SA maak nek styf teen porno



Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Is Suid-Afrika gereed vir twee TV-kanale met volwasse inhoud, 24 uur per dag? Gesien teen die publieke storm wat dié voorstel ontketen het, wil dit nie so lyk nie.

Suid-Afrikaners was in rep en roer – sommige met lustige afwagting, ander met walging – toe MultiChoice verlede maand onverwags aankondig hulle beplan om binnekort báie meer te wys. Soos in alles. En dit wil hulle doen deur twee nuwe TV-kanale, wat voltyds pornografiese films sal vertoon, vanaf hul DStv-platform uit te saai.
Jackie Rakitla, MultiChoice se hoofbestuurder van korporatiewe sake, verduidelik hulle is oorval met versoeke om 'n volwasse TV-kanaal te skep.
Nee, ons soek dit nie, was egter die onmiddellike protes van die grootste gedeelte van die publiek in briewe aan die media, asook in aanlyn-meningsvormers. Intussen het 'n groep Suid-Afrikaanse bekendes soos Mel Botes, Isak Davel, Bobby van Jaarsveld, Victor Matfield en Jakkie Louw ook hul openbare teenkanting teen só 'n besluit gemaak. Solidariteit se Helpende Hand is ook een van die talle openbare instellings wat hul stem dik gemaak het.
Maar MultiChoice het nog nie 'n finale besluit geneem nie, sê Rakitla nou. Op navraag het hy in 'n verklaring gesê hulle ondersoek nog net die moontlikheid daarvan om in verskillende tydgleuwe verskillende grade van volwasse vermaak te beeldsend. Dit wissel van sagte tot harde pornografie. Tans is MultiChoice besig om deur middel van e-posse marknavorsing hieroor te doen: eers wanneer hulle vasgestel het wat die belangstelling onder dekodeerder-eienaars is, sal 'n finale besluit geneem word, verduidelik hy.   

Stem nee vir pornografie op DStv: Dít is die boodskap van Solidariteit Helpende Hand wat 'n veldtog afgeskop het om Suid-Afrikaners te mobiliseer om op te staan teen DStv MultiChoice se planne.
Hulle het onder andere die webtuiste www.neevirpornografie.co.za geskep vir mense wat protes wil aanteken.
Maar dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, gaan verder: hy sê indien MultiChoice sou voortgaan met die proses, beoog Helpende Hand om al sy lede aan te moedig om hul DStv-inskrywings te kanselleer.
Volgens Langner is daar 'n sterk verband tussen pornografie en kindermolestering: “Alle pornografiekykers is nie noodwendig molesteerders nie, maar volgens kenners kyk alle kindermolesteerders na pornografie.”
Dié bevindinge is vervat in die Kindermisdaadverslag wat verlede jaar deur Helpende Hand vrygestel is.
“MultiChoice vra in hul navorsing die vraag wat die impak op hul korporatiewe beeld sal wees. Maar word die impak op ons weerlose kinders ook oorweeg? wil Langer nou weet. “Word die impak op ons land se verdere morele verval en die invloed van perversiteit op kindermisdaad ook oorweeg?”

Die uitsending van sagte pornografie op e.tv se Saterdag-laataand-skedule is verlede jaar stilweg gestop. Dié TV-kanaal het dit verduidelik met “programinhoud word voortdurend verander en aangepas”, maar ingeligtes in die TV-bedryf sê e.tv kon nie meer die massiewe openbare druk en klagtes teen dié uitsendings ignoreer nie.

Só voel bekendes oor TV-porno

Hettie Brittz (vrou van die gospelsanger Louis Brittz, en onlangse verkragtingslagoffer): “Die sogenaamde verwysing na ‘volwasse inhoud’ is eintlik onvolwasse. Pornografie het 'n vernietigende effek. Asseblief nie, MultiChoice!”

Mel Botes (liedjieskrywer en sanger): “As jou land se waardesisteem val, is jy besig om agteruit te gaan. Dit is teen my beginsels. In 'n land waar jy blootgestel word aan só iets, word jou jeug verkeerd geleer.”

Izak Davel (akteur en sanger): “Mense moet eerder geld spandeer om arm mense en weeskinders te help en geweld teë werk. Pornografie is 'n belediging vir die mensdom.”

Gretha Wiid (skrywer en spreker oor verhoudingsake): “Ons jeug en ons huwelike bloei! Ons kinders word nie beskerm nie. MultiChoice is besig om ons jeug te kruisig; hulle verkoop ons kinders se siele vir geld terwyl hulle hul hande in onskuld was!”

Jakkie Louw (liedjieskrywer en sanger): “As ons nie bereid is om ons kinders op te pas nie, wie gaan? Kinders is die toekoms, en watter toekoms berei ons voor as ons hulle gif op die TV voer?”

Mandi du Plooy (aktrise): “Dit is geweldig skokkend en hartseer en ek sal alles in my vermoë doen om mense te waarsku.”

Org Strauss (rubyspandokter): “Dit kan nooit ooreenstem met my waardes as Christen en Afrikaner nie. Die blootstelling aan pornografie is besig om ons jeug se opvoeding te vernietig.”

Victor Matfield (Springbok-slot): “Ek as ouer van twee kinders wil nie my kinders aan pornografie blootstel nie.”

Adriana Tollig (aktrise): “Pornografie, saam met godslastering, en 'n rits ander sondes word daagliks in hoër dosisse by ons vermaak gemeng en ons word al hoe lakser en gemakliker daarmee.”

Bobby van Jaarsveld (sanger):  “As hulle dink daar is baie skade aan Suid-Afrika se mense, gesinne en veral jong mense het hulle nog niks gesien tot hulle daai snert begin toelaat nie. Dis siek!”

Sean Else
(musiekvervaardiger, liedjieskrywer en voormalige lid van die groep Eden): “Ek wil nie hê my geld moet bydra tot die vervaardiging van pornografie nie. Die media se vryheid onderstreep weereens die verantwoordelikheid van die individu en ouers om jouself en jou kinders te beskerm!”

Schalk Baard
(lid van die sanggroep Navi Redd): “Dit is belaglik en baie hartseer dat MultiChoice op so 'n manier ekstra geld wil maak.”

Carike Keuzenkamp (sangeres): “Ek is definitief heeltemal gekant teen enige vorm van pornografie op televisie.”

Shaleen Surtie Richards (aktrise) “Ek bid tot die Here dat die mense wat hierdie besluite neem nie self kinders of pedofiele in hulle familie het nie.”

Brittanje ook daarteen gekant

Intussen het Brittanje se Departement van Binnelandse Sake ook verlede maand 'n beroep op Britse TV-stasies gedoen om nie seksuele musiekvideo’s voor 21:00 uit te saai nie. In 'n ondersoek het dié departement bevind dat Britse kinders te veel aan die seksuele blootgestel word op mediums soos die internet, tydskrifte en TV-programme.
Volgens die navorsing, waaraan 'n groot hoeveelheid sielkundiges en opvoedkundiges deelgeneem het, is bevind dat tieners wat aan te veel volwasse inhoud blootgestel word, simptome soos gesondheidsprobleme, depressie en geweld begin ontwikkel. Dié materiaal plaas ook verdere sielkundige druk op hulle om meer vreesloos en avontuurlustig met die seksuele om te gaan.
Frank Furedi, 'n professor van sosiologie by die Universiteit van Kent, is een van die deelnemers aan die navorsing. Sy probleem is dat daar vir kinders 'n verkeerde prentjie geskep word dat alles net om seks draai.

Wil jy jou mening uitspreek oor MultiChoice se
voorgenome plan om pornografie uit te saai? Doen dit só:

Neem dié maand aan die Maart 2010-debat in jouwêreld deel.
Besoek www.neevirpornografie.co.za en lewer kommentaar.
Om 'n protesstem aan te teken, SMS die woord “pornografie” na 35960.

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend