|
Tobi Jooste is nie net 'n uitstekende sanger nie: hy is ook 'n model, grafiese ontwerper, skrywer, entrepreneur en TV-aanbieder – maar sy grootste passie is bejaardes.
“Liefdadigheidswerk is vir my 'n konstante missie,” verduidelik die 27-jarige Tobi wat bekend is vir sy pragtige musiek in die Patrizio Buanne-styl, asook as aanbieder van die TV-program Reik na die Sterre op kykNET. Vir hierdie uiters aantreklike jongman is senior burgers 'n passie. Hy vertel hul sin vir humor en wysheid is vir hom 'n inspirasie.
“Ek leer ongelooflik baie by oumense en ek vind bevrediging daaruit om vir hulle op te tree.”
Tobi meen die lewe gaan oor dit wat jy vir ander kan gee, daarom is hy veral trots om 'n ambassadeur vir Ons Huis in Pretoria, 'n versorgingsoord en aktiwiteitsentrum vir verstandelik gestremde volwassenes, te wees.
Hy gee regtig om vir bejaardes en almal wat al by een van sy vertonings was, kan daarvan getuig. Hy bring soms ure saam met sy bewonderaars deur om met elkeen 'n woordjie te wissel.
“Ek dink in my kop is ek 60, daarom connect ek so goed met ouer mense.”
Kunstenaars besef nie die mag wat hulle het nie. Ek glo die verhoog is verhewe. En musiek het die mag om mense se lewens te verander.”
Die gehore by sy vertonings slurp elke noot van sy volronde stem en beweging van sy welgeklede lyf op. Hy dra immers nét ontwerperspakke van die bekende ontwerper Peter Bondesio op die verhoog. En hy is bekend vir sy vertolkings van ou treffers, soos dié van Frank Sinatra, Dean Martin en Don Mclean.
“Ek wil as die gentleman van klassieke musiek gesien word,” verduidelik hy.
Tobi was eenkeer saam met sy ouma by 'n konsert toe sy opmerk: “Die meisie sing só mooi, maar hier stap sy dan sommer met 'n broek op die verhoog!”
Net daar het hy besluit hy wil nie meer met afmouhempies en stywe broeke op die verhoog ronddans nie.
“Ek kan nog doef-doef-musiek maak, maar ek wil nie. 'n Mens moet nooit compromise nie. Ek wil nie kunstenaars wat daardie soort musiek maak kritiseer nie, maar daar is te veel daarvan.”
Die musiek op sy nuwe CD Amore wat dié maand tydens 'n spoggeleentheid in die Silverstar Casino, wes van Johannesburg, bekend gestel is, spreek van 'n vervloë era. Daar is styl, charisma en 'n atmosfeer van romanse. Tobi vertel met hierdie nuwe projek het hy die meesterlike kennis van Christa Steyn ingeroep. Trouens, om met haar te kan saamwerk was sy enigste voorwaarde voor hy sy huidige platekontrak beklink het. Die idee was om klassieke romantiese liedjies met 'n simfonie-orkes-klank te vermeng. Die Akustika-koor, wat uit 36 Tukkies-studente bestaan, tree ook op die CD op: Die resultaat gaan gehore besiel en op 'n euforiese herinneringstog plaas. Dié groep het in 2008 die Pavarotti-trofee vir “Choir of the World” gewen tydens die Llangollen eisteddfod in Wallis.
 |
 |
| Tobi herinner aan die minnesangers van die jare vyftig met sy stylvolle klere en smeulende voorkoms. Hy bieg hy sou graag in daardie tyd wou leef. |
As boerseun van die Karoo moes hy ekstra hard werk om sukses te behaal, want “in die platteland is daar net minder geleenthede as in die stad”. Tog hunker hy soms terug na die stilte van die plaas. |
Drome word waar
Tobi se lewensleuse is: As jy nie weet wat jy uit die lewe wil hê nie, moet jy nie kla oor wat die lewe vir jou gee nie. Hy glo ook dit help nie om net te droom nie. Vir drome om waar te word, moet hulle 'n sperdatum hê.
“Drome kom met 'n plan. Ek het 'n groot bord in my huis waarteen ek foto’s en prente plak van wat ek in die lewe wil hê en ek beplan elke dag hoe ek dit gaan bereik.”
Om self te droom is vir hom belangrik; dit hou hom gemotiveerd. Tog streef hy ook om sy gehoor te inspireer. “Ek probeer altyd in my vertonings om iets positiefs oor drome oor te dra; net om vir die mense 'n bietjie hoop te gee.”
Sy lirieke versterk ook hierdie idee: wanneer jy hartseer voel, kan jy maar net na sy musiek luister om weer beter te kan voel!
Vanjaar is een van Tobi se eie drome bewaarheid toe hy die eer gehad het om menige kind se held, oom Gert van Tonder van Wielie-Walie, op sy TV-program Reik na die Sterre te hê – 'n program wat hy self gekonseptualiseer en gefinansier het.
“Ek onthou hoe ek as klein seuntjie voor die TV gesit en gedink het ek wil ook eendag 'n TV-aanbieder soos oom Gert wees. Twintig jaar later sing oom Gert toe op mý show. Dit was vir my 'n groot oomblik.”
Agter hierdie droom, en die vele ander wat waar geword het, lê jare se harde werk. In sý skoot val niks. En hy werk volstoom voort. In die toekoms wil hy nog 'n boek uitgee. Op sy eie, want dis hoe hy alles doen. Nog 'n TV-reeks op die kassie kry, hope vertonings by ouetehuise doen, verder betrokke raak by liefdadigheid en vele meer.
jougeskenke
3 lesers kan elk 'n Tobi Jooste-geskenkpak, bestaande uit sy nuutste CD Amore en 'n eksemplaar van sy boek InLuister wen.
SMS die woorde JW TOBI, tesame met jou naam en e-posadres,
aan 36545 voor 31 Maart 2010.
Lees ook die kompetisiereëls hier.
|