Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 


   My kind is dood . . .

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Naomi Myburgh

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld

Vir 'n rukkie na die begrafnis is vriende daar vir jou. Ander vermy jou uit die staanspoor, want hulle weet nie wat om te sê nie – en wat kán hulle in elk geval sê?


(foto: Naomi Myburgh)

In die vroeë bibberende oggendure van 26 Augustus 2007 het Sen. Supt. Jakkie van Litsenborgh (47) se selfoon langs sy bed gelui. Dit was een van sy kollegas in die polisiekantoor op die dorp met nuus van nóg 'n motorongeluk op die gevreesde Weskuspad. Die verskil . . . dié keer sou dit sy dogter se voertuig wees.

Jakkie se vrou, Jeanette (44), kon aflei dat die oproep iets met hul dogter, Chemené (20), te doen het. Rasend van bekommernis en angs het sy op en af in die gang gestap. Intussen het sy haar seun, Jacques (18), wakker gemaak. Terug in die slaapkamer het sy Jakkie se woorde gehoor: "Jy mag maar vir my sê."
Jeanette onthou hoe hy die telefoon dood gedruk, vorentoe geleun en sy arms om sy bors gevou het.

Skielik het haar angs gestalte gekry: haar blonde, 20-jarige Chemené, een van drie kinders, het 'n paar uur gelede in 'n motorongeluk gesterf.
Die skok het haar uit die huis gejaag – na haar skoonfamilie verder op in die straat. Bewend en met yskoue lippe het sy die ontstellende nuus oorgedra, en weer teruggehardloop. Histeries gillend het sy haar rou smart aan die naghemel en 'n slapende Weskusdorpie verkondig: "My kind is dood! My kind is dood!"

Hoekom?

Dis nou 'n jaar later . . . maar die vrae bly steeds daar. Hoekom moes Chemené op só 'n jong ouderdom sterf? Was dit dan haar "tyd" om te gaan? 
"Hoe sal mens weet," sê Jeanette vandag – steeds met 'n hartseer trek om haar oë. "Ek vra heeltyd wáárom? Sy was só jonk en mooi!"

"Slegs God weet waarom sekere onverklaarbare dinge gebeur," verduidelik ds. Kallie le Roux van die NG Gemeente Darling en Yzerfontein.
"Ek beveel aan dat wanneer só 'n tragedie 'n gesin tref, moet die 'waaroms' en 'hoekoms' vergeet word. Vra eerder waarnatoe die gebeure dalk mag lei."
En in hiérdie trooswoorde, het Jeanette en haar gesin die afgelope jaar al menige dag hul toevlug gevind.

Tydens Ian Ehlers, 'n gewese suksesvolle sakeman en bankbestuurder, se egskeiding jare gelede is hy en sy seun, Leon, van mekaar vervreem. Alhoewel Ian op goeie voet met sy gewese vrou was, het sy seun hom bitterlik vir die egskeiding verkwalik en alle kontak met sy pa verbreek. Jare daarna is Leon oorlede – steeds sonder enige kontak tussen hom en sy pa. Ian se wêreld het in duie gestort. Sy passies – onthaal, koskook en sy groentetuin - was net nie meer belangrik nie. Sy gesondheid het agteruit begin gaan.
Ian se berusting het gekom deur terapeutiese gesprekke met sy predikant. As mens het hy ook oop kaarte met homself gespeel. Vandag glo hy alles gebeur met 'n doel. "Ek erken en aanvaar die Here se beplanning in my lewe," sê hy. My skuldgevoelens rondom 'n 'slegte pa' wees, is begrawe. Sonder geloof sou ek nooit hiérdie verlies kon hanteer nie."

Na Chemené se dood het Jeanette uit haar pos as boekhouer bedank. Tóg het sy ondervind dat sy té veel ledige tyd op hande het. Volgens haar het sy gedurig geworstel met vrae waarop sy geen antwoorde kon vind nie.
"Ek het besluit om weer tot die beroepswêreld toe te tree. Dis nou vir my lekker om in die oggende op te staan en myself te versorg. My werk is veeleisend – dus laat dit nie ruimte om te tob nie," vertel sy. Jeanette glo haar familie, vriende en werk is háár terapie en berading.

Volgens Clive Basson, kliniese sielkundige en afgetrede professor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, moet ouers vatbaar vir berading wees - professionele berading is ook nie noodwendig 'n móét nie.

Kan die huwelik oorleef?

Die emosionele spanning wat deur die dood van 'n kind ontstaan, kan noodlottig vir 'n huwelik wees – veral as die twee ouerpare die dood verskillend verwerk.
Maar die huwelik kán oorleef – "Mits die verhouding gesond is," sê Clive.

'n Meer emosionele huweliksmaat wat 'n meer gekompliseerde rouproses deurmaak, word dalk onder meer druk geplaas. Hy of sy kan dalk uitgesluit en emosioneel opsygestoot voel. Dit kan weer aanleiding gee tot vervreemding in die verhouding. In sommige gevalle kan die een ouer die ander vir die kind se dood verwyt. Volgens Clive is die kanse op verbrokkeling dan dus groter.

Kallie is oortuig dat die verkeerde verlieshanteringsproses rampspoedige gevolge kan meebring wat tot die onherstelbare verbrokkeling van die huwelik mag lei. Die feit is: rampe tref alle mense – die antwoord lê in hoe ons daarna kyk en hoe ons dit hanteer, sê hy.

Kim Palmer, voorsitter van Compassionate Friends Kaapstad en leier in die Wes-Kaap-streek, vestig die aandag op die natuurlike samestelling en ingesteldheid van mans teenoor vroue. Sy het gevind dat mans in terapiegroepe minder oor hul ontslape kind sal praat – en wanneer hulle dit doen, word die gesprek vinnig weer na sogenaamde mansdinge verskuif. In vroueterapiegroepe word slegs op die ontslape kind gekonsentreer.
"Egpare moét met mekaar praat, en luister wat die een vir die ander sê," is haar raad.

Na die begrafnis

Jeanette voel die gemeenskap moet ná die begrafnis 'n meer ondersteunende rol speel. "Sommige mense wat Chemené se begrafnis bygewoon het, het glad nie eers daarna gegroet nie – alles het so vinnig weer vir hulle normaal geraak. Sommige mense probeer jou vermy, want hulle weet nie wat om te sê nie. Jy voel asof jý iets verkeerd gedoen het."

Kim beaam: "Ja, vir 'n rukkie na die begrafnis is vriende daar vir jou. Ander vermy jou uit die staanspoor, want hulle weet nie wat om te sê nie – en wat kán hulle in elk geval sê? Die behoefte om jou kind lewendig te hou deur gedurig oor jou kind te praat veroorsaak dat uitnodigings na geleenthede later ophou. Hulle is nie meer lus om na jou te luister nie."
Sy dink nie mense voel skuldig nie – hulle raak net moeg vir jou storie, vir jou hartseer. Die uitsondering bestaan wel – ou en nuwe vriende wat tyd maak om na jou te luister is iets wat jou verlies effens draagliker maak.

"Na 'n jaar het die simpatie én die mense verdwyn. Realiteit daal stééds soos 'n donker neerslagtige misgordyn oor 'n ouer neer – my kind gaan nóóit weer by die voordeur instap nie!" vertel Jeanette. "Om elke hoek en draai het my kind vir my kosbare skatte gelos: in haar vriende se gesigte wat steeds kom kuier, 'n vlietende oomblik wanneer iemand met liefde van haar praat, en in die kosbare herinneringe van my moederhart."

Chemené se dood het Jeanette en Jakkie se ingesteldheid teenoor mekaar, en hul kinders, verander: "Ek en my oorblywende twee kinders is nou nóg nader aan mekaar as voorheen," sê sy.
Haar geestelike lewe het ook 'n dieper betekenis gekry hoewel haar uitkyk teenoor die lewe wel verander het.
"Ek sê elke dag vir my kinders lewe reg – kry jou lewe reg. Drie dae na Chemené se begrafnis het my oudste dogter en haar jarelange vriend ons as gesin nóg 'n skok toegedien – sy was swanger! My emosies was in 'n warboel, ek was geskok – my een dogter dood, die ander een swanger."

Na 'n jaar het Jeanette steeds haar beter en slegter dae. Dit gebeur wel nog dat sy soms voel dat sy die dag net in die bed kan deurbring met 'n kombers oor haar kop getrek. Maar ter wille van die res van haar huisgesin moet sy staande bly.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]