November 2008
Jaargang 1 Uitgawe 4

 

 

   Matrieks . . .  en die eindeksamen

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Naomi Myburgh

e-pos die skrywer
 

Uit die perd se bek: 'n paar jongmense van die Wes-Kaap deel hul ervaring van die matriek-eindeksamen

 


(foto: ccarlstead)

Dis weer dáárdie tyd van die jaar – wanneer die middernagvure vir die land se matrikulante hoog brand. Dis dié tyd wanneer toekomsdrome verwesenlik word óf 'n vinnige dood sterf. 'n Paar jongmense van die Wes-Kaap deel hul ervaring van die matriek-eindeksamen.

Konrad van Zyl (19), 'n skrander leerder, het verlede jaar aan 'n bekende plattelandse skool in die Boland gematrikuleer. Met sy sonnige geaardheid, sterk leiereienskappe en gewildheid onder sy maats, was dit nie snaaks dat hy as hoofdirigent tydens die jaarlikse Interskole verkies was nie. Sy lenige bou en aantreklike gesig het ook aan hom die Eerste Prins-titel tydens sy skool se jaarlikse Artes-aand besorg.

Hy vertel hy wou graag op Stellenbosch graad gaan vang het, waarna hy die korporatiewe wêreld wou aandurf.
"Ongelukkig het my sosiale verpligtinge swaarder as my skoolwerk geweeg, en na die matriekuitslae was Stellenbosch skielik 'n droom buite my bereik," sê hy. "Ek het egter besluit om van my vakke te her, en weer vir die 2009-inname aansoek te doen."

Is daar 'n neiging onder matriekseuns om dalk nie so toegewyd soos die meisies te wees nie?

My betrokkenheid by dagga was dié hoofoorsaak waarom ek nie my aandag aan my skoolwerk gegee het nie, erken Konrad. "Dit het my lewe gekompliseer! Seuns is ook as 'n reël nie so toegewyd soos meisies nie," meen hy.

Jacques van Litsenborgh (19) het sy matriekjaar gedruip. "My drome was om na skool ryk, suksesvol en beroemd te wees," lag hy – maar sy suster is twee maande vóór sy eindeksamen tragies in 'n motorongeluk oorlede. Natúúrlik sou dit 'n rol speel tydens die voorbereiding van die belangrikste eksamen van sy lewe.
Tog meen Jacques: "Vir meeste tieners is hul sosiale kalenders belangriker as hul handboeke. Ek was gelukkig om vinnig 'n werk by 'n motorverhuringsmaatskappy by die Kaapstadse-lughawe te kry. Ek het besluit om my matriek te her, wat ek toe wel deurgekom het. En nou is ek oppad Engeland toe!"

Binki Basson (19), wat veral in swem en netbal uitgeblink het, was verlede jaar hoofdogter van haar skool. Sy het verskeie kere provinsiale kleure in swem verwerf en was ook uitgenooi om deel te neem aan proewe waar die vier beste hulpdoele in die land gekies was vir die Suid-Afrikaanse span om uit te speel.
Sy studeer tans BA Geesteswetenskappe op Stellenbosch.
"Ek glo matrieks kan 'n balans tussen hul sosiale- en skoolverpligtinge handhaaf ás hulle hulself daarop toespits. Daar is egter 'n tyd vir kuier – én 'n tyd vir swot. "Gebruik tyd nuttig," beveel sy aan.
Sy reken seuns is luier as meisies –"of dalk sómmige seuns," voeg sy vinnig by.
Groepsdruk speel ook 'n rol en dit gebeur dat die een 'n ander aansteek. Seuns is net minder bekommerd oor hul skoolloopbane as meisies.
Volgens Binki hang dit af van seun tot seun hoe ernstig hulle die matriekjaar benader. "Sommige seuns wil net klaarmaak met skool, terwyl daar ander is wat wil presteer. Dié seuns doen moeite met hul skoolwerk en is taamlik ernstig oor hul toekoms. Gewoonlik probeer hierdie groep 'n A-gemiddeld in matriek behaal.
Sy verklaar onomwonde: "Die meerderheid meisies is toegewyd aan hul skoolwerk, maar tóg is daar seuns wat nie skaam is om lyf weg te steek nie!"

Ouers en onderwysers

"My ouers het my ten volle ondersteun tydens die matriekeindeksamen," meen Konrad. "My ma het selfs koffie laat in die aand aangedra."
Jacques beaam: "My ouers het my gedurig moed ingepraat en dit was 'n riem onder die hart."
Beide hierdie twee leerders is dit eens dat die onderwysers van hul kant af, méér as hul deel gedoen het.

Tog voel Binki nie álle ouers het dieselfde uitkyk op hul kinders se matriekjaar nie. Sommige ouers plaas onnodig druk op hul kinders. Tipies tiener, sal sommige uit blote hardkoppigheid probeer om hul ouers 'n punt te wys. Sy gee toe dat daar wel ouers is wat hul kinders die nodige ruimte bied om uit eie ervaring en foute te leer, maar tegelykertyd hul ondersteuning en liefde daadwerklik daar te stel vir hul kind.
Maar sy voel sterk daaroor dat onderwysers seuns méér moet motiveer: "Seuns het meer aandag as meisies nodig – ek ondervind dit nou op varsity. As seuns meer motivering van hul onderwysers ontvang, sal hulle ook meer op hul skoolwerk ingestel wees."

Raad van dié wat weet

Besluit wat jy graag wil doen na skool en maak werk daarvan, beveel Konrad aan. "Voldoen aan die vereiste standaarde: hetsy jy wil gaan swot, óf dalk 'n oorbruggingsjaar oorsee wil doen, totdat jy presies weet wat jy met jou lewe wil doen."
Sy advies is: "Doen élke dag jou plig. Indien jy dit nie doen nie, sal jy die gevolge daarvan moet dra."
Jacques stem saam: "Leer! Die grond word onder jou voete uitgeruk as jou naam nie onder die matriekuitslae verskyn nie!"
Binki sê: "Die gaping tussen skool en universiteit is gewéldig groot. Studente besef dit eers as hulle daar aanland. Ek stel voor – dink reeds op skool wat jy met jou toekoms wil doen en bring maar daardie ekstra tydjie voor jou skoolboeke deur. Dit werp vrugte af!"
 

Lees ook Karin Bain se artikel, Vat eksamentyd vas, waar vitamien-aanvullingswenke gegee word om te verseker dat jou kind se liggaam gesond en gevoed is ter voorbereiding van die eksamen.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

joukommentaar

joubesluit beoordeel dié artikel

jou naam*

jou e-posadres*

jou  lewer kommentaar oor dié artikel
* nie verpligtend

     

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jouwereld tuisblad ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ]

 

 

 

 



 



Lees ons ander uitgawes
Augustus

September
Oktober
November
Desember