wen
'n kopie van Retha en Aldo McPherson se boek,
Van God: 'n Boodskap van Geloof. Skryf só in.
Rozanne Myburgh

deur Rozanne Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die voormalige Mev SA, Retha Mc Pherson, se lewe het na 'n ongeluk in 'n oogwink verander: Jesus het haar oudste seun weggeneem en aan hom die hemel en hel gaan wys – maar toe teruggestuur om die mense te kom waarsku.

Hy is soos enige normale tienerseun: hy het 'n oog vir 'n mooi meisie, speel graag sokker saam met sy vriende en beleef die normale emosies van die storm-en-drang-jare.
Tog is Aldo Mc Pherson (17) van Hartbeespoort, oos van Pretoria, geen normale tienerseun nie. Retha en Aldo Mc PhersonNadat hy en sy gesin ses jaar gelede in 'n ernstige motorongeluk betrokke was, is hy uit die rollende voertuig geslinger en het vir lank in 'n koma langs die pad gelê voordat die nooddienste opgedaag het. In dié tyd het Jesus hom kom optel en aan hom die hemel en hel gaan wys, vertel hy. Maar toe is hy teruggestuur aarde toe om vir Hom te kom werk, was die opdrag aan Aldo.
Serdertdien beleef Aldo daagliks hemelse ervaringe, en is baie van sy profesië reeds bewaarheid.

Die jaar 2004 was 'n goeie jaar vir die Mc Pherson-gesin. Retha, toe 'n suksesvolle voorkomskonsultant, is pas gekroon as Mev. Suid-Afrika. Sy is ten volle deur haar man, Tinus, ondersteun, en met twee pragtige seuns, Aldo en Josh (toe 12 en 2 jaar oud), was alles volmaak.
Haar lewe was perfek, het Retha toe gedink. Maar toe gebeur die ongeluk wat die koers van haar eens perfekte lewe onherroeplik verander het, vertel sy.
Die gesin was oppad terug huis toe vanaf 'n geleentheid in die Vrystaat waar Retha as gasspreker opgetree het. Skielik was daar 'n stilstaande voertuig sonder ligte reg voor hulle op die N1-snelweg.
Om 'n botsing met die aankomende verkeer te vermy, is Tinus met hul motor aan die linkerkant van die snelweg af waar dit begin rol het. Albei seuns is uit die kar geslinger. Vir Josh het hulle maklik opgespoor net buite die wrak in die nag-donkerte, maar vir Aldo kon hulle nêrens kry nie.
“Na wat soos 'n ewigheid gevoel het, het ek Aldo se bewustelose lyfie aan die anderkant van die snelweg gevind,” vertel Retha, steeds emosioneel.
Retha het instinktief oor haar seun gaan lê, maar sy vertel hoe sy op daardie oomblik 'n warm vuur oor haar voel spoel het, gevolg deur die vrede van God. Aldo is later deur 'n noodhelikopter na 'n hospitaal in Bloemfontein vervoer.

Nadat hy weke later uit sy koma gekom het, was hy spasties en kon vir maande lank nie loop of praat nie. Op 'n dag het Retha vir hom 'n pen en vel papier gegee en hom gevra of hy iets wil skryf. Hy het dit aangegryp, en vir lank was sy bewerige, spastiese kinderhandskrif die enigste manier hoe hulle kon kommunikeer totdat sy spraak later monotoonagtig teruggekeer het.
Aldo het geen bewustelike herinnering van die motorongeluk gehad nie, maar tog, in een van sy eerste skrywes, vra hy sy ma of sy kan onthou, toe sy op die ongelukstoneel oor sy lyfie gelê het, dat sy toe in Jesus se oë gekyk het.
Toe skryf hy dat Jesus hom op daardie oomblik opgetel en aan hom die hemel en die hel gaan wys het. Daar was baie kinders in die hemel, skryf hy, en hy het vir Moses en Abraham ook gesien. Die engele en almal daar was gelukkig en niemand was siek nie.
Later het die Here vir hom gesê Hy stuur hom terug aarde toe, want hy moet vir Hom hier op aarde kom werk.
In 'n ander inskrywing in sy joernaal, skryf Aldo ook: “Ek het baie mense daar gesien wat skreeu. Mense het vir my geskreeu: waarsku gou almal want hulle glo nie. Weet jy Mamma, wat ek gesien het, het my laat huil.”

Retha McPhersonDit is ses jaar later, en God openbaar steeds voortdurend dinge aan Aldo, vandag 'n leerling aan 'n privaatskool in Hartbeespoort – maar dit beteken nie sy lewe is enigsins makliker nie. Weens die breinbesering wat hy tydens die ongeluk opgedoen het, sukkel hy nog met sy spraak, balans en beweging, en moet steeds mediese- en fisiobehandeling kry.
In Desember alleen het die McPherson’s se hospitaalrekening meer as R160 000 beloop. Voor een van sy hospitaalbesoeke, skryf Aldo in sy dagboek: “Sê vir hulle hulle moet na die pompie self kyk. Hy is gebreek.”
En met die doktersondersoek is dit toe ook bevind dat daar probleme is met die pompie wat die vog uit sy brein moet dreineer.
Op 'n ander geleentheid het Aldo die hele nag op sy knieë deurgebring. Toe hy opstaan, skryf hy “Wysheid sê ons moet nou hospitaal toe. Hulle moet na my breinwater kyk.”
Retha en Tinus het hom onmiddellik hospitaal toe geneem waar die dokters dadelik op hom geopereer het.
Hulle gaan eers dokter toe as die Heilige Gees – of Wysheid soos Aldo hom noem – so sê, verduidelik Retha.
Retha McPherson pas nadat sy as Mev Suid-Afrika gekroon is. Foto: Simon Rademan
Aldo het ook talle ander gebeurtenisse, soos die 2004-tsunami in die Ooste en die 2008-ekonomiese krisis in Amerika, raak voorspel. So het hy ook geprofeteer dat hy en sy ma 'n boek gaan skryf wat oor die wêreld heen gelees gaan word. Dié boek, 'n Boodskap van God, is tans in verskeie tale beskikbaar.

Die nuutste vertaling, in Hebreeus, word vanaf volgende November gratis in Israel versprei want vir Retha gaan dit nie oor die geld nie. Dit gaan oor die saad, verduidelik sy.
“Wat jy saai sal jy maai. Vertel my hoeveel tyd jy saam met God deurbring, en ek kan jou van jou verhouding met Hom vertel.”

Sy en haar man bedryf ook die Retha McPherson Ministries, 'n internasionale bedieningsbeweging, met sy onder andere 'n gas op die weeklikse evangeliasie-program, It’s Supernatural, aangebied deur Sid Roth op Amerikaanse TV.
Volgens die TV-vervaardiger is daar in dié kanaal se geskiedenis van 20 jaar nog nooit soveel boeke verkoop na 'n program soos die dag wat Retha daarop verskyn het nie.

“Dit is alles net genade. Ons leef uit God se hand,” sê Retha. “En die lewe saam met God is 'n wonderwerk.”
Retha het geen teologiese opleiding nie, maar sy glo God leer haar elke dag. Deur Sy Woord, en deur drome. Om net kerk toe te gaan, is volgens haar, 'n leë gebaar.
“Die kerk het geleerdheid, maar die religie en rituele staan in die pad van 'n ware, intieme verhouding met God.”
Retha beskryf hierdie verhouding as 'n geestesdimensie binne 'n aardse bestaan.
“Die vlees moet uit die pad kom vir 'n intieme verhouding met God. Aanbidding sonder Gees is karaoke,” verduidelik sy passievol verder.
“As jy nie 'n intieme verhouding met God het nie, kan jy nie sy stem in jou lewe hoor nie.”
En hoe klink hierdie stem?
“God se stem is liefde. Want God is liefde.”
Retha skryf tans aan hul derde boek, 'n dagstukkieboek, wat einde van die jaar sal verskyn. Daarin beklemtoon Aldo weereens: “Mamma, almal in die hel was gewaarsku.”

jougeskenke

3 Gelukkige lesers kan elk 'n kopie van Retha en Aldo McPherson se boek, Van God: 'n Boodskap van Geloof, wen. SMS die woorde JW GELOOF, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 30 April 2010.
SMS’e kos R5.00 elk.

Lees ook die kompetisiereëls.

Vir meer inligting, besoek www.rethamcpherson.com of stuur 'n e-pos aan retha@rethamcpherson.com.

Die boeke 'n Boodskap van God, en 'n Boodskap van Geloof, is deur Maranatha Christelike Uitgewers uitgegee en is landswyd in boekwinkels beskikbaar.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend