|
Verskeie radio- en TV-kommentators, sangers,
musikante, verteenwoordigers van
platemaatskappye en sport- en kultuurleiers het
verlede maand by die Performerteater in Pretoria
bymekaargekom om saam met Edwill van Aarde sy
70ste verjaarsdag te vier.
Edwill het gedurende sy lang publieke loopbaan
veral as radio-omroeper, TV-aanbieder en
sportkommentator sy merk, by uitnemendheid,
gemaak.
Anna Davel, Arina de Witt, Carike Keuzenkamp,
Jan de Wet, Johan Stemmet, Manuel Escorcio,
Nedine Blom, Rina Hugo, Ronell Erasmus en Steve
Hofmeyr is van die kunstenaars wat tydens die
verjaarsdagkonsert opgetree het – hul optrede
was dan ook bedoel om aan hom die nodige morele
ondersteuning vir sy oudag en ernstige siekte
waaraan hy ly, te gee. Die RSG-omroeper, Amore
Bekker, het as seremoniemeester opgetree.
Edwill het in die 45 jaar wat hy by die
uitsaaiwese in Suid-Afrika betrokke was, 'n
onbetwiste groot bydrae tot die bevordering van
Afrikaans en die Afrikaanse uitsaaiwese gelewer.
Op sportgebied word hy veral onthou vir die meer
as 500 krieketwedstryde waaroor hy kommentaar
gelewer het, asook vir die Afrikaanse woorde wat
hy vir Engelse krieketterme geskep het.
Hy was die eerste omroeper wat in Afrikaans TV-kommentaar
vanaf Lords, die kriekethoofkwartier in
Brittanje, gelewer het. Hy het verder ook
kommentaar oor 22 ander sportsoorte gelewer,
waaronder rugby, boks, gimnastiek en die
Comrades-marathon.
Vir TV het Edwill, oor 'n tydperk van 10 jaar,
173 uitsendings van die vasvra-program
Flinkdink aangebied.
Hy het hom ook op musiekgebied onderskei en het
900 uitsendings van die destydse radio-program,
Afrikaanse Treffers, vanaf 1975 hanteer –
sodoende is 431 kunstenaars se musiek aan die
publiek bekendgestel.
Talle latere groot name soos Anneli van Rooyen,
Carike Keuzenkamp, Janita Claassen, Randall
Wicomb en Rina Hugo is heel eerste in dié
program gehoor en dit het grootliks tot hul
bekendheid, plate- en latere CD-verkope bygedra.
Edwill van Aarde is oor die jare deur talle
organisasies vereer: onder andere het hy 'n Goue
Staanhorlosie van die Verenigde Krieketraad
ontvang met die uitsending van sy 500ste
krieket-wedstryd.
Ander toekennings sluit in 'n Artes, Goue Plate
deur platemaatskappye en ATKV-toekennings in
1981 en 2005.
In 2003 het hy 'n toekenning van Steve Hofmeyr,
tydens sy vertoning van Die Nag van die
Legendes, ontvang.
Edwill sukkel deesdae met sy gesondheid na 'n
motorongeluk jare gelede waarin hy ernstige nek-
en rugbeserings opgedoen het. Hy was vir lank na
dié ongeluk feitlik bedlêend. Alhoewel hy nou
weer kan loop, het erge pyn deel van sy
daaglikse bestaan geword.
Edwill en sy vrou bly die afgelope 30 jaar in
dieselfde huis in Krugersdorp.
|