|
Dis sonsopkoms. Jy gly 3 000 voet – of ongeveer 1 000 meter – bo die grond op 'n windstroom. Onder jou word die Magaliesriviervallei lui wakker en al geluid wat jy nou en dan hoor is dié van die gasbrander wat oopgedraai word om jou veilig in die lug te hou.
Jy wens jy kan die oomblik vir ewig laat aanhou – daarbo in die lug in een van Bill Harrop's "Original" Balloon Safaris se lugballonne kry jy 'n ander, duideliker, perspektief op die lewe.
Bill Harrop – hy is die een met die baard, tartan-keps op die kop en serpie om die nek – het sy onderneming in 1981 begin, tóé bekend as Balloon Safaris South Africa.
Die besluit om die naam in 1992 te verander, was om 'n werklike oorspronklike identiteit te behou. Dit wás immers Harrop se idee. Hy was 'n pionier op dié gebied, met baie ander wat ná hom sou volg.
Vandag, 27 jaar later, word die ballonne op die onderneming se eie eiendom in die Magaliesriviervallei gelanseer en word gaste voor die rit op koffie, tee en warm sjokolade getrakteer. En ja, ná die tyd kry jy sjampanje en ontbyt – héérlik!
Jy het dalk die idee van 'n verslete rottangmandjie met 'n ou ballon wat aan toue bo dit oppof: Maar dis alles behalwe wat jy kry. Met vyf veiligheidstoekennings van die Suid-Afrikaanse Lugvaart Veiligheidsraad op die onderneming se kerfstok, is jy baie veilig. Dít beteken die toerusting en kapteins (oftewel die mense wat die lugballonne in die lug hou) voldoen aan al die professionele standaarde.
In die tweede plek word jy soos 'n ware celeb hanteer om die ervaring vir jou nog onvergeetliker te maak.
In die materiaal-en-leer uitgevoerde mandjie voel jy veerlig wanneer die warmlugballon sagkens oplig en al hoe hoër styg. Op, op en daar gaan julle. Almal en alles word vir eers klein en die wêreld word al hoe mooier.
Só 'n vlug duur tot 'n uur, afhangende van die weerstoestande. Voor opstyging word die passasiers eers geleer hoe om 'n rowwe landing te hanteer, maar dit gebeur maar min.
'n Mens weet nooit vooraf waar die ballon gaan land nie: Jy gaan maar waar die wind jou neem. Die vlieënier is voortdurend in kontak met die grondpersoneel wat gereed staan om die gaste met 'n bussie te gaan haal, waar hulle ook sou land.
In die meeste gevalle land die ballon so saggies soos dit opstyg, maar luister maar goed na daardie veiligheidsinstruksies, want 'n mens weet nooit hoe die wind mag draai nie . . .
Die meeste vlugte vind plaas vanaf Bill Harrop's "Original" Balloon Safaris se grond in die Magaliesriviervallei, 70 km noord van Johannesburg, op die drumpel van die Hartbeespoortdam.
Daar is elke dag van die week, baie vroeg in die oggend, vlugte. Natuurlik moet die weer saamspeel, anders word vlugte geherskeduleer of jy kry jou geld terug. Hoekom so vroeg? Die lug is dan stabiel met baie ligte oppervlakwinde.
Hulle doen ook vlugte oor die Mabula Private Wildreservaat naby Warmbad, terwyl spesiale vlugte op versoek gereël kan word.
 |
 |
| Dis sonsopkoms en al geluid wat jy nou en dan hoor is dié van die gasbrander wat oopgedraai word om jou veilig die lug in te neem. |
Die warmlugballon kan van een millimeter (regtig!) tot een kilometer (3 000 voet) bo die aarde vlieg. |
|