OUTsurance
joukontrei



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Egoli-sterre skop bal vir minderbevoorregtes

Met die afskop van die Nasionale Kosblikkieprojek is hande gevat met minderbevoorregte kleuters van regoor die land.
Kom ons vat hande met ons kleuters, vra David.

Die Egoli-sterre David Rees (Niek Naudé) en Lindie Strydom (Karin Edwards) het verlede maand Solidariteit Helpende Hand se Nasionale Kosblikkieprojek afgeskop met 'n sokkerdag by ʼn minderbevoorregte kleuterskool in Pretoria. Op dié dag is hande gevat met minderbevoorregte kleuters regoor Suid-Afrika. Verskeie Helpende Hand-takke het aan die bekendstelling van die projek deelgeneem.

In Gauteng het ʼn hele aantal skole aan die projek deelgeneem en kos is by verskeie kleuterskole in die provinsie uitgedeel. In Pretoria is 2 000 blikke voedingsdrankies ter waarde van R160 000, wat deur Navita geborg is, by kleuterskole uitgedeel.
By die Katjiepiering-kleuterskool in Hermanstad het die kinders sokker gespeel in ʼn sokkerhok wat PHD4Jesus aan hulle geskenk het.

Danksy die bydraes wat Helpende Hand-ondersteuners verlede jaar tot die Kosblikkieprojek gemaak het, word 49 ma’s van Danville tans as dagmoeders opgelei, waarna hulle in staat sal wees om hul eie dagsorgsentrums te begin. Oor die volgende drie maande gaan navorsing ook gedoen word oor die milieugestremdheid van kinders in minderbevoorregte kleuterskole, en voedselkoepons sal by minderbevoorregte kleuterskole regoor Suid-Afrika uitgedeel word.

Groepgees saam met David Rees en Lindie Strydom.

Dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, verduidelik die Kosblikkieprojek vorm deel van die groter strategie van opheffing van ons kinders. Helpende Hand het ook kerke, skole en besighede uitgedaag om oor die volgende drie maande hande te vat met mindervoorregte kleuterskole. Volgens Langner is dit belangrik om van kleins af ʼn omgeekultuur by kleuters te kweek.

In Januarie vanjaar het Helpende Hand 4 000 skooltassies met skryfbehoeftes aan behoeftige graad 1’s regoor Suid-Afrika uitgedeel. “Dankie aan elkeen wat steen vir steen help bou aan die toekoms van ons kinders,” sê dr. Langner.
Shaleen Surtie Richards (Nenna in Egoli) is die Kosblikkieprojek se beskermvrou.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?