|
In 1874 besoek 'n Ierse diensmeisie, Mary
Rafferty, die Good Samaritan Hospital in
Cincinnati. Sy het 'n groot seer aan die een
kant van haar kop wat net nie wil genees nie.
Dokters diagnoseer kanker. Pogings om die gewas
chirurgies te verwyder blyk onsuksesvol te wees,
want haar dokters stem uiteindelik saam dat die
toestand ongeneeslik is.
Een van hulle, dr.Roberts Bartholow, kry die
idee om Mary in 'n mediese eksperiment te
gebruik. Tydens sy eksperiment druk hy 'n naald
in haar brein terwyl hy elke gebeurlikheid in
die fynste detail beskryf – van haar eerste
pynkreet tot sy uiteindelik ten aanskoue van die
dokter 'n volwaardige links-sydige epileptiese
aanval kry. Sy sterf 'n paar dae later en die
oorsaak van dood op haar doodsertifikaat word
aangegee as kanker.
Daar is talle gedokumenteerde voorvalle van
onetiese en onmenslike eksperimente op mense oor
die eeue heen. Om maar net enkeles te noem:
·
1845 tot 1849: Dr Marion Sims, tradisioneel gesien as die
vader van ginekologie, doen eksperimentele
operasies op vroulike slawe, sonder enige
narkose. Dikwels sterf hulle kort na chirurgie
van infeksie.
·
1919 tot 1920: Dokters plant die testikels van onlangs
tereggestelde gevangenes oor in die skrotums en
buike van ander gevangenes.
·
1932 tot 1972: In Tuskegee, VSA, doen die regering 'n
studie op 200 mans met sifilis. Die doel is om
die volle verloop van die siekte te bestudeer in
ruil vir gratis mediese sorg. Die pasiënte word
slegs ingelig dat hulle "vuil bloed" het. Teen
1947 was penisillien, wat die siekte heeltemal
genees, geredelik beskikbaar, maar die pasiënte
word egter nooit ingelig dat daar wel genesing
vir hul siekte is nie. Gevolglik verloop die
siekte enduit - met ernstige nagevolge vir die
mans. Min mense is daarvan bewus dat president
Bill Clinton op 9 Julie 1998 formeel hiervoor
verskoning aangebied het namens die Amerikaanse
regering. Die families ontvang ook finansiële
vergoeding vir die insident.
·
1943: Dr Joseph Mengele doen tweeling-studies in die
Auschwitz-konsentrasiekamp in Pole. Onder andere
spuit hy chemiese stowwe in die tweelinge se oë
in 'n poging om hul oogkleur te verander.
Mens vra jouself die vraag: was dié praktyke
werklik ter bevordering van die mediese
wetenskap of slegs suiwer selfsugtige soeke na
erkenning?
Hippocrates, die vader van mediese etiek, het sy
studente een belangrike beginsel geleer: "Primum
non nocere" (Doen eerstens geen skade nie).
Genadiglik het mediese eksperimente momentum
begin verloor met die gebeure rondom die
Nuremberg-verhoor in 1947. 'n Stel van tien
etiese reëls het tot stand gekom wat as riglyne
dien vir almal wat beoog om navorsing op mense
te doen. Die kernboodskap van die Nurembergkode
is die vrywillige deelname aan eksperimente.
Persone moet ook deeglik ingelig word oor die
studie, insluitend moontlike gevare wat dit vir
die proefpersoon inhou.
Die wêreld haal sy oogklappe af, want in 1964
aanvaar die Wêreld Mediese Vereniging die
Helsinki-deklarasie. In beginsel beteken dit dat
die individu se welvaart en gesondheid verhewe
is bo die belange van die wetenskap of die
mensdom. Maar 'n deklarasie is net dít, 'n
verklaring. Sou dit die wetenskap stuit?
Getrou aan die aard van die mensdom gaan die
eksperimentering voort. Gerespekteerde name soos
die CIA betree die domein van biologiese
oorlogvoering. Daar word onder andere gepoog om
'n ongeneeslike virus te ontwerp, wat spesifieke
etniese groepe sal teiken, deur gebruik te maak
van variasies in DNA, dus verskille in
individuele vatbaarheid, onder die verskillende
etniese groepe. Daar word gespekuleer dat die
molekulêre biologiese metodes, soos die van die
Special Operations Division by Fort
Detrick rondom 1970, gebruik word om
VIGS-verwante retrovirusse te produseer.
Die National Urban league besluit om in
1976 'n konferensie te hou waartydens hulle
menslike eksperimentering bespreek. Hulle maak
die volgende stelling: "Ons wil nie die
wetenskap vermoor nie, maar ons wil ook nie hê
dat die wetenskap ons vermoor en misbruik nie".
Tog duur voorvalle van onetiese proewe voort. In
1990 ontvang 1500 Meksikaanse babas 'n
eksperimentele maselsvaksine. Hul ouers is
onbewus daarvan dat dit 'n eksperimentele middel
is.
In 1991 maak die Wêreld Gesondheidsorganisasie
sy stem dik met CIOMS riglyne. Dit is op vier
etiese beginsels gebaseer, nl.: Regverdigheid,
respek vir die individu, eksperimentering moet
voordelig wees vir die deelnemer en daar mag
geen finansiële voordeel vir so 'n persoon wees
nie.
Gedurende April 1990 het navorsingsbeheerliggame
van die Europese Unie, Japan, en die VSA in
Brussels vergader. Die International
Conference on Harmonisation (ICH), 'n projek
wat beter samewerking tussen hierdie lande
bewerkstellig, is tot stand gebring. Die doel
van die projek is om onnodige duplisering van
proewe te vermy en om nuwe middels gouer vir
ontwikkeling beskikbaar te maak sonder om die
kwaliteit, veiligheid of effektiwiteit van die
middel in te boet.
In die Good Clinical Practice-handleiding,
wat deur die ICH opgestel is en as die navorser
se bybel beskou word, word die reëls van
navorsing en ontwikkeling in die fynste
besonderhede beskryf. Maar is dit veilig om
vandag aan mediese proewe deel te neem?
|