Eks-predikantsvrou skok met lelie-praatjies
'n Afgetrede operasangeres, NG-predikantsvrou en ma van twee volwasse kinders neem nou die land op horings. Soms letterlik. Want Tannie Kotie (68) gee vanaf verhoë, by oggendtee’s en tydens spanboupraatjies advies oor dáárdie gedeelte van 'n vrou se liggaam waarvan mense gewoonlik liefs maar wegskram.
En sy noem hom op die naam: vagina, sê sy terwyl die gehoor senuagtig giggel.
“Maar hoekom kan 'n mens hom dan nie op sy naampie noem nie?” wil sy verontwaardig weet. Haar grys kapsel netjies in plek, soos dit 'n gerespekteerde dame betaam. “Ons praat dan van ons ore, ons neus, ons hande. Hoekom dan nie van ons vaginas nie?”
Tannie Kotie het vyf jaar gelede 'n artikel in die tydskrif Sarie gelees: Jou gids tot 'n gelukkige vagina.
“Toe besef ek daar is baie vroue daar buite wat wil weet, maar wat net te skaam is om te vra, verstaan jy? Jy weet, hulle is eenvoudig net te ongemaklik om daaroor te praat, raad te vra of hul ervarings met ander vroue te deel.”
Sedertdien het sy dit op haar geneem om vroue meer in te lig oor dáárdie gedeelte van die lyf waaroor niemand wil praat nie. Nadat sy verlede jaar reeds kultusstatus in Potchefstroom bereik het, is Tannie Kotie nou landswyd in aanvraag vir haar optredes.
Sonder skroom vertel sy dan vir vroue: Jy moet weet hoe hy lyk, gebruik 'n spieël en goeie beligting, is haar advies. “Dan moet jy vir hom 'n naampie gee, hom mooi skoon hou en gereeld vertroetel. Ja julle, elke dame moet 'n persoonlike verhouding met haar vagina hê!”
Ook mediese advies bly nie agterweë nie:vrouedinge soos die menopouse en kosmetiese chirurgie soos labiaplastie word bespreek, asook die keuses tussen waks en skeer.
Maar sy adviseer nie net nie, want sy glo in afwisseling, vertel sy. Daarom trakteer sy haar gehoor ook met 'n hele paar sangnommertjies, want sy staan immers as die liefling van Suid-Afrikaanse opera bekend.
Dan vertel sy met heimwee van daardie dae toe sy nog saam met die befaamde Mimi Coetzer in die Weense Operahuis gesing het. Na hul vertonings het hulle reg deur die nag gekuier en dit was juis tydens hiérdie geselsies, “na 'n botteljie wyn, natuurlik”, dat hulle oor hul diepste vrouwees-dinge met mekaar gesels en aan mekaar raad gegee het.
“Ja julle, dit was die goeie ou tye gewees daardie!”
Maar toe kom sy terug Suid-Afrika toe en gaan vir die oudisie vir die vroulike hoofrol in die destydse musiekrolprent, Hoor my lied. 'n Rol wat sy nie gekry het nie, en daaroor is sy tot vandag nog bitter.
“Ja, en soos almal weet was dit toe daardie Min Talent Shaw wat saam met Gé gegil het!”
Haar man Jac, in lewe die predikant van die NG-Moedergemeente in Stellenbosch, het in Junie 2000 tragies gesterf toe hy op die kansel 'n hartaanval gekry het. Sy onthou hoe hy rooi in die gesig geword en sy das losgeknoop het. 'n Diaken wou nog vir hom 'n glas water neem, maar toe tuimel hy van die kansel af reg in die doopsvond in.
“Ek sit toe nog daar en ek dink, maar my magtag Jac, kan jy dan nou wragtie só dors staan en wees!”
Sedertdien sing sy gereeld vir hom Andrew Lloyd Webber se Memories tydens haar vertonings.
Sy vat 'n slukkie tee. “Verstaan jy?”
Sy wil vroue bevry, verduidelik sy: “Jy het vir jare gesit op dieselfde perskepit, boek gelees en gebrei, maar dames, vandag is jy vry,” sing sy vir hulle.
En: “Tussen jou dye lê 'n skatkis, bêre hom vir 'n spesiale geleentheid en 'n spesiale heer.”
Haar rooi mondjie trek op 'n plooi: “Daarsy julle!”
Die afgelope jaar het Tannie Kotie behoorlik die land aan die gons terwyl mense terselfdertyd wonder wie sy werklik is.
Vroeër dié jaar was daar selfs 'n openbare debat in Bloemfontein na afloop van een van haar optredes gewees: of sy werklik 'n vrou is, en nie dalk 'n man in vroueklere nie.
“Nee, met al die kennis wat sy van vrouedinge weet, moet sy beslis 'n vrou wees,” het 'n vrou toe baie selfversekerd verklaar.

Hy het baie navorsing vir sy teks gedoen, vertel Pierre le Grange, skepper van Tannie Kotie.

Maar agter Tannie Kotie se elegante uitrustings en grys kapsel skuil daar inderdaad 'n man: Pierre le Grange (27), 'n honneursmusiekstudent van die Noordwes Universiteit, stel hy homself na een van sy optredes in die Centurion-teater aan jouwêreld bekend.
En nee, hy is nie 'n drag queen nie, sê hy beslis. “Tannie Kotie is maar net een van die karakters wat ek vertolk. Sy is maar net een van die vele fasette van dit wat ek as kunstenaar alles doen.”
Die idee om 'n Tannie Kotie te skep, het inderdaad sy oorsprong aan daardie destydse Sarie-artikel te danke, vertel Pierre. “Dit het my laat besef hier is 'n behoefte onder vroue om meer van hul eie geslagsdele te weet. Maar hoe pak jy so 'n sensitiewe onderwerp aan, was die vraag. En toe kom die antwoord skielik: as 'n vroulike tannie-karakter, en met baie humor!”
Pierre het baie navorsing vir sy teks gedoen. Onder andere heelwat mediese artikels gelees, en wanneer hy nie die antwoorde kon kry nie, het hy sommer vir Tannie Kotie ingespan om self 'n ginekoloog te bel!
Ja, sy optredes kan dalk deur sommiges as kontroversieel gesien word, is Pierre die eerste om te erken.
Vir hulle sê Tannie Kotie dan: “Ja, jy kan my veroordeel en dink my brein is vuil, maar dit is net die feite wat ek julle vertel.”
Maar daar is ook die waardering van ander wat alles vir Pierre die moeite werd maak. Soos die keer toe sy pianis, Franco Prinsloo, na afloop van 'n optrede buite 'n teater staan terwyl die mense uitloop. Toe hoor hy hoe 'n vrou vir haar man, beide in hul 60’s, sê: “Jy weet skat, die dinge wat Tannie Kotie sê, is eintlik die waarheid.”
Vir meer besonderhede, besoek www.kotie.co.za.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouhoofstories volgende artikel vorige artikel |
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?

