Sunette klaar met skinder en skandaal
Beatri Kotzé

deur Beatri Kotzé




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Sy het die houe van die lewe op haar voel neerreën. Sunette Bridges gesels openhartig oor haar vier huwelike en egskeidings, haar vrese en haar verlange. En sy bieg dat sy eintlik net wil hê mense moenie meer lelike goed oor haar sê nie.

Sy was nog altyd 'n heerlike bron van sappige stories vir skinderjoernaliste.
Sy ís immers die musiek-ikoon Bles Bridges se dogter; daar wás haar vier huwelike en egskeidings; dan daardie verlowing met Skip van Jaarsveld wat opspraakwekkend in die hof geëindig het na 'n oor en weer gedagvaardery. Ook die openbare gevegte tussen haar en die sanger Gerrie Pretorius oor tantieme vir die Bles-liedjies wat hy sing. Haar openbare én persoonlike lewe is op voorblaaie uitgebasuin; sy is in sommige media verguis en in ander kringe die spot mee gedryf.

Sunette Bridges Sunette Bridges Sunette Bridges
Sunette wil die skade wat sy die Bridges-naam aangedoen het te herstel. Sunette Bridges en haar seun, Lawrence. "Sy is 'n verskriklike happy mens," vertel Sunette.
(Foto's deur Rozanne Myburgh)

Maar dit het Sunette Bridges nie ondergekry nie – soos 'n feniks verrys sy elke keer uit die as.
Dit moes seker enorme innerlike krag geverg het om al die kritiek, skandes en persoonlike probleme te oorkom?
"Nee wat, dis glad nie eers so complicated nie," vertel Sunette openhartig in haar luukse huis op 'n spoglandgoed in die ooste van Pretoria. Maar sy erken: sy voel sleg dat sy die Bridges naam skade aangedoen het.
Sy is 'n verskriklike happy mens, sê sy. "Om in die oggend op te staan en al staan daar wát in die koerant, al het daar wát ook al in my persoonlike lewe gebeur – ek wéét ek kan vir my 'n lekker koppie koffie maak, ek kan vir my 'n kassie plantjies gaan koop en ek kan my kinders soen en druk. Ek het myself nog nooit tóégelaat om in die as te beland nie."
Natuurlik maak die dinge wat met haar gebeur haar hartseer: "Maar daar was altyd 'n balans tussen dit wat my hartseer maak en die goed wat my gelukkig maak," sê sy. "Wanneer dit sleg gaan, fokus ek net op die goeie goed, want dit sal altyd daar wees. Niemand kan dit van jou wegvat nie."
Om sterk te wees is egter in haar gene. Haar beroemde pa het haar immers geleer dat as die slegte goed voor jou deur kom staan, moet jy die deur oopmaak. Handel dit af en kry dit agter die rug, want doen jy dit nie, het jou probleme verdubbel.
En as 'n mens mooi daaroor dink is die ergste wat iemand aan jou kan doen om op jou te skree en jou sleg te sê, vertel sy.

Sy vrees min dinge. "Ek is nie bang om alleen te wees óf te skei nie, ek is nie bang om arm te wees nie, ek is nie bang om konfrontasie of moeilike situasies te hanteer nie. Voor jy jou oë uitvee het daai goed in elk geval weggegaan."

Maar al die kritiek wat na haar geslinger word, maak tog seer? "Al wat ek daaroor wil sê is dat niemand se lewe in blatante detail goed lyk op die voorblad van die Huisgenoot nie."
Die meeste kritiek wat sy moes verduur is oor haar vier huwelike.
"Die mense sê mos dis iets verskriklik! Maar daar word vinnig vergeet dat die meeste vrouens van 40 ook al verskeie verhoudings gehad het. Goed: almal trou dalk nie op papier nie, maar hulle het ook verhoudings wat nie werk nie. En dan nóg een wat ook nie werk nie."
Sunette maak oop: "Die pyn wat met 'n egskeiding gepaard gaan, is klaar genoeg. Die kritiek wat mense en die media dan ook nog op jou laai, is net onnodig."
Maar sy sal baie graag weer wil trou, bieg sy. Sy kies haar woorde versigtig.
"Ek wou nog altyd net iemand se vrou wees, iemand se ma wees, met 'n huis en 'n gesin. Ek dink as enigiets my daarvan sou weerhou sal dit die publieke opinie wees. My besluite berus nie by dit wat in my hart is nie, maar wat die mense sal sê. Dis vir my baie hartseer."

In Sunette Bridges se lewe was daar baie hoogtepunte en laagtepunte – wat sy boonop ten aanskoue van die hele land moes beleef. Daar is wel nog dinge wat sy wil bereik: soos om die skade wat sy die Bridges-naam aangedoen het te herstel.
"Ek het nie bedoel om my pa se nalatenskap skade te berokken nie. En ek wil ook 'n nalatenskap vir my eie kinders agterlaat. Iets waarop hulle trots kan wees. Eintlik wil ek net hê mense moenie meer lelike goed oor my sê nie."

En die musiek speel voort

Vreesloos met 'n absolute passie vir musiek en vermaak: dit is die eienskappe wat Sunette gemotiveer het om haar nuwe CD, Let the music play, op te neem. Dié CD is verlede maand met 'n grootskaalse vertoning in Emperor's Palace in Kempton Park bekendgestel. Musiek, sensuele dansers, vuurwerke, skitterende ligte en glansryke kostuums het alles deel uitgemaak van die aand se skouspelagtige vermaak.

Die idee vir dié vertoning het in 2007 tydens die Rugbywêreldbekertoernooi in Frankryk posgevat. Sunette was een van die vele kunstenaars van regoor die wêreld wat by die amptelike ondersteunersdorp, Rugby Town, opgetree het. Dit was twee moeilike maande, maar dit was 'n ontsettende goeie leerskool, sê sy. "Ek het 'n ander wêreldbeskouing gekry. Ek het ook besef hoe klein die wêreld is. Hier in Suid-Afrika word jy so maklik 'n celeb."
In Frankryk het niemand van haar verlede geweet nie. Sy kon net Sunette wees. Sy kon net sing. Daar was geen oordeel nie – en dit was bevrydend.
Toe beleef sy 'n lewensveranderende ervaring: "Ek het nie geweet Que sera is die Skotte se Blou Bul-liedjie nie. Ek sing dit toe, want dit was een van die liedjies op my vorige CD – en daar sing 15 000 Skotte uit volle bors saam met my; met doedelsakke en al!"
Daardie aand was een van die mooiste ervaringsin Sunette se lewe, maar ook die aand toe sy besef het dat 'n vertoning grotendeels oor vermaak gaan.

Sunette Bridges

Sunette tydens skouspelagtige CD-bekendstelling a la Las Vegas-styl.

Jy moenie die gehoor met jou bagasie en probleme opsaal nie, het sy geleer. Terug in Suid-Afrika het sy na duisende liedjies geluister om materiaal vir haar nuwe CD te kry wat meestal uit covers bestaan. Want, verduidelik sy: "As jy 'n album maak met net oorspronklike liedjies kan jy nie 'n show hou nie."
En dís iets wat sy wou doen. "Ek wou 'n show hou wat entertaining is. Jy moet daai girl van wie almal so skinder uit die prentjie kan haal, die show kan kyk en dink: 'Jis, dis 'n goeie show!'"

Tog handel die meeste van die songs op Let the music play, soos Never been to me, Solitaire en Lonely is a girl, oor haar lewe. Sy was al oral, het alles gedoen en alles gesien, maar nog nooit het sy die geleentheid gehad om uit te vind wie sy, Sunette Bridges, nou eintlik is nie. Die liedjies lê haar na aan die hart, want elkeen sê iets persoonlik oor haar. "Ek kon my eie liedjies geskryf het (sy het immers op 12 reeds vir haar pa liedjies geskryf), maar ek wou nie, want dit sou klink asof ek wroeg."
En daarvoor was sy nie lus nie – en vir die eerste keer kon sy net haarself wees nadat haar horisonne in Frankryk verbreed is.

"Ek wou hê die musiek moet los staan van my en totaal verwyderd wees van daai smerige wêreld van my verlede."

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend