OUTsurance
jouhoofstories

deur jouwêreld-redaksie



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Waar is my kind se hande?

Dit is vier maande na die gru-moord op Anika Smit wie se hande wreedaardig tydens die moord afgekap is. Maar steeds kry haar ouers nie berusting nie, vertel hulle.









Die vermoorde Anika Smith se vriende onthou haar as ‘n aantreklike meisie.

Die skraal vroutjie stap ingedagte oor die stil strand buite Mosselbaai, maar in haar gemoed woel dit. As hulle maar net haar kind se hande kan kry, worstel Charlotte Eksteen (51) met haar gedagtes. Dan sal sy miskien berusting kry. Maar die kanse daarvoor is maar skraal, lyk dit nou.
Want dit is reeds vier maande later na daardie skokdag op 10 Maart toe Anika Smit (18) se pa, Johan Smit (54), na werk op sy dogter se naakte lyk in hul huis in Theresapark, in die noorde van Pretoria, afgekom het.
Haar hande was afgekap en het spoorloos saam met die moordenaar verdwyn.
In Mei-maand is een van haar vriende, Nico Venter (22), vir die moord in hegtenis geneem. Hy is tans uit op borgtog terwyl die speurders die saak verder ondersoek.
Daardie dag moes Charlotte, wat in Mosselbaai woon, in die oggendkoerant sien hoe lyk die jong man wat vir die moord op haar jongste dogter aangekeer is.
“Dit was erg,” vertel Charlotte. “Om só na die foto te kyk en te weet: dít is die man wat moontlik jou kind vermoor het. Dit is nie 'n lekker gevoel nie.”

Intussen gaan stap Charlotte nog elke dag op die strand. Op haar eie. Net om afstand in haar kop oor die gebeure te kry. “Die see bring darem bietjie rustigheid, maar dit help eintlik nie veel nie,” sê sy. Want die grusame omstandighede waaronder haar dogter vermoor is, kry sy steeds nie verwerk nie.
“Hoekom moes hy haar hande afkap? Hoekom, hoekom?” vra sy.
Anika se lyk is veras. Indien die speurders wel haar hande opspoor, wil Charlotte dit ook veras en saam met die res van die as in die flessie plaas.
“Miskien sal ek dan berusting vind. Eers wanneer al Anika se ledemate weer bymekaar is. Miskien dan.”
Maar dit is nou vier maande na die moord, en die kanse is baie skraal dat dit wel sal gebeur.
Sy is bly dat daar darem iemand vir die moord gearresteer is, sê Charlotte. Want nou hoef sy nie meer te wonder wie dit was nie. “Dit is al die vrae wat in jou kop bly maal wat 'n mens klaarmaak. Die heeltyd wonder jy: Wie was dit?” verduidelik sy haar emosies van toe. “Maar nou dat 'n mens weet, nou gaan dit darem al 'n bietjie beter. Dit is net haar hande wat my bly pla.”

Met Anika se pa gaan dit ook nie veel beter nie. “Ek sukkel maar. Elke middag as ek by die huis kom, onthou ek daardie dag toe ek Anika in die helse plas bloed in haar kamer gekry het,” vertel hy. “Ek kry dit nie uit my kop nie. Party mense sê ek moet 'n sielkundige gaan sien, maar wat gaan dit help? Daardie prentjie gaan in my kop bly.”
Dan is daar die mense wat sê hy moet sy huis verkoop; dat hy nie langer in die moordhuis moet aanbly nie.
Maar hy weet nie wat hy moet doen nie, sê hy.
“Ek raak soms depressief, maar 'n mens moet maar aangaan. Party dae is makliker as ander. Ander kere is dit weer moeiliker.
Oor die polisie-ondersoek wat steeds aan die gang is, wil hy hom nie uitlaat nie, ook nie oor die borgtog wat Nico Venter gekry het nie. “Ek kan nie sê dat ek dink hy is wel skuldig of onskuldig nie. Ons moet nou maar net wag en kyk wat gebeur.”
Ook Charlotte wil nie veel kommentaar gee op Nico se borgtog nie. “Miskien is dit 'n goeie ding; miskien nie. Ek het nie nou tyd om daaroor te dink nie. Ek sukkel nog om die stukkies van my lewe op te tel.”

En dan is daar die ding oor die vermiste hande wat sy ook nog moet verwerk.

Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?