|
Dit was 'n gewone Maandag - soos vele Maandae
voor dié een.
In die straat voor die skool hou ouers stil om
hul kinders af te laai. Met 'n soengroet en "lekker
dag" en "sien jou vanmiddag" vertrek die ouers
weer.
Op die skoolgrond drentel die kinders in
groepies rond. Ander begin reeds aan beweeg na
die saal vir die opening. Die matrieks gesels
onder mekaar oor die rekord-eksamen wat
binnekort begin en die ekstra klasse wat die
onderwysers beplan; die res van die leerders
praat oor dié dag se toets en werk wat die week
gedoen moet word.
Maar daar was dié dag geen toetse nie, en geen
ekstra klasse gedurende die week nie. Want kort
voor die klok moes lui, het gille vanaf die
skoolterrein opgeklink: 'n gemaskerde
matriekleerling het 'n swaard triomfantlik in
die lug rondgeswaai. Op die grond voor hom het
'n graad 9-leerder sterwend in 'n plas bloed
gelê.
Die masker-kind het omgedraai opsoek na sy
volgende slagoffers: minute later is nog 'n
leerling, asook twee tuinwerkers, gewond.
Toe steek hy die swaard in die grond, en gaan
sit langs dit. Toe die hoof en personeel op hom
afstorm, haal hy die masker stadig af: sy gesig
is met politoer swart gesmeer.
Verbaas kyk hy die onderwysers aan: "Wat het nou
gebeur?" vra hy aan hulle.
Later vertel een van sy vriende dat hy vroeër
dié oggend aan hulle vertel het dat satan aan
hom opdrag gegee het om drie mense dood te maak
– anders sou hyself sterf.
Twee dae later, Woensdag 20 Augustus, het Morné
Harmse (18) in Krugersdorp se landdroshof
verskyn op 'n aanklag van moord en drie
aanklagte van poging tot moord.
Klein, tenger, verbouereerd en vreesbevange het
hy in die beskuldigde bank gestaan – weg was die
beeld van die aggresiewe en selfversekerde
swaardmoordenaar. Net een keer het hy vlugtig
omgekyk na die mense in die hof – vir die res
van die hof-prosedure het hy sy oë voor hom op
die grond gehou.
Tydens sy volgende verskyning het die hof gehoor
'n "spook wat hy in die veld op sy ouers se plot
gesien het, hom beveel om 'n satanis te word".
Die hof het hom nou vir sielkundige waarneming
verwys, waarna hy weer aan die einde van dié
maand in die hof sal verskyn.
Sy slagoffer, Jacques Pretorius (16) is die
Donderdag vanuit die NG-Kerk Krugersdorp-Noord
begrawe
"Krugersdorp huil saam met julle," het ds. Hein
Delport gesê.
Mede-leerders van die Hoër Tegniese Skool Nic
Diederichs in Krugersdorp (aan die
Johannesburgse Wes-Rand) vertel dat Morné op die
moord-dag, Maandag 18 Augustus, met drie
Oosterse swaarde by die skool opgedaag het. Dié
tipe swaarde kan vrylik deur enige persoon
gekoop word, onder andere op vlooimarkte. Hy het
ook 'n paar maskers in sy besit gehad,
soortgelyk aan die maskers wat die Amerikaanse
heavy metal-groep Slipknot, tydens hul
vertonings dra.
Dit was nie vir hulle vreemd nie, aangesien hy
al by vorige geleenthede met dié maskers by die
skool opgedaag en daarmee rondgeloop het.
Maar dié Maandag was anders: mede-leerders
vertel dat sy kop dié dag "nie reg was nie".
Morné het voor saalopening aan vriende na aan
hom vertel dat hy 'n "massacre" beplan – in
opdrag van satan.
Shaun Collins (17) sê dit het gelyk of "sy kop
uitgehaak het". Hy het 'n Slipknot-masker
opgesit en gevra of hulle "iets cool" wou sien.
Die volgende oomblik het hy 'n swaard uitgeruk,
omgeswaai en vir Jacques Pretorius – wat
toevallig saam met sy vriende verby gestap het –
in die nek gesteek.
Heavy metal-groep se invloed
Die 18-jarige swaardmoordenaar Morné Harmse het
'n obsessie met die Amerikaanse heavy metal-groep
Slipknot gehad.
Dié groep verskyn tydens publieke optredes met
maskers aan, wat deur sommige as satanisties
beskryf word. Morné het 'n soortgelyke masker
aangehad tydens sy grusame swaardaanval daardie
hartseer Maandag.
Hul lirieke kan nou ook nie juis as onskuldig
beskryf word nie – dit sluit sinsnedes in soos
"You are wrong, f*cked and overrated"; "Killers
are quiet like the breath of the wind"; "Don't
belong, don't exist, don't give a shit"; "F*ck
it all, f*ck this word" en "I want to cut off
your head and f*ck the wound".
Roadrunner Records, die Amerikaanse
platemaatskappy wat Slipknot se musiek versprei,
is toegeval met kommentaar nadat die
Krugersdorp-swaardaanval wêreldwyd opslae gemaak
het.
Almal ondersteun die heavy metal-groep, en sê
dat niemand hul musiek vir die moord kan blameer
nie.
'n Ene Tom is ook meer bekommerd oor Joey
Jordison, een van die lede, se enkel-besering as
die moord: "F*ck the african school killings,
there are enough of you motherfuckers in the
world anyway. But Joey being out is really
serious," skryf hy.
In 'n video-insetsel wat kort na die
Krugersdorp-voorval op Roadrunner se webtuiste
verskyn het, sê Shawn Crahan, een van Slipknot
se lede, dat hul musiek voortaan "minder fisiek
gewelddadig gaan wees – maar beslis meer
geestelik gewelddadig".
Hul nuwe album, All hope is gone, word
nou in Suid-Afrika versprei. Liedjies soos
Dead Memories, Execute en The
Killing Game kan op dié album gehoor word.
Roadrunner het gesê dat behalwe vir die
bespreking op hul webtuiste, nie hulle of
Slipknot verdere kommentaar oor die
Krugersdorp-moord gaan lewer nie.
In Suid-Afrika het die moord ook die
gesprekskanale op die internet oorheers. Van die
meer komiese insetsels is:
· "mense
blameer musiek vir hul aksies . . . nou weet ek
hoekom daar gay mense is, hulle luister seker na
westlife en eden"
· "as
mense nie iets kan verduidelik nie, is dit van
die duiwel af"
· "kom
ons blameer Kurt Darren se liedjie Loslappie vir
al die seksuele losbandigheid in Suid-Afrika en
Robbie Wessels se Leeuloop vir openbare
onsedelikheid"
·
" . . . het uit blote nuuskierigheid gaan kyk na
die website van die band. Kyk mense, toe die
spul goggas my rekenaarskerm binnedring, en die
onaardse geluide uit my rekenaar begin kom,
skrik ek myself in heeltemal 'n ander bloedgroep
in."
|