OUTsurance



Like to hear?
How about in 10 years? Noise is a leading cause of hearing loss. Time for protection. Click Here
jouhoofstories

deur die jouwêreld-redaksie



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Kan jou ore dit hou?

Die lawaai van die vuvuzela was voor 2010 nog onbekend aan die res van die wêreld, maar nou tas dit die gehoor van die hele planeet aan.

Die groot opwinding met die opbou na die 2010-Sokkerwêreldbekertoernooi was sinoniem met die klank van die vuvuzela. Lank voor die tyd het straatverkopers reeds dié plastiek lawaaimaker op straathoeke verkoop, en met die groot sokkerparade deur die strate van Johannesburg voor die afskop het die oorverdowende gezoem almal onhoorbaar gemaak. Maar dit het ook die gees aangewakker, is daar gesê.
Mense is dadelik in twee kampe verdeel: daar was die pro- en die anti-vuvuzelamense, met die pro-groep wat die meeste ondersteuners gehad het. Maar stelselmatig het dit verander: Die een na die ander waarskuwing is uitgereik oor die gevaar daarvan, terwyl al hoe meer sokkermense geïriteerd daarmee geraak het as hulle die wedstryde wou geniet.

Pasop vir jou ore

Blootstelling aan die aanhoudende geraas van die vuvuzela, wat soos 'n reuse swerm bye klink, is gevaarlik vir die menslike gehoor, waarsku wetenskaplikes. 
Die gehoortoestelvervaardiger Phonak sê in 'n verklaring permanente en direkte blootstelling aan die geraas van 'n vuvuzela kan binne 15 minute onherstelbare gehoorskade veroorsaak. Volgens toetse wat hulle gedoen het is die vuvuzela-lawaai op 127 desibels (dB) veel gevaarliker as die van 'n kettingsaag wat 100 dB uitpomp.
Wanneer die mens oor 'n lang tydperk daaraan blootgestel word, kan gehoorskade reeds opgedoen word op lawaaivlakke vanaf 85 dB.
Wat belangrik is om in gedagte te hou wanneer met klank gewerk word, verduidelik hulle, is hoe ver die klankbron van die menslike oor is. Hoe nader, hoe gevaarliker. In die geval van 'n vuvuzela wat iemand direk agter jou oor blaas, kan dit groot skade aan die buitenste haarselle van die binne-oor aanrig.

Talle webwerwe, soos byvoorbeeld die reiswerf Tripadvisor.com, het sokkergeesdriftiges van regoor die wêreld vooraf gewaarsku dat hulle oorpluisies sal moet dra indien hulle steeds 100 persent horend na afloop van die toernooi na hul lande wou teruggaan.
Navorsing wat gesamentlik deur die Universiteit van Pretoria en die van Florida (Amerika) gedoen is, het ook bevind daar was beduidende gehoorverlies by sokker-ondersteuners direk na 'n wedstryd. Die hele verslag is in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer en het wêreldwyd groot opspraak verwek. Veral omdat die vuvuzela-geraas as ver bo internasionaal aanvaarbare standaarde beskryf is.

Maak stil die lawaai

Alhoewel oorsese sokkerspelers voor die tyd baie opgewonde oor die tradisionele Afrika-lawaaimaker was, het hulle vinnig van deuntjie verander.
So het die Argentynse speler Lionel Messi na hul eerste wedstryd gesê die lawaai het hom laat voel asof hy doof is. Die Franse kaptein, Patrice Evra, het “die muur van geraas” blameer vir sy span se swak vertoning teen Uruguay. Hulle kon mekaar nie op die veld hoor nie, en kon ook nie saans slaap nie, kla hy.

Christiano Ronaldo, doelskieter van Portugal, stem saam en het ook gesê met die geraas was dit moeilik om te konsentreer. 
Mnr. Robert Beiny, Brittanje en Europa se oudioloog van die jaar, se vooraf-advies was om jou oor 'n ruskansie te gee. Stap gereeld weg van die lawaai, en beskerm jou ore met oorpluisies, het hy gesê.

Maar dit het die meeste Europese sokkergeesdriftiges aanvanklik min geskeel. In Duitsland alleen is daar vyf miljoen vuvuzela’s – of toeters, soos die plastiekbeuel in Europa genoem word – voor die sokker-afskop vervaardig. Selfs 'n vuvuzela-luitoon het sy kop daar uitgesteek. Aan die begin van die toernooi is die vuvuzela regoor Europa gehoor waar ondersteuners saamgetrek het om die wedstryde op TV te volg. Maar kort voor lank het hulle ook geïrriteerd daarmee geraak. Dit was eers die Nederlandse Omroepstigting en daarna die BBC wat met spesiale tegnologie die agtergrondlawaai in stadions tydens uitsendings moes verminder. Dit is gedoen nadat TV-stasies oorval is met klagtes deur kykers dat hulle nie die skeidregters op die veld kon hoor nie.

Die Britte kon nooit vatplek aan die vuvuzela kry nie: “ons hou nie van sulke ongemanierdhede nie,” het 'n Britse radio-omroeper gesê na hy die publiek se gevoel daaroor getoets het.
Die instrument is onmiddellik op Wimbledon, waar die wêreld se gewildste tennistoernooi verlede maand begin het, verbied.
Associated Press (AP) se internasionale sportrubriekskrywer, John Leicester, sê “die toonlose en goedkoop plastiektrompette het die WB-2010 atmosfeer bederf”.

'n Nederlandse-besoeker, Sytze van der ZeeAmstelveen, het die irritasie wat anti-vuvuzela-mense het, so saamgevat in 'n brief aan 'n Afrikaase dagkoerant: “Wat voor een sokkerliefhebber eens in de vier jaar een van de grootste sportgebeurtenissen is, het Wêreldbeker-toernooi, verdrinkt in een kakofonie van afgrijselijk Zuid-Afrikaans lawaai.”

Wat is jou mening oor die vuvuzela?

Blaas jy lekker saam of dink jy dié blaaspyp moet verbrand word?
Kom laat jou stem hoor, en kyk hoe voel die ander lesers!
Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?