|

Phthirus pubis oftewel
die skaamhaarluis wat
vele nagmerries kan
veroorsaak |
Op skool het
ons nie destyds "entrepreneursdae" met koekie-
en kuikentjieverkope geken nie. Ons moes die
hele jaar droëbek sit en wag vir sywurmtyd of
luisetyd. Met laasgenoemde het ons geleer om
soos wafferse Mafias skelm handel te dryf – déúr
inkpotgaatjies en ónder die skoolbanke deur.
Groot kopluise: 1 vir 'n sent; pasgeborenes: 2
vir 'n sent. Nete was noukeurig afgetel: 4 aan
'n haar vir 1 sent.
Ons kon nooit eintlik somme maak nie, want ons
pa's was shunters, maar in luisetyd het
ons geweet wanneer 'n luis sy sent werd was!
Huis toe gestuur met 'n lang "Bloubotter-insmeer-en-'n-paar-dae-tuisbly"-briefie
was 'n bargain, maar 'n kort "skeer-alles-af-en-kom-môre–terug"-briefie
het net één ding beteken: jy's bankrot, failliet,
out of business, jou luisfabriek word
gesluit!
Intussen wonder my ma
tot vandag toe nog hoekom ons elke jaar met
luisetyd so baie Wilson-toffies en
chappies sit en kou het terwyl sy grillend
moes skarrel om elke luis volgens ons
spesifikasies lewend in 'n pilbottel te kry.
Wilson-toffie- en chappiekou was immers
tekens van ekonomiese voorspoed, ma! Selfs die
ousie het saam gesit en kou. Lank lewe die
kopluis!
|
|
En so leef hy onbedreigd voort: Vandag op dié
kop, môre op dáái kop. Lang kop, plat kop, geel
kop, swart kop. Dit kan hom g'n malle moer skeel
nie – solank daar hare en bloed is. Maar sy arme
broertjie, die skaamluis? Dié het dit regtig
swaar tot die dood toe.
Volgens Kees Moeliker, conservator van de
natuurhistorische muzeum in Rotterdam, moes
hy sowaar 'n advertensie in 'n landelike koerant
(iets soos Rapport) plaas met 'n beloning wat
mens nie vandag in sente tel nie, om enetjie op
versterkwater te kan kry! Ag, was hy maar lewend
dan kon hy dalk die terugkrabbelende ekonomie 'n
hupstootjie gee!
Nou ja, uit my mafia-jare ken ek 'n kopluis,
maar 'n skaamluis? Never! Nooit gehoor of
gesien! Ons was wel arm, maar ons was skoon. Met
'n bietjie Googlewerk sit ek toe met twee
prentjies voor my: 'n kopluis en 'n skaamluis.
Aan sy looks kan sy uitsterwe nie lê nie,
dink ek by myself, maar miskien aan daai dik
bene en pote van hom?
Nee, sê die boek, sy
pote is gebou om te klou! Aan wat te klou?
Daar is reeds Liewe-Heksie-been-kopluise om aan
kophare vas te klou en dwars te skarrel as daar
met 'n pilbotteltjie gejag word, maar 'n
skaamluis wat te dik is om te hol en te skarrel?
Dié is 'n dooie luis. Hy gaan for sure in
die tanne van die kam bly vassit.
Dis hier waar my nuuskierigheid my dryf na 'n
Afrikaans/Nederlandse woordeboek: Wragtig, dis
in Afrikaans 'n "krapluis", want hy skarrel soos
'n krap en hy láát jou krap!
"Waar krap mens vir 'n krapluis?" skree ek vir
my man in sy studeerkamer.
Die Nederlandse vertaling verlos hom voordat hy
kan afskrou met: "Ek weet regtig nie, liefie!"
"Dis eintlik 'n skaamhaarluis, en as troosprys
kan jy hom ook onder jou oksels én in jou baard
kry," skrou ek na bo.
"'n Skaam-háárluis, of 'n skáámhaar-luis –
daar's 'n groot verskil," antwoord hy.
"Liefie, daar's g'n hyphen tussenin nie, ôk nie
'n verskil nie! Die blerrie luis moet klou waar
hare dik is en skarrelplek min is," skree ek
gefrustreerd. Intussen gril ek soos my ma in
haar hele luisvanglewe nooit gegril het nie.
Tussen
Hollands en Afrikaans is daar dus geen
onduidelikheid nie. Jy weet presies wáár hy sit
en jy weet wát hy doen! Nou drop 'n ander
pennie by my: dis natuurlik waarom die outjie
verlede jaar op 'n Amsterdamse terrasje so
woedend was en kliphard vir sy meisie sê: "Ik
heb het nooit over je periodes in het openbaar .
. . waarom heb jij het altijd over mijn
schaamhaarluis?"
Bedekte,
onsigbare skaamhaarluise op skamele plekke is
andermansverleentheid, maar dié wat oop en bloot
aan bebaarde mans se bekke vasklou? Dis wat my
worry, want hoeveel Hollandse mans moes
ek die afgelope 5 jaar met 'n "smoe-smoe-smoe",
links-regs-links, soen? By 'n gemiddelde
verjaarsdagfeesje loop dit maklik op tot 20 man
en die nuwerwetse dagoudbaarde kan juis so 'n
luis op 'n jong haartjie na 'n blommetjie op 'n
steeltjie laat lyk!
Bottom line
is: Mnr. Moeliker is oortuig dat die Nederlandse
skaamhaarluis op versterkwater is omdat meeste
mense deesdae álle hare, dik en dun, afskeer. Hy
is nie eens meer te vinde op die lys vir
endangered species nie. Dis toe dat my hoogs
bejaarde kopluisengeltjie op my skouer kom sit
en in my oor fluister: "Die besigheid is bankrot.
Nie eens Green peace en Al Gore sal hom regop
kry nie. Ons sal die hulp van die eertydse
Mafioso's moet inroep, want . . . dis 'n job vir
hardebaarde." "Jy's reg, oudste," fluister ek, "om
dié luis te red is nie kinderspeletjies nie."
Lank lewe die skaamhaarluis! |