|
My ma is ook my hartsvriendin |
Die sopraan Zanne Stapelberg gesels openlik oor die rol wat haar ma in haar lewe speel.
Sy is nie net haar ma nie, maar ook haar raadgewer, haar vertroueling en haar beste vriendin. So beskryf die bekroonde Suid-Afrikaanse sopraan, Zanne Stapelberg (32), die verhouding tussen haar en haar ma, Heleen (57).
Ma en dogter is verlede jaar genader om tydens 'n moedersdag-ontbyt by 'n Kaapse ouetehuis oor hul verhouding te praat. Terwyl die twee besig was met die skryf van die toespraak, het hulle baie gesels oor die verhouding tussen 'n ouer en 'n kind, en dan spesifiek die tussen ma’s en dogters.
Met haar eie kroos oppad, het die swanger Zanne al hoe meer begin wonder oor die rol van 'n ouer in 'n kind se lewe.
“Ek het skielik net besef hoe oneindig baie my eie ouers vir my doen – die vlak van aandag, liefde en opoffering is eenvoudig oorweldigend!” verduidelik sy die emosies wat toe deur haar geskiet het.
En daar vra Heleen so wrintiewaar vir Zanne of sy dink dat sy vir haar en haar broer 'n goeie ma is. En as daar dinge is wat sy ooit verkeerd gedoen het, of Zanne dit vir haar sal sê.
Zanne was stom geslaan oor die vraag – eintlik hartseer, erken sy nou.
“Want hoe verduidelik 'n mens in woorde vir jou ma hoe wonderlik sy is? Dat jy álles wat sy elke jaar, elke maand, elke week en elke dag vir jou doen, raaksien en dit ongelooflik baie waardeer?”
Dan begin Zanne die lysie afrits: Van die pers satyn skeppings met lang krale wat Heleen vir haar uitspattige dogter gemaak het, tot die hulp met debattoesprake. Die vashou en troos wanneer sy siek was, elke konsert wat sy bygewoon en tot die laaste noot met haar in haar gedagtes saam gesing het.
“Dit is haar belangstelling in my hele lewe, in my loopbaan, en dit wat in my kop aangaan, wat vir my so baie beteken,” som Zanne dit op.
Al wat Zanne toe kon antwoord, was om uit te roep “Ja, ja, ja! Jy is 'n goeie ma! En as daar dinge is wat jy nou dink jy verkeerd gedoen het, weet ek dit is oor jy toe gedink het dis die beste vir my op daardie stadium!”
En toe huil die twee vroue beide sommer sulke lekker lang trane. En daarna lag hulle uitbundig omdat hulle tog so lekker saam kan huil! Eers na dié sessie kon hulle hul toespraak klaar skryf.
“Ek besef sy is nie net my ma nie, maar ook 'n individuele vrou met haar eie passies, drome en belangstellings waaraan sy self tyd moet spandeer,” gesels Zanne oor Heleen.
Omdat die twee so baie gesels – hulle bel mekaar tot twee keer per dag – kry hulle tyd om nie net oor die alledaagse te praat nie, maar ook oor hartsake.
“Ek dink omdat ons so gemaklik met mekaar is, kan ons mekaar op 'n natuurlike wyse ondersteun. As daar iets is wat my pla of ontstel, tel ek net die telefoon op en vra my ma se raad.”
Heleen doen ook dieselfde as iets haar weer pla. Selfs wanneer Zanne oorsee is, gesels die twee gereeld.
“Al jaag dit die selfoonrekening op!” lag sy.
Na Alexander se geboorte en noudat Zanne ook 'n ma is, kan sy verstaan waarom dit hulle soms langer neem om by Heleen se kwelpunte uit te kom – want Heleen is altyd so besorg oor Zanne dat sy haarself in die agtergrond plaas.
Die mooiste ding wat haar ma al ooit vir haar gedoen het, was om haar en manlief Jomar se troue te reël, spog Zanne.
“Sy het 'n hele jaar lank aan 'n produksie-der-produksie gewerk: Dit was 'n skouspelagtige en 'n toweragtige troue!”
Die onthaal was in die vorm van 'n kabaret, en die bruilofgangers het saam met die huwelikspaartjie so heerlik konsert gehou dat hulle eers na middernag by die nagereg uitgekom het.
Dit was, behalwe vir die geboorte van hul seun, die mees besonderse dag in die twee pasgetroudes se lewe.
Heleen vertel nog gereeld aan Zanne dat sy haar wonderwerk-kind is – en van niemand af is daardie woorde meer betekenisvol as van jou eie ma af nie, voel Zanne.
“As sy dit sê, móét jy dit mos glo! Sy het 'n onwrikbare geloof in my as mens – nie net in my as sanger nie. En dit maak dat ek vandag nog die lewe met oop arms en selfvertroue kan verwelkom. Dit bly vir my ongelooflik hoe 'n mens, maak nie saak hoe oud jy is nie, maar net altyd jou ma se kind bly.”
Die grootste les wat Zanne by haar ma geleer het, is dat elkeen hul eie toekoms bepaal. Ook dat 'n positiewe ingesteldheid 'n resep vir sukses is. En dat 'n mens nooit mag ophou stories lees nie.
Daarom hou Zanne haarself tot vandag toe nog besig met make believe op die opera-verhoog.
|