|
Die misdaadsyfer in Suid-Afrika skiet die hoogte in. En nou is dit nie meer net die persepsie van die publiek nie, dit is ook amptelik deur die nuutste polisiestatistiek bevestig wat verlede maand deur die nuwe minister van polisie, Nathi Mthethwa, bekend gemaak is.
Dié syfers, vir die tydperk 1 April 2008 tot 30 Maart 2009, het 'n donker prentjie geskets: dit was geen nuwe nuus vir die gewone landsburger op straat nie, maar die verskil is dat die polisie en die regering dit nou erken. Ook dat hulle nie genoeg doen om misdaad te bekamp nie. Dit staan in skrille kontras met 'n voormalige staatspresident wat gesê het daar is geen misdaadkrisis in Suid-Afrika nie, en 'n polisiebaas wat mense wat kla aangeraai het om dan maar eerder te imigreer.
Mthethwa het tydens die bekendmaking van die syfers gesê misdaad in Suid-Afrika het 'n unieke en gewelddadige karakter. En dat die polisie nie genoeg doen om dit te pak nie.
Huisrooftogte het onder andere die afgelope jaar met 27,3%, vragmotorkapings met 15% en rooftogte by besighede met 41,1% gestyg. Seksuele misdrywe het met 10% gestyg. Handelsmisdaad met 16,6%. En motorkapings 5%.
In dié tydperk is 18 487 mense vermoor. En dit maak die nuwe flambojante nasionale polisiehoof, Bheki Cele, erg ongelukkig: Hy is nié tevrede met die misdaadvlakke in die land nie, het hy gesê. “Mense lê op hul beddens en slaap, dan word wapens op hulle gerig en hulle word vermoor vir hul besittings. Mense is nie meer veilig in hul eie huise nie.”
AfriForum stem saam met Cele. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum, sê 'n mens se woning is veronderstel om 'n veilige omgewing te wees. “Maar die statistiek wys dat Suid-Afrikaners die onveiligste is by die plekke waar hulle die meeste van hul tyd spandeer, naamlik by die werk en by die huis.”
Ook hy voel dat die regering nie genoeg doen in die stryd teen ernstige geweldsmisdade nie.
Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder van polisie, wys daarop dat die 27,3 styging van huisrooftogte die afgelope jaar eintlik erger is as daar na die wyer prentjie gekyk word.
“Roof by woonhuise het in die vorige jaar met 26%, en die jaar voor dit met 13% toegeneem. Dit beteken dié misdaad het die afgelope drie jaar met 54% gestyg.”
Die Suid-Afrikaanse moordsyfer is nou 37,3 per 100 000 van die bevolking, maar die wêreldgemiddeld is maar 5 per 100 000.
“In Suid-Afrika word 50 mense per dag vermoor; moord is hier amper agt keer hoër as die wêreldgemiddeld,” sê Groenewald.
Hy verwelkom egter die afname in ander misdade, asook dat die minister nou onderneem het om misdaadsyfers meer gereeld bekend te maak. Dit is iets wat vorige polisiebase baie huiwerig was om te doen.
Die ondervoorsitter van die CDA, Theunis Botha, voel dit is “baie duidelik dat misdadigers in Suid-Afrika nie gestuit word nie”.
“Die jongste misdaadstatitieke bevestig dat die oplossing in morele heropbou lê, en dat die simptomatiese aanspreek nie op sy eie 'n oplossing bied nie. Morele herlewing is doodgewoon nie meer net 'n opsie nie, dit is noodsaaklik.”
|