September 2008

 

 


Proefbuis tot proefkonyn

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Tanya Van der Westhuizen

 

Mediese eksperimente op mense was nie altyd eties nie – en dit was boon-op uiters pynlik en onmenslik teenoor die slagoffer. Was dit werklik ter bevordering van die mediese wetenskap of suiwer selfsugtige soeke na erkenning? En hoe vind dié eksperimente vandag plaas?


Die Synexus kliniese-navorsingsentrum herinner sterk aan 'n goed ingerigte intensiewe sorgeenheid

In 1874 besoek 'n Ierse diensmeisie, Mary Rafferty, die Good Samaritan Hospital in Cincinnati. Sy het 'n groot seer aan die een kant van haar kop wat net nie wil genees nie. Dokters diagnoseer kanker. Pogings om die gewas chirurgies te verwyder blyk onsuksesvol te wees, want haar dokters stem uiteindelik saam dat die toestand ongeneeslik is.

Een van hulle, dr.Roberts Bartholow, kry die idee om Mary in 'n mediese eksperiment te gebruik. Tydens sy eksperiment druk hy 'n naald in haar brein terwyl hy elke gebeurlikheid in die fynste detail beskryf – van haar eerste pynkreet tot sy uiteindelik ten aanskoue van die dokter 'n volwaardige links-sydige epileptiese aanval kry. Sy sterf 'n paar dae later en die oorsaak van dood op haar doodsertifikaat word aangegee as kanker.

Daar is talle gedokumenteerde voorvalle van onetiese en onmenslike eksperimente op mense oor die eeue heen. Om maar net enkeles te noem:
· 1845 tot 1849: Dr Marion Sims, tradisioneel gesien as die vader van ginekologie, doen eksperimentele operasies op vroulike slawe, sonder enige narkose. Dikwels sterf hulle kort na chirurgie van infeksie.
· 1919 tot 1920: Dokters plant die testikels van onlangs tereggestelde gevangenes oor in die skrotums en buike van ander gevangenes.
· 1932 tot 1972: In Tuskegee, VSA, doen die regering 'n studie op 200 mans met sifilis. Die doel is om die volle verloop van die siekte te bestudeer in ruil vir gratis mediese sorg. Die pasiënte word slegs ingelig dat hulle "vuil bloed" het. Teen 1947 was penisillien, wat die siekte heeltemal genees, geredelik beskikbaar, maar die pasiënte word egter nooit ingelig dat daar wel genesing vir hul siekte is nie. Gevolglik verloop die siekte enduit - met ernstige nagevolge vir die mans. Min mense is daarvan bewus dat president Bill Clinton op 9 Julie 1998 formeel hiervoor verskoning aangebied het namens die Amerikaanse regering. Die families ontvang ook finansiële vergoeding vir die insident.
· 1943: Dr Joseph Mengele doen tweeling-studies in die Auschwitz-konsentrasiekamp in Pole. Onder andere spuit hy chemiese stowwe in die tweelinge se oë in 'n poging om hul oogkleur te verander. 

Mens vra jouself die vraag: was dié praktyke werklik ter bevordering van die mediese wetenskap of slegs suiwer selfsugtige soeke na erkenning?

Hippocrates, die vader van mediese etiek, het sy studente een belangrike beginsel geleer: "Primum non nocere" (Doen eerstens geen skade nie).

Genadiglik het mediese eksperimente momentum begin verloor met die gebeure rondom die Nuremberg-verhoor in 1947. 'n Stel van tien etiese reëls het tot stand gekom wat as riglyne dien vir almal wat beoog om navorsing op mense te doen. Die kernboodskap van die Nurembergkode is die vrywillige deelname aan eksperimente. Persone moet ook deeglik ingelig word oor die studie, insluitend moontlike gevare wat dit vir die proefpersoon inhou.

Die wêreld haal sy oogklappe af, want in 1964 aanvaar die Wêreld Mediese Vereniging die Helsinki-deklarasie. In beginsel beteken dit dat die individu se welvaart en gesondheid verhewe is bo die belange van die wetenskap of die mensdom. Maar 'n deklarasie is net dít, 'n verklaring. Sou dit die wetenskap stuit?

Getrou aan die aard van die mensdom gaan die eksperimentering voort. Gerespekteerde name soos die CIA betree die domein van biologiese oorlogvoering. Daar word onder andere gepoog om 'n ongeneeslike virus te ontwerp, wat spesifieke etniese groepe sal teiken, deur gebruik te maak van variasies in DNA, dus verskille in individuele vatbaarheid, onder die verskillende etniese groepe. Daar word gespekuleer dat die molekulêre biologiese metodes, soos die van die Special Operations Division by Fort Detrick rondom 1970, gebruik word om VIGS-verwante retrovirusse te produseer.

Die National Urban league besluit om in 1976 'n konferensie te hou waartydens hulle menslike eksperimentering bespreek. Hulle maak die volgende stelling: "Ons wil nie die wetenskap vermoor nie, maar ons wil ook nie hê dat die wetenskap ons vermoor en misbruik nie". Tog duur voorvalle van onetiese proewe voort. In 1990 ontvang 1500 Meksikaanse babas 'n eksperimentele maselsvaksine. Hul ouers is onbewus daarvan dat dit 'n eksperimentele middel is.

In 1991 maak die Wêreld Gesondheidsorganisasie sy stem dik met CIOMS riglyne. Dit is op vier etiese beginsels gebaseer, nl.: Regverdigheid, respek vir die individu, eksperimentering moet voordelig wees vir die deelnemer en daar mag geen finansiële voordeel vir so 'n persoon wees nie.

Gedurende April 1990 het navorsingsbeheerliggame van die Europese Unie, Japan, en die VSA in Brussels vergader. Die International Conference on Harmonisation (ICH), 'n projek wat beter samewerking tussen hierdie lande bewerkstellig, is tot stand gebring. Die doel van die projek is om onnodige duplisering van proewe te vermy en om nuwe middels gouer vir ontwikkeling beskikbaar te maak sonder om die kwaliteit, veiligheid of effektiwiteit van die middel in te boet.

In die Good Clinical Practice-handleiding, wat deur die ICH opgestel is en as die navorser se bybel beskou word, word die reëls van navorsing en ontwikkeling in die fynste besonderhede beskryf. Maar is dit veilig om vandag aan mediese proewe deel te neem?
 

Dr Sanet Aspinal, besturende direkteur van die Synexus kliniese-navorsingsentrum in Pretoria, sê dit is beslis veilig.
Dié sentrum herinner sterk aan 'n goed ingerigte intensiewe sorgeenheid: die atmosfeer is warm en gesellig, tog hoogs professioneel.
Sanet vertel dat hulle toegewyd is in hul strewe na die hoogste kwaliteit kliniese navorsing – en dat navorsing vandag meer eties gedoen word as in die verlede.

Sy en haar span benader elke projek met entoesiasme en deursigtigheid. Dr Aspinal som die verskillende fases van ontwikkeling van 'n nuwe middel as volg op:
· Navorsing en ontwikkeling van nuwe middels:
Navorsing     
  Ontdek dit
Tegnies          Maak dit
Veiligheid       Toets dit in die laboratorium en op proefdiere
Medies         
  Fase I tot IV studies op mense
Regulatories    Registreer dit
Kommersieel
 Verkoop die

· Die veiligheid en toetsing van nuwe middels vind in vier fases plaas:
Fase I: Is die middel veilig en word dit goed verdra in mense? 'n Klein groepie gesonde vrywilligers word hier gebruik.
Fase II: Werk die middel vir die indikasie waarvoor dit bestem was? Wat is die regte dosering? Groter groepe gesonde vrywilligers word gebruik.
Fase III: Hoe effektief en veilig is dit? Die middel word nou aan siek mense gegee. Registrasie kan plaasvind indien die middel voldoen aan standaarde.
Fase IV: Die middel is nou geregistreer, maar hoe vergelyk hy met sy voorgangers? Groot groepe siek mense word nou betrek.

Synexus se fase I studie-eenheid maak gebruik van gesonde vrywilligers. Die proewe word voorafgegaan deur 'n inligtingsessie waar die hele groep in die fynste detail ingelig word oor elke gebeurlikheid van die studie – tot met die presiese hoeveelheid bloed wat tydens die studie getrek gaan word. Toestemmingvorms mag huis toe geneem en goed deurdink word, voordat 'n persoon toestemming gee. Selfs daarna mag 'n mens onttrek, sou jy van plan verander.

Wat van gerugte wat die rondte doen dat dit 'n goeie geldmaakstorie is, veral onder studente? Sanet sê hulle vergoed pasiënte slegs vir vervoer en ongerief rondom die besoeke en wel volgens bepalings van die etiese-komitee wat die studie goedgekeur het. Daar is ook streng kontrole rondom die aantal proewe waaraan 'n studiepersoon mag deelneem.

Mev. Delores Esterhuizen, 'n 62-jarige dame van Pretoria, beskryf haar deelname aan so 'n studie as baie insiggewend. Sy het deelgeneem aan 'n studie om 'n generiese middel vir Parkinsonisme te toets.
"Ek het in my hele 62 jaar nooit soveel mediese aandag gekry as tydens die drie weke in die studie nie. Soveel EKG's en bloedtoetse! Dit was die moeite en opoffering werd. Ek is daar weg met 'n verslag vir my dokter en 'n paar heerlike reseppies wat die ander dames in die studie onderling gedeel het."

Mense word daagliks gediagnoseer met ongeneeslike siektes. Ons hoop almal om 'n deurbraak te sien in die behandeling van HIV en ander aansteeklike siektes. Kinders kry leukemie, breingewasse en erf aangebore defekte. Ons kinders. Dalk my kind, jou pa. Miskien moet die mensdom homself daaraan herinner dat pokke 'n siekte is wat uitgeroei is as gevolg van immunisering. Daar word gesê: Een kers kan 'n duisend ander laat brand sonder om sy eie vlam te verloor.  Miskien is dit deesdae tog veilig om deel te neem aan mediese proewe.



Dr Sanet Aspinal, besturende direkteur van die Synexus kliniese-navorsingsentrum.

 

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!