jouhoofstories

 Wilna Myburgh
deur Rozanne Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend


kry jou
eie GRATIS
NUUSBRIEF

jou naam:
e-posadres:

'n Stukkie lê hier

Van nickerballs en feetjieland tot eina-maak grootmenslywe: Liza Daniells vertel van haar lewe as satanis, dwelmverslaafde en prostituut. Totdat God die boeie om haar polse losgemaak het.

As satanis en hoëklas-prostituut het sy vir langer as 20 jaar die satynlakens van die beste hotelle en huise in Suid-Afrika leer ken. Die betaling was goed, maar die nagevolge bitter, vertel sy nou.
Sy is selfbewus oor haar lyf, want sy lyk swanger. Maar dit wat in haar buik groei is nie lewe nie – dit is servikskanker. Dit het sy opgedoen na sy deur vier mans op straat verkrag is. 
“Ek weet nie wat voorlê, of watter pad die Here met my wil loop nie. Al wat ek weet, is dat ek nou vry is,” vertel Liza Daniells (46) van Pietersburg.
Liza het in 1997 haar rug gekeer op haar lewe van prostitusie, drank, dwelms en satanisme. Jesus het die sleutel gebring en die boeie om haar polse losgemaak, vertel sy.
Maar nou sit sy met die dood binne haar liggaam wat groter en groter word. En vir die eerste keer in haar lewe praat sy nou openlik oor haar geheime lewe van destyds.   
“As ek net een vrou of kind kan help, sal alles wat met my gebeur het, ten minste nie verniet wees nie. As God my dáár kon uithaal, is geen mens se vrymaking onmoontlik nie.”

Dit het alles begin toe sy 8 jaar oud was – 'n hoërskoolseun het haar onder “haar eie persoonlike vyeboom” gemolesteer. Maar dit het nie daar opgehou nie: hy het ook sy maatjies gebring.
“Hy het gesê Jesus het hom gestuur om my te straf,” vertel Liza. “Omdat ek stout was.”
Sy weet nie wat sy verkeerd gedoen het nie, maar sy het geleer hoe bangwees jou asem kan steel.
Sy weet sy moes iemand daarvan vertel het, maar sy was 'n banggatdogtertjie en kon nie hierdie dinge met haar ma deel nie.
“Ek is toe na Meneer se sekretaresse, die dominee, toe,” vertel Liza wat daardie dag in haar mooiste rok afgesit het pastorie toe, maar die dominee het haar afgelag en berispe oor haar snotkopkind-leuens.
“Loop, of ek bel jou ma!” was sy waarskuwing.
Maar die 8-jarige Liza het deurgedruk en besluit om dan maar sélf vir God te gaan vertel dat sy nie aspris so maklik en lekker – soos die hoërskoolkinders haar beskryf het – geword het nie.
Daarom móés sy eenvoudig na die Bybelse stad Bet-El toe gaan. “Daar waar die hemel se hek was en waar Jacob met sy kop op 'n klip gedroom het.”
Maar toe verwar sy dit met Bethal in die Vrystaat. Sy het haar tas gepak, met geskenke en al, en toe die laaste skoolklok lui was sy gereed om te begin stap. Buite die skool het 'n man met 'n wit pak klere, in 'n groot wit motor, haar opgelaai.

Haar kennis van prinse was beperk tot die prinse in feetjieland en sy kon sweer dat hy deur God gestuur is. Engele dra immers wit klere.
“Hy het my belowe hy sou my Bet-El toe neem,” vertel Liza. Maar sy het in 'n wit kamer, met 'n wit hemelbed wakker geword. En dit was alles behalwe die hemel se poorte.
Sy is verkrag. Die eerste keer van vele wat sy onder die vaandel van kastige buitemuurse aktiwiteite by die skool deur Dick en Muriel misbruik sou word.
Hulle het gesê dat sy nou aan die duiwel behoort. En sy het dit geglo.
“As mense jou wys hoe wreed hulle kan wees deur 'n foksterriërhondjie in 'n pot kokende olie te gooi terwyl jy jou agtjarige ogies uithuil, dan glo jy hulle,” verduidelik Liza. “Want as hulle dit aan 'n babahondjie kan doen, wat kan hulle nie nog doen nie?”
Daardie dag is haar feetjielandverbeeldingsvlugte, kinderdae en haar voete gesteel en dit is vervang met die duiwel en seks.

'n Wêreld sonder God: seks is my Herder

Liza vertel dat die kring waarin sy beweeg het se dade gerig was om 'n finale aanslag op die troon van God te maak.
“Ons opdragte was om families te verbreek en om 'n generasie sonder God te kweek,” sê Liza. “Kinders is sagte teikens vir hulle.”
“Ek het later 'n siamese lewe gelei. Ek was die duiwel se hoer, maar ook 'n Sondagskooljuffrou, 'n bose ikoon,” vertel Liza wat deur die satanistiese sekskring vir haar gunste onderhou is.
Omdat mense wou weet wat sy vir 'n lewe doen, het sy gesê sy is 'n skrywer. Sy het tog immers ook as vryskutskrywer vir 'n gemeenskapskoerant gewerk, en twee romans, Flentertjiedroom en Berusting op Ankersrust, onder die skuilnaam Ina Louwrens gepubliseer.
Vir die buitewêreld het haar lewe normaal gelyk.
“Maar ek was stukkend binne,” vertel Liza. “Hulle het gesoek vir iets wat wys ek is weerloos. En hulle het dit gevind toe ek swanger word en 'n kind kry.”
Dit boeie het al stywer om haar arms gelê want haar kind se veiligheid was hul troefkaart.

“Ek sê altyd vir mense. Ek is 'n trippel-x. 'n Eks-prostituut, eks-junky en 'n eks-satanis,” sê Liza. “En dis alles te danke aan die God van wonders dat ek nog hier is.”
Die keerpunt in haar lewe was haar ma se kankerdiagnose in 1997. Dit het haar oë oopgemaak en sy kon sê: “Dit was lekker, maar dis nou klaar.”
Niks van die satanistiese sekskring se dreigemente het meer 'n verskil gemaak nie. “Ek was leeg en my gevoel van malheid was tasbaar. Vir jare het ek na God gesoek verby die man in my bed,” vertel Liza. “Ek het hom gesoek in 'n pakkie rough riders en in 'n bottel ingevoerde wyn.”
Maar God was toegesluit in die onaantasbare mure van die kerk. “Die oomblik toe ek begin praat het, het die kerk my verwerp,” sê Liza. “Dis daarom dat ek op straat geslaap het.”
Skielik was die Sondagskooljuffrou nêrens welkom nie.

Dit is ook op straat wat sy 'n seksueel oordraagbare siekte opgedoen het tydens 'n bendeverkragting.
Sy het sedertien 'n lang pad geloop om die stukkies van haar lewe en verlede in die legkaart terug te pak.
En op hierdie reis, was die wonderlikste dag toe haar metaforiese vaderskaptoetse teruggekom en haar oë finaal oopgegaan het, vertel sy vandag.
“Ek was toe al die jare verkeerd. Ek het nie aan die duiwel behoort nie,” sê Liza. “Ek was al die tyd El Shaddai se dogter.”

Liza Daniells het as deel van haar genesingsproses die toneelstuk, Van Satynlakens tot Teerstrate, geskryf, wat sy verlede maand in die Pierneefteater in Pretoria opgevoer het. Vir meer besonderhede, kontak satynlakenstotteerstrate@gmail.com
Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | joumening 
| joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?