Rozanne Myburgh

deur Rozanne Myburgh




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die gewilde middernag Spooksessie op RSG het nou finaal tot 'n einde gekom – maar vir die aanbieder Renske Jacobs was dié laaste uitsending baie emosioneel.

Sy is 'n harde werker: driftig en passievol – die woord middelmatigheid bestaan nie in haar dagboek nie. Daarom het dit die vryskut radio-omroeper Renske Jacobs 'n week geneem om haar voor te berei vir dié spesiale deurnagsessie.
Saterdagnag, skuins voor 12 uur, skuif sy agter die RSG-mikrofoon in die skemer ateljee in. Soos wat sy die afgelope ses jaar reeds doen. Buite sit 30 000 luisteraars en wag vir die middernagnuus, en dan daardie bekende heesstem: “Dit is tien oor twaalf en tyd vir ware spookstories. Wees maar bang. Baie bang.”
Haar stem meng met die spookagtige byklanke, soos haar luisteraars dit reeds ken.
Maar dié keer is dit anders. Dié keer is dit haar laaste deurnagsessie. Die laaste keer dat haar diep stem die ongeveer 30 000 luisteraars in koue sweet van bangheid laat uitslaan. Sondagoggend, 31 Januarie, was die laaste keer dat Renske Jacobs se Spooksessie oor die RSG-senders gehoor kon word.

“Ja, dit was maar 'n emosionele ding,” erken sy direk na die uitsending. “Ek is 'n emosionele mens, maar ek is ook mal daaroor om ander bang te maak. Jy weet, daai lékker-bang. Nie die bang wat 'n mens vir misdaad voel nie, maar die een wat met die pomp van adrenalien gepaard gaan.”
Hoendervleis-bang, noem sy dit.

Renske Jacobs
Spookstories is eie aan ons kultuur, voel Renske.

Foto's deur Rozanne Myburgh.
Kliek op die foto's vir 'n groter weergawe.

Dis die dat sy destyds in 2003, toe sy met die middernagskof by RSG begin het, met die idee van spookstories vorendag gekom het. Maar die klem lê vir haar op vermaak.
“Spookstories is eie aan ons kultuur. Dit gaan hand-aan-hand met storie-vertel-aande om die vuur op die plaas,” vertel Renske wat ook die anker-aanbieder van kykNet se Tuine en Tossels is.
Nie almal stem egter daarmee saam nie: Deur die jare is sy al daarvan beskuldig dat sy haar met bose dinge besig hou.
“Nee wat,” sê Renske en laat alle twyfel met 'n dringende kyk in haar oë verdwyn. “Die Spooksessie was nooit bedoel om ernstig te wees nie. Daar is mos 'n kuns daaraan om 'n spookstorie te skryf; om die spanningslyn te bou en dit op net die regte tyd te laat eindig.”

Sy het ook nou haar hand aan hiérdie kuns gewaag deur self 'n spookstorie vir die laaste RSG-Spooksessie te skryf. Gedurende die nagtelike ure, wanneer sy op haar kreatiefste is.
“Ek het nog nooit self 'n spook gesien nie,” erken sy. “Maar met dié een het ek myself só bang geskryf dat ek moes ophou en eers vir daglig wag voordat ek verder kon skryf!”
Die stories wat Renske gewoonlik voorgelees en met grillerige byklanke ingekleur het, is almal deur die navorser en spookkenner, Leandré Hanekom, geskryf.
“Leandré is 'n wonderlike mens om mee saam te werk. Ek sou nie so lank hiermee kon aanhou as dit nie vir haar was nie,” sê Renske, wat haarself as oopkop, maar skepties, beskryf.

Renske self is eintlik heel bedrewe in die skryfkuns, want sy skryf, vervaardig en doen self die produksie van die gewilde RSG-kinderstoriereeks, Poen en Toekie, saam met haar kollega Christelle Webb-Joubert.
Kinderstories is vir Renske 'n kreatiewe uitlaatklep, iets wat sy met haar bekende omroeper-pa, wyle Roelf Jacobs, wat op 49-jarige ouderdom in 1990 oorlede is, in gemeen het.
“Ek volg beslis in my pa se voetspore,” sê sy. Maar dit was nooit 'n doelbewuste besluit nie.”
Dit is juis haar radioberoep wat haar soms laat wonder hoekom sy nie juis meer met hom daaroor gesels het nie. En wat haar ook laat besef hoe baie sy hom nou nog mis.
Sy was in st. 9, haar jongste sussie het pas met hoërskool begin en haar oudste sussie het op trou gestaan, toe haar pa aan 'n hartaanval oorlede is.
Dit was 'n hartseer tyd vir die Jacobs-gesin wie se huis altyd vol lag en drama was. Sy is die enigste van die drie dogters wat 'n drama-loopbaan gevolg het, alhoewel haar pa 'n omroeper, skrywer en storieverteller; en haar ma 'n drama-onderwyseres was.
“My kop het altyd drama toe gestaan,” verduidelik Renske. “Maar ek het destyds net nooit aan radio gedink nie. Vandag weet ek daar is só baie wat 'n mens by die ouer, meer ervare omroepers kan leer.”
Daarom steek sy graag kers op by hulle: “Dit is hoe 'n mens leer!”
Soos al die fynere kunsies en hoe om snydende kritiek en luisteraars wat soms erg persoonlik raak, te hanteer.
“Dit is lesse wat mens slegs met ervaring kan leer,” sê sy.

En dit is ook, behalwe vir meer tyd saam met familie en vriende, die rede hoekom sy besluit het om die spooksessies vaarwel te roep.
“Ek is dankbaar vir alles wat ek die afgelop ses jaar geleer het, maar as jy as vryskut werk, moet jy veranderingsfiks bly. Anders verval jy in 'n groef.”
En 'n groef is wat sy wil vermy ja, want die vryheid van keuses – dít is wat haar aan die gang hou.
Sy is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê, maar die afskeid is tog swaar.
“Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat oor my pad gekom het,” verduidelik Renske. “Ek het beslis ander fasette van myself ontdek, dissipline geleer . . .”

Dit was skuins voor vyfuur Sondagoggend toe Renske se laaste middernagsessie op RSG tot 'n einde kom. 'n Hartseer glimlag vlek haar mondhoeke as sy haar getroue luisteraars – van wie sy baie op die voornaam ken – groet. Die refleksies van die flou lig dans spookagtig op die glaspanele van die ateljee as sy die deur finaal agter haar toetrek.
Asof daar dalk 'n spook of twee kon wees wat ook kom inloer het om te groet.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend