|
Hulle sal dié Kersdag baie stemme van ondersteuning om hulle hoor, maar die stem wat hulle die graagste sou wou hoor – dié van hul ma – is nou stil.
Dit gaan inderdaad 'n baie moeilike en emosionele Kersfees vir hom en sy kinders wees, sê 'n hartseer Louis van Wyk, die musiekpromotor en eksman van die oorlede sangeres Irene van Wyk.
Veral vir sy en Irene se kinders, Vaughn (21) en Irene-Louise (17), lê daar nou 'n droewige tyd voor: die eerste Kersdag sonder hul ma.
Ja, dit gaan 'n baie moeilike tyd wees, vertel die twee. “Met al die stemme van ondersteuning om ons, is daar net een stem wat ons wil hoor – ons ma s'n.”
Die herinneringe aan daardie skokdag op 12 Oktober toe Irene in 'n gru-motorongeluk op die pad tussen Pretoria en Delmas gesterf het, lê nog vlak in hul oë. Irene-Louise moes medikasie neem om die trauma te verwerk; Vaughn probeer sterk wees, maar volgens Louis is die trane maar naby.
“Maar ons sal dit maak, want die Here is aan ons kant.”
Irene van Wyk: 24 September 1965 – 12 Oktober 2009.
“Jy was my maaitjie, nog steeds na 23 jaar, maar hel ek en jy kon enige bokser onder die tafel in baklei,” het Louis op Irene se troosdiens in Pretoria gesê.
Vaughn en Irene-Louise vertel Kersfees was altyd pret saam met hul ma: Ma en kinders het hulle soos kleuters gedra en hul gesin het lekker kerstradisies gehad.
“Ons het altyd kershoedjies gedra en die kerskouse met lekkers gevul,” onthou Vaughn.
Irene-Louise – of Rienkie soos die familie haar noem – vertel hulle het ook elke jaar 'n kerskalender gehad. “In die dae voor Kersdag het ons elke dag 'n nuwe venster oopgemaak en dan was daar sjokolade in. Ma het dit vir ons gekoop toe ons klein was. Maar hierdie jaar gaan dit nie dieselfde wees om die kalender nou sonder haar deur te werk nie.”
Louis en Irene is 11 jaar gelede geskei; daarna het die twee kinders Kersdae afwisselend by hul ouers deurgebring.
“Ons was verlede jaar by ons pa, maar ons het ure lank met ma oor die telefoon gepraat en saam lekker gelag,” onthou Irene-Louise. “Ons het daardie dag baie na haar verlang, al was sy nie so ver van ons af nie. Maar nóú sal ál die petrol in die wêreld ons nie tot by haar kan vat nie.”
Louis moes die kinders van hul ma se dood vertel nadat die polisie hom eers 24 uur ná die ongeluk gebel het: Irene se motor het 'n aankomende vragmotor reg van voor getref, en sy is opslag dood. Louis en Vaughn moes haar liggaam by die polisielykhuis op Bronkhorstspruit gaan uitken.
“Dit was die moeilikste ding wat ek al in my lewe moes doen – om my kinders te vertel hul ma is dood. Ons was baie emosioneel. Vaughn was spierwit en het geweier om dit te glo,” sê Louis.
Hul eerste reaksie was een van ongeloof. Hy vertel na die polisie hom gebel het, het hy bly hoop die polisie het 'n fout gemaak. Selfs nadat hy die lyk én die wrak gesien het, het hy vir homself bly sê dis nié haar kar en haar liggaam nie.
Louis het Irene 25 jaar gelede ontmoet toe hy die band The Working Girls bestuur het. Een van die lede het die groep verlaat. Hy het Irene hoor sing: Haar sang het hom só beïndruk dat hy wou hê sy moes by die groep aansluit. Irene het egter die aanbod van die hand gewys, want sy wou eerder 'n “rock chick” wees. Irene het later tydens haar loopbaan agt CD’s vrygestel, maar haar bekendste is sekerlik die gospel-CD In U spore wat in 2007 uitgereik is. Kenners in die musiekbedryf het haar die naam “Die Stem” gegee danksy haar ryk, diep stem.
Irene-Louise en Vaughn onthou hul ma só: “Haar glimlag, haar liefde en warmte, haar sin vir humor, grappe en die aksente waarin sy altyd gepraat het.”
Nou is haar laaste album, die huldeblyk 'n Handvol Herinneringe / The Tribute Tracks, na haar dood uitgereik. Hierop is van haar grootse sekulêre en gospeltreffers, soos Wie is die vrou in jou arms vanaand?, In die middel en Why me Lord? Daar is ook twee nuwe liedjies: Hit me with your best shot en It’s a heartache.
Louis vertel laasgenoemde snit het per ongeluk gebeur: “Dozi sou dit saam met Bonnie Tyler opneem, en Irene het vir hom die guide vocals opgeneem twee dae voor haar ontydige dood. Tipies aan haar het sy dit uit volle bors gedoen; goed genoeg om dit op die CD in te sluit.”
Hy sien dié album “as die grootste Kersgeskenk aan Irene, en aan dié wat vir haar lief is en lief sal bly.”
Hoewel Louis en Irene reeds lank geskei was, het hy steeds deur die jare haar agent gebly. Vir hom was dit maklik om saam met haar te werk: “Ons het respek vir mekaar gehad, en ook vir mekaar ruimte gegun,” verduidelik hy. “Ja, ons het soms baklei, maar dis seker normaal. Sy het ook geweet hoe om my op te werk, en ek vir haar ook, maar ek het haar oneindig lief gehad. Volgens my was sy die land se beste sangeres.”
jougeskenke
3 lesers kan Irene se huldeblyk-CD, 'n Handvol Herinneringe / The Tribute Tracks, wen.
Om vir dié prys in aanmerking te kom, SMS die woorde JW IRENE, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 31 Desember 2009.
Lees ook kompetisieëls.
|