Om Mathys se ma te wees
As 'n organisasie of teater die sanger en musikant Mathys Roets vir 'n vertoning wil bespreek, moet hulle eers by Meisie, wat sy besprekings, navrae en kantoorwerk die afgelope sewe jaar hanteer, verbykom.
Mathys is deesdae die besigste wat hy nog ooit in sy loopbaan was, beduie sy skedule-rooster wat teen die muur in sy kantoor opgeplak is.
“Dit doen hom goed om besig te bly, maar hy moet darem rus ook inkry,” sê Meisie bekommerd. Want sy is nie net Mathys se besprekingsagent nie, maar ook sy ma. “Dit is soms maar moeilik om dinge so te organiseer dat daar 'n balans in sy druk program is.”
Gelukkig is Meisie Roets (67) 'n vrou wat weet hoe om te organiseer: sy het immers vir jare lank by die Vrystaatse Koöperasie as 'n privaat sekretaresse gewerk.
Meisie het gesorg dat daar geen afsprake of vertonings in Mathys se dagboek vir die eerste week van dié maand is nie. Want dit is rustyd en familietyd wanneer Mathys saam met sy ouers, Meisie en Boet (73), en sy twee seuns Liam (7) en Yuan (10), bietjie in die Krugerwildtuin gaan uitspan.
“Mathys is lief daarvoor om ons saam te neem op vakansie,” verduidelik sy. “Ons is 'n hegte famlie. En hy was nog altyd lief vir avontuur.”
Hierdie avontuurlustige famile gaan juis ook aan die einde van die jaar op 'n ski-vakansie in Oostenryk.
“Die kleinkinders was baie opgewonde toe hulle hoor Ouma en Oupa gaan saam,” vertel Meisie.
Al het hulle voorgestel dat hul Ouma eerder warm moet aantrek en op die bankie sit en kyk, as om self te ski. Mathys gaan dan ook spesiale ski-lesse vir parapleë neem, sodat hy saam met die res teen die hellings kan afspoed.
Die dag van 6 April
Na sy egskeiding met Karen aan die begin van verlede jaar, het Mathys sy ouers gevra om by hom in sy ruim huis in Centurion in te trek. Om te help as die kinders kom kuier. Dit was net voor Mathys se groot ongeluk op 6 April verlede jaar dat hulle begin pak het. Hulle sou, sodra hulle van die ABSA KKNK af terugkeer, verhuis. Die trekkery was egter vir 'n lang tyd op ys want na die ongeluk was hulle baie lank in Bloemfontein by die hospitaal.
Meisie sal dáárdie dag nooit vergeet: “Ja, dit was vreeslik. 'n Mens kan dit amper nie beskryf nie.”
Die gesin bel mekaar altyd as hulle op die pad is, dus was dit nie vreemd toe Mathys die oggend bel om te rapporteer oor waar hy is nie.
“'n Ma is mos maar altyd bekommerd, en Mathys weet dit,” sê Meisie. “Hy het die oggend gesê hy gaan net 100 km verder ry en dan by 'n vriend op 'n plaas stop, so ek was 'n bietjie minder bekommerd.”
Maar net voordat Meisie en Boet Oudtshoorn bereik het, het haar selfoon weer gelui: Mathys se naam het op die skerm geflikker, maar dit was 'n vreemde mansstem wat haar met die vreeslike nuus begroet het.
“Die res van die dag was gevul met vrees, wanhoop en verwarring – ons het só magteloos gevoel,” onthou Meisie. “Hier sit ons tussen niks en nêrens en ons moet blitsig in Bloemfontein kom.”
Hulle het nie gedink Mathys gaan oorleef nie.
“Baie mense sê Mathys se herstel is 'n wonderwerk, maar ons het nie eers daaraan gedink nie. Ons het net gebid dat hy moes leef. Dít was vir ons die wonderwerk.”
En Mathys doen meer as net oorleef, hy lééf.
“Hy het sy ongeluk aanvaar en hanteer dit so goed dat dit vir ons almal baie makliker is. Ons kry ons krag van hom af.”
Die dromer-seun van haar het sy positiewe ingesteldheid by haar geerf.
“Maar hy was as kind nie net 'n dromer nie,” las Meisie vinnig by. “As hy iets wou gehad het, het hy deurgedruk en dit gedoen.”
'n Dromer met 'n sterk wil. En deursettingsvermoë.
“Mathys is nog dieselfde mens en ons leef met dankbaarheid oor hoe goed dit gaan.”
Sy het ook gegroei en geleer om sterk te wees vir haar kind. Daardie dag toe die dokter Mathys moes vertel hoe ernstig sy beserings is, en dat hy nooit weer sal kan loop nie, wou sy nie saamgaan nie. Sy was oortuig daarvan dat haar tranedal hom net meer sou ontstel.
“'n Mens sien jou kind daar lê en dis die realiteit. Op die ou einde het ek my pose gehou. En dit was goed vir my om sterk te wees op daardie oomblik.”
Sy glo dat 'n mens krag na kruis kry om dinge deur te maak wat jy nooit sou glo moontlik is nie.
Daar was egter wel die doemprofete wat hulle in 'n donker gat van wanhoop probeer inpraat het; mense wat gesê het “dit gaan verskriklik wees.”
Maar hulle het aangepas en vinnig besef veranderinge maak eintlik nie saak nie.
“Die genade wat ons beleef het, is groot,” getuig Meisie, “en die wonder van alles was die fantastiese mense wat op ons pad gekom het.”
Dis dié mense wat hulle deur die moeilike tyd gedra het. Mense wat vir hulle gebid het. Mense wat vir hulle dáár was.
“Mathys kan eintlik alleen bly. Dis hoe goed dit met hom gaan,” sê Meisie.
Sy vertel ook dat Mathys soms ongeduldig raak wanneer hulle dinge vir hom wil doen.
Maar dan dink sy terug aan 'n dag, jare gelede, toe sy swanger was met haar jongste kind. Dit was 'n moeilike, emosionele dag en sy het gehuil. Klein Mathys het op haar afgekom en gevra: “Mamma, is jou hartjie seer?”
Hy het vir haar 'n sneesdoekie gebring en gesê: “Ek sal vir jou 'n koekie gaan haal.”
En dit is hoe sy hom ken. Hy is stééds haar omgee-kind.
jougeskenkeMathys Roets se outobiografie, Steeds Mathys, verskyn dié maand op die rakke. In hierdie eerlike oop vertelling vertel hy van die pad wat hy die afgelope 44 jaar geloop het en gesels ook oor die pyn van die beëindiging van sy huwelik, en van daardie donker dag toe sy motorfiets in die Vrystaat van die pad af geloop het.
Lees die volledige artikel
5 Gelukkige lesers kan Steeds Mathys deur Alita Vorster (Naledi-uitgewers) wen.
SMS die woorde JW MATHYS, tesame met jou naam en e-posadres, aan 36545 voor 31 Julie 2010.
SMS’e kos R5.00 elk.
Lees ook die kompetisie-reëls.
SPESIALE AANBOD vir jouwêreld-lesers
jouwêreld-lesers kan nou Mathys Roets se boek, Steeds Mathys, teen 'n spesiale afslagprys direk by die uitgewers bestel: omdat jy 'n jouwêreld-leser is, betaal jy slegs R150 in plaas van die normale prys van R179.
Al wat jy hoef te doen om vir dié afslagprys in aanmerking te kom, is om die boek voor 31 Augustus 2010 by On the Dot-uitgewers (0861 668 368) te bestel, en dan te noem dat jy hierdie artikel in die Julie-uitgawe van jouwêreld gelees het.
| e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit het jy al vir ons nuusbrief ingeteken? |
terug na jouhoofstories volgende artikel vorige artikel |

