Edwill van Aarde het Suid-Afrikaners sedert die 1960's voor hul radio-
en TV-stelle vasgenael gehou. Verlede maand het 'n aantal bekende
persoonlikhede sy 70ste verjaarsdagpartytjie saam met hom gevier.
Verskeie radio- en TV-kommentators, sangers, musikante,
verteenwoordigers van platemaatskappye en sport- en kultuurleiers het
verlede maand by die Performerteater in Pretoria bymekaargekom om saam
met Edwill van Aarde sy 70ste verjaarsdag te vier.
Edwill het gedurende sy lang publieke loopbaan veral as radio-omroeper,
TV-aanbieder en sportkommentator sy merk, by uitnemendheid, gemaak.
Anna Davel, Arina de Witt, Carike Keuzenkamp, Jan de Wet, Johan Stemmet,
Manuel Escorcio, Nedine Blom, Rina Hugo, Ronell Erasmus en Steve Hofmeyr
is van die kunstenaars wat tydens die verjaarsdagkonsert opgetree het –
hul optrede was dan ook bedoel om aan hom die nodige morele
ondersteuning vir sy oudag en ernstige siekte waaraan hy ly, te gee. Die
RSG-omroeper, Amore Bekker, het as seremoniemeester opgetree.
Edwill het in die 45 jaar wat hy by die uitsaaiwese in Suid-Afrika
betrokke was, 'n onbetwiste groot bydrae tot die bevordering van
Afrikaans en die Afrikaanse uitsaaiwese gelewer.
Op sportgebied word hy veral onthou vir die meer as 500 krieketwedstryde
waaroor hy kommentaar gelewer het, asook vir die Afrikaanse woorde wat
hy vir Engelse krieketterme geskep het.
Hy was die eerste omroeper wat in Afrikaans TV-kommentaar vanaf Lords,
die kriekethoofkwartier in Brittanje, gelewer het. Hy het verder ook
kommentaar oor 22 ander sportsoorte gelewer, waaronder rugby, boks,
gimnastiek en die Comrades-marathon.
Vir TV het Edwill, oor 'n tydperk van 10 jaar, 173 uitsendings van die
vasvra-program Flinkdink aangebied.
Hy het hom ook op musiekgebied onderskei en het 900 uitsendings van die
destydse radio-program, Afrikaanse Treffers, vanaf 1975 hanteer –
sodoende is 431 kunstenaars se musiek aan die publiek bekendgestel.
Talle latere groot name soos Anneli van Rooyen, Carike Keuzenkamp,
Janita Claassen, Randall Wicomb en Rina Hugo is heel eerste in dié
program gehoor en dit het grootliks tot hul bekendheid, plate- en latere
CD-verkope bygedra.
Edwill van Aarde is oor die jare deur talle organisasies vereer: onder
andere het hy 'n Goue Staanhorlosie van die Verenigde Krieketraad
ontvang met die uitsending van sy 500ste krieket-wedstryd.
Ander toekennings sluit in 'n Artes, Goue Plate deur platemaatskappye en
ATKV-toekennings in 1981 en 2005.
In 2003 het hy 'n toekenning van Steve Hofmeyr, tydens sy vertoning van
Die Nag van die Legendes, ontvang.
Edwill sukkel deesdae met sy gesondheid na 'n motorongeluk jare gelede
waarin hy ernstige nek- en rugbeserings opgedoen het. Hy was vir lank na
dié ongeluk feitlik bedlêend. Alhoewel hy nou weer kan loop, het erge
pyn deel van sy daaglikse bestaan geword.
Edwill en sy vrou bly die afgelope 30 jaar in dieselfde huis in
Krugersdorp.