afrika se grootste Nguni-plase. 

Meer inligting: www.nguniclassic.co.za.
Terug na bo





Mpumalanga: InniBos Kunstefees

Nelspruit, 23 - 26 September
Die organiseerders van hierdie jaarlikse fees vertel opgewonde: “Ons is rondbekkig oor die feit dat ons soos altyd die room van Suid-Afrika se kunstenaars hier in die mooie Laeveld saamtrek. Daarby strewe ons om 'n internasionale klankie daarmee saam in te vleg. Aan wie dink jy as jy die volgende titels lees? Chiquitita, Waterloo, Fernando, Knowing me knowing you . . . ”
Ja, dié jaar gaan die Laeveld behoorlik opskop met die vertoning ABBA-Forever.

Meer inligting: www.innibos.co.za.Terug na bo

Limpopo: Magoebaskloof Lentefees

Magoebaskloof, 18 - 26 September
Watter beter plek om die koms van die lente te vier as in die prentjiemooi historiese dorpie Haenertsburg. Dié fees vind by die Magoebaskloof Hotel plaas en jy kan uitsien na kuns en handwerk soos erdewerk, glas, gegote yster, mosaïek en hout; ontwerperklere; dekorartikels en juwele. Daar sal ook demonstrasies en werkswinkels wees. Smul aan organiese kase, ingelegde vrugte, piekels, gebak en droë vrugte. Vir die tuinfoendies is daar 'n asemrowende uitstalling van orgideë.

Meer inligting: Annemarie Brook by 015 276 4828 of haen@telkomsa.net.
Terug na bo


Gauteng: Good Food and Wine Show

Coca-Cola Dome, Johannesburg, 23 - 26 September
Kos en wyn uit die boonste rakke! Kortom is dit waaroor hierdie fees gaan. Ontdek al die nuutste produkte en modeneigings in kos en leefstyl. Leer sjokolade maak saam met chocolatier Dimo Simatos in die Lindt Chocolate Master-klasse of laat die bekende sjef James Martin van BBC Food jou leer om te braai en vele meer.

Meer inligting: www.gourmetsa.com.Terug na bo


Noordwes: Aardklop Nasionale Kunstefees

Potchefstroom, 28 September - 2 Oktober
Aardklop, een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste, is sinoniem met 'n groot verskeidenheid produksies, uitstallings, konserte en vertonings wat ook talle debuutwerke insluit. Kyk dié jaar beslis uit vir Ingrid Winterbach se drama Spyt, en Marlene van Niekerk se literêre kabaret Die kortstondige raklewe van Anastasia W.
jouwêreld het ook dié maand 'n lekker Aardklop-bylae met al die nuutste nuus vanuit Potchefstroom.

Meer inligting: www.aardklop.co.za. Terug na bo




Vrystaat: Vrede Paddadors Rooivleis en Kultuurfees

Vrede, 3 - 4 September
As jy braaf is, kan jy afsit na Vrede in die Vrystaat waar die dorp en sy mense gaan probeer om die Guinness Book of World Records te haal. Kom kyk en proe hoe hulle 'n wêreldrekord aantal brulpaddas op die spit braai en word deel van die besoekers wat aan hierdie delikatesse proe!

Meer inligting: www.vredefees.co.za.Terug na bo



Noord-Kaap: Kalahari Kuierfees

Upington, 23 - 25 September
Hierdie fees, wat in 1992 as die SAD-Rosyntjiefees begin het, lok deesdae sowat 30 000 mense. Al die aksie vind by die hooffeesterrein by die Eiland Vakansieoord, reg langs die Oranjerivier, plaas, maar kos- en vlooimarkstalletjies sal regdeur die dorp aangetref word. Verskeie sportkompetisies, soos onder meer 'n fietsryresies, 'n halfmarathon, 'n pretstap, vlugbal, toutrek- en sterkmankompetisies en 'n swemresies, vorm deel van die program.

Meer inligting: www.kalahari-kuierfees.co.za.Terug na bo



Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?