|
Die atmosfeer op die ontbytstoep van die Lost
Palace by Sun City is vrolik. Die opgewonde
afwagting in die lug was byna tasbaar: die Mej.
Suid-Afrika-kroningsplegtigheid sou tog binne
ure begin.
Hulle was almal verlede maand daar: die wie's
wie van Suid-Afrika – kunstenaars, glanspersone,
die hoofstroommedia, vooraanstaande sakelui.
Almal uitsoekgaste van die Mej. SA-organiseerders.
Aan die een tafel nuttig Esmaré Weideman,
redakteur van Huisgenoot, You en Drum,
saam met vriende en kollegas ontbyt.
'n Paar tafels verder sit Steve Hofmeyr. Voor
hom sy ontbyt en 'n koppie tee. Hy het dié aand
saam met die Belgiese sangeres, Dana Winner, by
die kroningsplegtigheid opgetree.
Steve se selfoon lui. Dit is sy vrou, Natasha,
wat onlangs hul huis verlaat het. Sy seun,
Sebastian, huil want hy mis sy pa.
Steve verduidelik aan hom "but I'll come fetch
you. In four days' time."
Maar dit is nie goed genoeg vir die kleine
Sebastian nie. "I want to come and play at your
house – now," sê hy.
Dié woorde ruk vir Steve.
"Your house, my house. Myne leeg. Sonder 'n
kersboom," onthou hy die emosies wat deur hom
gewoed het daar op die ontbytstoep.
Toe skakel hy sy selfoon af, staan op, vat sy
koppie tee en stap oor na die Huisgenoot-tafel.
"Môre Esmaré," het hy haar gegroet.
Toe gooi hy die koppie tee in haar gesig, en
stap weg.
Die vetes tussen Steve Hofmeyr en verskeie van
die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia, onder
andere Huisgenoot en Rapport, kom nou al 'n
langpad. Steve voel dit is dié publikasies se
skuld dat hy dié jaar sonder sy gesin Kersdag
sal moet deurbring.
Esmaré het na die tee-voorval aan 'n
Beeld-verslaggewer gesê sy hoop van harte dat
Steve sielkundige hulp vir sy emosionele
probleme en aggressie sal kry.
"Ek het beslis sielkundige probleme," reageer
Steve hierop. "Ek is te lankmoedig. Te fokken
nice. Dit moes, in plaas van koue tee, warm teer
wees. Maar die tee-opsie is waarmee Sun
International my gelos het. Rooibostee."
Esmaré sê dat Steve se beskuldigings teenoor die
media dat dit húlle skuld is dat sy vrou hul
huis verlaat het, "bisar en misplaas" is.
Volgens haar wil hy nie verantwoordelikheid vir
sy dade aanvaar nie – verwysend na sy verhouding
met die fiksheidsinstruktrise Janine van der
Vyver. Janine het aan die begin van verlede jaar
in 'n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot oop
kaarte gespeel oor haar en Steve se
tienjaar-lange verhouding. Dié verhouding het
begin sowat 'n jaar voordat hy met Natasha
Sutherland sou trou.
Janine het in detail vertel hoe hulle in
hotelkamers ontmoet het, hoe sy hom op sommige
van sy toere vergesel het, van liefdesbriewe en
sms'e wat hy vir haar gestuur het en van
finansiële ondersteuning wat hy haar sou belowe
het.
Dit was die laaste strooi vir Natasha, en sy het
verlede jaar uit haar en Steve se huis in
Midrand getrek.
Hy het daarna aan die media gesê dat hy volle
verantwoordelikheid aanvaar vir die
ineenstorting van hul huwelik.
Na die nou berugte tee-voorval, het Esmaré
bevestig dat Huisgenoot geen vendetta teen Steve
het nie, en dat die tydskrif bloot verslag doen
oor 'n bekende persoon se doen en late.
Maar die verbrokkeling van sy huwelik is vir hom
swaar, sê hy – en hy vergewe nie dié wat hy dink
daarin 'n rol gespeel het nie.
Op sy webwerf skryf Steve: "My gesin is weg
omdat niemand so hoef te lewe nie, Weideman, jou
wurm. Moet my nie verwar met Liewe Jesus nie. Ek
vergewe nie."
Hy verduidelik verder: "Ek het nog nooit
Huisgenoot blameer vir my sondes nie. Maar ek
blameer die media vir die moeite wat hulle doen
om my gesig op hul voorblaaie te kry. Hoe hulle
kennisse geld aanbied, hoe ver hulle vlieg, hoe
hulle mense afpers, die fotograwe by my hek, die
fooitjie aan my huishulp vir inside information,
die leuens wat hulle opdis – hoedat my pyn hulle
inkomste is, en dat privaat lewens se pyn, vir
hulle, bloot 'n bemarkbare kommoditeit is."
Esmaré het te kenne gegee dat dit haar plig
teenoor joernalistiek, Huisgenoot en vroue is om
regstappe teen Steve te doen: "Hy mag nie
toegelaat word om hiermee weg te kom nie."
Die dagkoerant Beeld het berig dat sy gesê het
Huisgenoot moet "standpunt inneem teenoor enige
vorm van geweld en liggaamlike en verbale
mishandeling van vroue, en ook omdat ek voel ek
het 'n plig teenoor die joernalistiek om
standpunt in te neem teenoor die boelie-agtige
optrede teenoor joernaliste."
Steve het verlede jaar tydens verskeie
geleenthede gesê dat hy nog altyd baie lief vir
Natasha was, en dat hy lief vir haar sal bly. Hy
het dit ook in sy boek, Mense van my asem,
wat in Oktober verlede jaar verskyn het,
bevestig.
In dié boek verskyn ook 'n gebed wat hy verlede
jaar vanuit sy hospitaalbed, toe hy nog kritiek
siek was en aan die moontlikheid gedink het dat
hy sou sterf, geskryf het: "Liewe Heer, as U dit
in U hart kan vind om vir my vrou 'n beter man
te stuur (net nie nou nie) wat vir haar mooi
rose pluk, belowe ek om ekstra tuinwerk te doen
daarbo."
|