|
In die vroeë bibberende
oggendure van 26 Augustus 2007 het Sen. Supt.
Jakkie van Litsenborgh (47) se selfoon langs sy
bed gelui. Dit was een van sy kollegas in die
polisiekantoor op die dorp met nuus van nóg 'n
motorongeluk op die gevreesde Weskuspad. Die
verskil . . . dié keer sou dit sy dogter se
voertuig wees.
Jakkie se vrou, Jeanette (44), kon aflei dat die
oproep iets met hul dogter, Chemené (20), te
doen het. Rasend van bekommernis en angs het sy
op en af in die gang gestap. Intussen het sy
haar seun, Jacques (18), wakker gemaak. Terug in
die slaapkamer het sy Jakkie se woorde gehoor: "Jy
mag maar vir my sê."
Jeanette onthou hoe hy die telefoon dood gedruk,
vorentoe geleun en sy arms om sy bors gevou het.
Skielik het haar angs
gestalte gekry: haar blonde, 20-jarige Chemené,
een van drie kinders, het 'n paar uur gelede in
'n motorongeluk gesterf.
Die skok het haar uit die huis gejaag – na haar
skoonfamilie verder op in die straat. Bewend en
met yskoue lippe het sy die ontstellende nuus
oorgedra, en weer teruggehardloop. Histeries
gillend het sy haar rou smart aan die naghemel
en 'n slapende Weskusdorpie verkondig: "My kind
is dood! My kind is dood!"
Hoekom?
Dis nou 'n jaar later . . . maar die vrae bly
steeds daar. Hoekom moes Chemené op só 'n jong
ouderdom sterf? Was dit dan haar "tyd" om te
gaan?
"Hoe sal mens weet," sê Jeanette vandag – steeds
met 'n hartseer trek om haar oë. "Ek vra heeltyd
wáárom? Sy was só jonk en mooi!"
"Slegs God weet waarom sekere onverklaarbare
dinge gebeur," verduidelik ds. Kallie le Roux
van die NG
Gemeente Darling en Yzerfontein.
"Ek beveel aan dat wanneer só 'n tragedie
'n gesin tref, moet die 'waaroms' en 'hoekoms'
vergeet word. Vra eerder waarnatoe die gebeure
dalk mag lei."
En in hiérdie trooswoorde, het Jeanette en haar
gesin die afgelope jaar al menige dag hul
toevlug gevind.
Tydens Ian Ehlers, 'n gewese suksesvolle sakeman
en bankbestuurder, se egskeiding jare gelede is
hy en sy seun, Leon, van mekaar vervreem.
Alhoewel Ian op goeie voet met sy gewese vrou
was, het sy seun hom bitterlik vir die
egskeiding verkwalik en alle kontak met sy pa
verbreek. Jare daarna is Leon oorlede – steeds
sonder enige kontak tussen hom en sy pa. Ian se
wêreld het in duie gestort. Sy passies – onthaal,
koskook en sy groentetuin - was net nie meer
belangrik nie. Sy gesondheid het agteruit begin
gaan.
Ian se berusting het gekom deur terapeutiese
gesprekke met sy predikant. As mens het hy ook
oop kaarte met homself gespeel. Vandag glo hy
alles gebeur met 'n doel. "Ek erken en aanvaar
die Here se beplanning in my lewe," sê hy. My
skuldgevoelens rondom 'n 'slegte pa' wees,
is begrawe. Sonder geloof sou ek nooit hiérdie
verlies kon hanteer nie."
Na Chemené se dood het Jeanette uit haar pos as
boekhouer bedank. Tóg het sy ondervind dat sy té
veel ledige tyd op hande het. Volgens haar het
sy gedurig geworstel met vrae waarop sy geen
antwoorde kon vind nie.
"Ek het besluit om weer tot die beroepswêreld
toe te tree. Dis nou vir my lekker om in die
oggende op te staan en myself te versorg. My
werk is veeleisend – dus laat dit nie ruimte om
te tob nie," vertel sy. Jeanette glo haar
familie, vriende en werk is háár terapie en
berading.
Volgens Clive Basson, kliniese sielkundige en
afgetrede professor aan die Universiteit van
KwaZulu-Natal, moet ouers vatbaar vir berading
wees - professionele berading is ook nie
noodwendig 'n móét nie.
Kan die huwelik oorleef?
Die emosionele spanning wat
deur die dood van 'n kind ontstaan, kan
noodlottig vir 'n huwelik wees – veral as die
twee ouerpare die dood verskillend verwerk.
Maar die huwelik kán oorleef – "Mits die
verhouding gesond is," sê Clive.
'n Meer emosionele huweliksmaat wat 'n meer
gekompliseerde rouproses deurmaak, word dalk
onder meer druk geplaas. Hy of sy kan dalk
uitgesluit en emosioneel opsygestoot voel. Dit
kan weer aanleiding gee tot vervreemding in die
verhouding. In sommige gevalle kan die een ouer
die ander vir die kind se dood verwyt. Volgens
Clive is die kanse op verbrokkeling dan dus
groter.
Kallie is oortuig dat die verkeerde
verlieshanteringsproses rampspoedige gevolge kan
meebring wat tot die onherstelbare verbrokkeling
van die huwelik mag lei. Die feit is: rampe tref
alle mense – die antwoord lê in hoe ons daarna
kyk en hoe ons dit hanteer, sê hy.
Kim Palmer, voorsitter van Compassionate Friends
Kaapstad en leier in die Wes-Kaap-streek, vestig
die aandag op die natuurlike samestelling en
ingesteldheid van mans teenoor vroue. Sy het
gevind dat mans in terapiegroepe minder oor hul
ontslape kind sal praat – en wanneer hulle dit
doen, word die gesprek vinnig weer na sogenaamde
mansdinge verskuif. In vroueterapiegroepe word
slegs op die ontslape kind gekonsentreer.
"Egpare moét met mekaar praat, en luister wat
die een vir die ander sê," is haar raad.
Na die begrafnis
Jeanette voel die gemeenskap moet ná die
begrafnis 'n meer ondersteunende rol speel. "Sommige
mense wat Chemené se begrafnis bygewoon het, het
glad nie eers daarna gegroet nie – alles het so
vinnig weer vir hulle normaal geraak. Sommige
mense probeer jou vermy, want hulle weet nie wat
om te sê nie. Jy voel asof jý iets verkeerd
gedoen het."
Kim beaam: "Ja, vir 'n rukkie na die begrafnis
is vriende daar vir jou. Ander vermy jou uit die
staanspoor, want hulle weet nie wat om te sê nie
– en wat kán hulle in elk geval sê? Die behoefte
om jou kind lewendig te hou deur gedurig oor jou
kind te praat
veroorsaak dat uitnodigings na geleenthede later
ophou. Hulle is nie meer lus om na jou te
luister nie."
Sy dink nie mense voel skuldig nie – hulle raak
net moeg vir jou storie, vir jou hartseer. Die
uitsondering bestaan wel – ou en nuwe vriende
wat tyd maak om na jou te luister is iets wat
jou verlies effens draagliker maak.
"Na 'n jaar het die simpatie én die mense
verdwyn. Realiteit daal stééds soos 'n donker
neerslagtige misgordyn oor 'n ouer
neer – my kind gaan nóóit weer by
die voordeur instap nie!" vertel
Jeanette. "Om elke hoek en draai het my kind vir
my kosbare skatte gelos: in haar vriende se
gesigte wat
steeds kom kuier, 'n vlietende oomblik wanneer
iemand met liefde van haar praat, en in die
kosbare herinneringe van my moederhart."
Chemené se dood het Jeanette en Jakkie se
ingesteldheid teenoor mekaar, en hul kinders,
verander: "Ek en my oorblywende twee kinders is
nou nóg nader
aan mekaar as voorheen," sê sy.
Haar geestelike lewe het ook 'n dieper betekenis
gekry hoewel
haar uitkyk
teenoor die lewe wel verander het.
"Ek sê elke dag vir my kinders lewe reg – kry
jou lewe reg. Drie dae na Chemené se
begrafnis het my oudste dogter en haar jarelange
vriend ons as gesin nóg 'n skok toegedien – sy
was swanger! My emosies was in 'n warboel, ek
was geskok – my een dogter dood, die ander een
swanger."
Na 'n jaar het Jeanette steeds haar beter en
slegter dae. Dit gebeur wel nog dat sy soms voel
dat sy die dag net in die bed kan deurbring met
'n kombers oor haar kop getrek. Maar ter wille
van die res van haar huisgesin moet sy staande
bly. |