Vir 'n
rukkie na die begrafnis is vriende daar vir jou. Ander vermy jou uit die
staanspoor, want hulle weet nie wat om te sê nie – en wat kán hulle in
elk geval sê?
In die vroeë bibberende
oggendure van 26 Augustus 2007 het Sen. Supt. Jakkie van Litsenborgh
(47) se selfoon langs sy bed gelui. Dit was een van sy kollegas in die
polisiekantoor op die dorp met nuus van nóg 'n motorongeluk op die
gevreesde Weskuspad. Die verskil . . . dié keer sou dit sy dogter se
voertuig wees.
Jakkie se vrou, Jeanette (44), kon aflei dat die oproep iets met hul
dogter, Chemené (20), te doen het. Rasend van bekommernis en angs het sy
op en af in die gang gestap. Intussen het sy haar seun, Jacques (18),
wakker gemaak. Terug in die slaapkamer het sy Jakkie se woorde gehoor:
"Jy mag maar vir my sê."
Jeanette onthou hoe hy die telefoon dood gedruk, vorentoe geleun en sy
arms om sy bors gevou het.
Skielik het haar angs
gestalte gekry: haar blonde, 20-jarige Chemené, een van drie kinders,
het 'n paar uur gelede in 'n motorongeluk gesterf.
Die skok het haar uit die huis gejaag – na haar skoonfamilie verder op
in die straat. Bewend en met yskoue lippe het sy die ontstellende nuus
oorgedra, en weer teruggehardloop. Histeries gillend het sy haar rou
smart aan die naghemel en 'n slapende Weskusdorpie verkondig: "My kind
is dood! My kind is dood!"
Hoekom?
Dis
nou 'n jaar later . . . maar die vrae bly steeds daar. Hoekom moes
Chemené op só 'n jong ouderdom sterf? Was dit dan haar "tyd" om te
gaan?
"Hoe sal mens weet," sê Jeanette vandag – steeds met 'n hartseer trek om
haar oë. "Ek vra heeltyd wáárom? Sy was só jonk en mooi!"
"Slegs God weet waarom sekere onverklaarbare dinge gebeur," verduidelik
ds. Kallie le Roux van dieNG Gemeente
Darling en Yzerfontein. "Ek beveel aan dat wanneer só 'n tragedie 'n gesin tref, moet die
'waaroms' en 'hoekoms' vergeet word. Vra eerder waarnatoe die gebeure
dalk mag lei."
En in hiérdie trooswoorde, het Jeanette en haar gesin die afgelope jaar
al menige dag hul toevlug gevind.
Tydens Ian Ehlers, 'n gewese suksesvolle sakeman en bankbestuurder, se
egskeiding jare gelede is hy en sy seun, Leon, van mekaar vervreem.
Alhoewel Ian op goeie voet met sy gewese vrou was, het sy seun hom
bitterlik vir die egskeiding verkwalik en alle kontak met sy pa
verbreek. Jare daarna is Leon oorlede – steeds sonder enige kontak
tussen hom en sy pa. Ian se wêreld het in duie gestort. Sy passies –
onthaal, koskook en sy groentetuin - was net nie meer belangrik nie. Sy
gesondheid het agteruit begin gaan.
Ian se berusting het gekom deur terapeutiese gesprekke met sy predikant.
As mens het hy ook oop kaarte met homself gespeel. Vandag glo hy alles
gebeur met 'n doel. "Ek erken en aanvaar die Here se beplanning in my
lewe," sê hy. My skuldgevoelens rondom 'n 'slegte pa'wees, is
begrawe. Sonder geloof sou ek nooit hiérdie verlies kon hanteer nie."
Na Chemené se dood het Jeanette uit haar pos as boekhouer bedank. Tóg
het sy ondervind dat sy té veel ledige tyd op hande het. Volgens haar
het sy gedurig geworstel met vrae waarop sy geen antwoorde kon vind nie.
"Ek het besluit om weer tot die beroepswêreld toe te tree. Dis nou vir
my lekker om in die oggende op te staan en myself te versorg. My werk is
veeleisend – dus laat dit nie ruimte om te tob nie," vertel sy. Jeanette
glo haar familie, vriende en werk is háár terapie en berading.
Volgens Clive Basson, kliniese sielkundige en afgetrede professor aan
die Universiteit van KwaZulu-Natal, moet ouers vatbaar vir berading wees
- professionele berading is ook nie noodwendig 'n móét nie.
Kan die huwelik oorleef?
Die emosionele spanning wat
deur die dood van 'n kind ontstaan, kan noodlottig vir 'n huwelik wees –
veral as die twee ouerpare die dood verskillend verwerk.
Maar die huwelik kán oorleef – "Mits die verhouding gesond is," sê
Clive.
'n Meer emosionele huweliksmaat wat 'n meer gekompliseerde rouproses
deurmaak, word dalk onder meer druk geplaas. Hy of sy kan dalk
uitgesluit en emosioneel opsygestoot voel. Dit kan weer aanleiding gee
tot vervreemding in die verhouding. In sommige gevalle kan die een ouer
die ander vir die kind se dood verwyt. Volgens Clive is die kanse op
verbrokkeling dan dusgroter.
Kallie is oortuig dat die verkeerde verlieshanteringsproses rampspoedige
gevolge kan meebring wat tot die onherstelbare verbrokkeling van die
huwelik mag lei. Die feit is: rampe tref alle mense – die antwoord lê in
hoe ons daarna kyk en hoe ons dit hanteer, sê hy.
Kim
Palmer, voorsitter van Compassionate Friends Kaapstad en leier in die
Wes-Kaap-streek, vestig die aandag op die natuurlike samestelling en
ingesteldheid van mans teenoor vroue. Sy het gevind dat mans in
terapiegroepe minder oor hul ontslape kind sal praat – en wanneer hulle
dit doen, word die gesprek vinnig weer na sogenaamde mansdinge verskuif.
In vroueterapiegroepe word slegs op die ontslape kind gekonsentreer.
"Egpare moét met mekaar praat, en luister wat die een vir die ander sê,"
is haar raad.
Na die
begrafnis
Jeanette voel die gemeenskap moet ná die begrafnis 'n meer
ondersteunende rol speel. "Sommige mense wat Chemené se begrafnis
bygewoon het, het glad nie eers daarna gegroet nie – alles het so vinnig
weer vir hulle normaal geraak. Sommige mense probeer jou vermy, want
hulle weet nie wat om te sê nie. Jy voel asof jý iets verkeerd gedoen
het."
Kim beaam: "Ja, vir 'n rukkie na die begrafnis is vriende daar vir jou.
Ander vermy jou uit die staanspoor, want hulle weet nie wat om te sê nie
– en wat kán hulle in elk geval sê? Die behoefte om jou kind lewendig te
hou deur gedurig oor jou kind te praat
veroorsaak dat uitnodigings na geleenthede later ophou. Hulle is nie
meer lus om na jou te luister nie."
Sy dink nie mense voel skuldig nie – hulle raak net moeg vir jou storie,
vir jou hartseer. Die uitsondering bestaan wel – ou en nuwe vriende wat
tyd maak om na jou te luister is iets wat jou verlies effens draagliker
maak.
"Na
'n jaar het die simpatie én die mense verdwyn. Realiteit daal stééds
soos 'n donker neerslagtige misgordyn oor 'n ouerneer – my kind gaan nóóit weer bydie voordeur instap nie!" vertel
Jeanette. "Om elke hoek en draai het my kind vir my kosbare skatte
gelos: in haar vriende se gesigte wat
steeds kom kuier, 'n vlietende oomblik wanneer iemand met liefde van
haar praat, en in die kosbare herinneringe van my moederhart."
Chemené se dood het Jeanette en Jakkie se ingesteldheid teenoor mekaar,
en hul kinders, verander: "Ek en my oorblywende twee kinders is nounóg nader aan mekaar as voorheen," sê sy.
Haar geestelike lewe het ook 'n dieper betekenis gekry hoewelhaar uitkykteenoor die lewe wel
verander het.
"Ek sê elke dag vir my kinders lewe reg – kry jou lewe reg. Drie
dae na Chemené se begrafnis het my oudste dogter en haar jarelange
vriend ons as gesin nóg 'n skok toegedien – sy was swanger! My emosies
was in 'n warboel, ek was geskok – my een dogter dood, die ander een
swanger."
Na 'n jaar het Jeanette steeds haar beter en slegter dae. Dit gebeur wel
nog dat sy soms voel dat sy die dag net in die bed kan deurbring met 'n
kombers oor haar kop getrek. Maar ter wille van die res van haar
huisgesin moet sy staande bly.