|
Sy het baie byname – soos mev Bene, antie Pop, Lyds – maar vir talle jong musieksterre is sy Ma. Want as dit nie vir Lydia Winchester was nie, het hulle nie 'n musiekloopbaan gehad nie.
As een van die bekendste name in die plaaslike musiekbedryf weet menige ster: as jy jou naam in tydskrif-artikels wil lees, jouself op TV wil sien en jou liedjies oor die radio wil hoor, moet Lydia Winchester eenvoudig jou promotor wees.
Kan ook nie anders nie, want dié legendariese vrou het oor die afgelope 23 jaar onder andere suksesvolle kunstenaars soos Gé Korsten, Rina Hugo, Anneli van Rooyen, Manie Bodenstein, Trevor Nasser, André Schwartz, Klipwerf Orkes, Lance James, Gene Rockwell, Groep 2 en Randall Wicomb se loopbane bemark. Maar die lys gaan aan: sy het ook gesorg dat kunstenaars soos Jan Blohm, Gerhard Steyn, Navi Redd en Overtone meer onlangs sterre geword het.
Haar filosofie is om almal 'n plekkie in die son te gun, vertel Lydia Winchester.
Verlede maand het 250 glanspersone uit die musiek- en mediawêreld – 'n propperse who’s who – opgeruk na die Liedjieboer-venue in Midrand om hulde aan dié groot gees in die musiekwêreld te bring. Om saam met haar “te kom gooi”, soos sy dit stel.
Tipies Lydia het sy vir 'n uur lank voor die ingang gestaan en elke gas luidkeels en met groot fanfare aangekondig soos hulle gearriveer het.
En dit is hoe mense Lydia ken: die vrou met die luide stem en die groot persoonlikheid.
Vandag onthou en eer sy die mense wat haar gebring het waar sy is, vertel sy. Haar filosofie is om almal 'n plekkie in die son te gun: “om in jouself te glo en om nooit te dink jy is beter as iemand anders nie”.
“Dis vir my amazing hoeveel respek mense vir my het. Ek dink jy kan dit sien aan die mense wat hier by my paartie is.”
Sy lag. “Kyk, en daar kry ons nie vir oom Manie (Bodenstein) van die stage af nie!” Heelwat kunstenaars het dié aand die verhoog betree – nie net om die gaste te vermaak nie, maar ook as eerbetoon vir 'n vrou wat hul loopbane help bou het.
Lydia se twee maltese poedels, of “die mowwe” soos hulle landswyd in die musiekbedryf bekend staan, is haar kinders. Hulle was ook al op die voorblad van Beeld, sê sy.
Alles het 23 jaar gelede by die Decibel-musiekateljee in Delarey, Roodepoort, begin. Lydia was frustreerd met haar werk by 'n motorhandelaar in Krugersdorp en het nie juis geweet wat om met haar toekoms te maak nie, toe sy die advertensie sien. Sy het geen musiekagtergrond gehad en niks van die plaaslike musiekindustrie geweet nie. Sy het geen kunstenaar geken en ook nie geweet wat 'n ateljee is nie. Maar sy het aansoek vir die werk gedoen.
Boet Pretorius, die grootbaas, het met haar die onderhoud gevoer nadat hy en Leon Schuster in 'n vergadering was. Toe besluit Leon sommer Boet moet haar aanstel, “want jis, dié girl het bene.”
A legend was born en een van haar latere byname, mev Bene, is geskep.
“Boet het my 'n kans gegee. Jy kan maar sê hy was my mentor,” vertel Lydia.
Maar sommer op haar eerste werksdag moes sy stoksielalleen na die SAUK gaan om haar eerste produk te gaan aflaai: 'n plaat van Carike Keuzenkamp en Jannie Peltzer.
Daarna het Lydia haarself opgewerk in 'n bedryf wat vandag heel vaal sonder haar sou uitgesien het.
“Daai jare was dit glad nie soos vandag wat niemand mekaar 'n kans wil gun nie,” onthou sy nostalgies.
Lydia se roostuin by haar en Peter se huis in Weltevredenpark is haar trots. Sy het Nelson Mandela-, Anneli van Rooyen-, Jurie Els-, Cora Marie- en Zola Budd-rose, maar dié Rina Hugo-roos blom die mooiste, spog sy. Rina is toevallig ook haar boesemvriendin.
Antie Pop is 'n besige vrou
Nadat Boet Pretorius 10 jaar gelede afgetree en Decibel sy deure gesluit het, het Lydia as onafhanklike musiekpromotor begin werk.
“Dis hel om 'n musiekpromotor te wees, maar ek geniet wat ek doen ongelooflik baie,” vertel Lydia. “Maar die een groot fout wat ek gemaak het, was om my kantoor by die huis te bou. Jy sluit nooit af nie; daar is altyd werk om te doen en almal weet ek is net 'n oproep ver.”
In haar ruim kantoor staan daar pakke CD’s wat nog in koeverte gesit moet word sodat sy dit die volgende dag by elke koerant- en tydskrifkantoor en elke radio- en TV-stasie kan gaan aflaai.
“Ek is die een in die bedryf wat die vinnigste sample,” sê sy. “Almal weet dit.”
Langs haar lessenaar is haar twee mowwe – die maltese poedels Toby en Andy – se bedjies. Hulle is haar kinders.
'n Portret van wyle Gé Korsten, een van die eerste kunstenaars wat Lydia bemark het. “What a man!” onthou sy.
In die musiekbedryf staan mense verstom oor die groot aantal kunstenaars op haar boeke. “Dis omdat ek so ongelooflik kan fokus,” verduidelik sy hoe sy dit regkry. “Kyk, ek fokus mos heavy. Excuse me for you: Ek werk hard en ek speel hard – almal weet dit.”
Dít is Lyds: onbeskaamd eerlik soos almal haar ken.
“Ek dink die Here het my 23 jaar gelede met 'n doel op hiérdie pad gesit, want ek het nie tóé geweet hoe lank ek dit gaan doen nie.”
Nou is musiek haar passie. “Dis iets wat niemand van jou kan wegvat nie.”
Maar haar eintlike werk is dié van 'n social worker, lag sy. Want haar kunstenaars deel al hul privaat kwellinge met haar, dan moet sy help en raad gee.
“Ek moet 'n ma wees, iemand op wie se skouer jy kan huil. Ek moet 'n image consultant wees – ek moet alles wees!”
Sy kla nie, sy sê net.
Maar sy het geen gunstelingkunstenaar nie. “Almal is my gunsteling. Elke kunstenaar wat ek bemark is magic. As promotor moet jy in elke kunstenaar glo en hulle moet ook in jou glo.”
Sy doen alles in haar vermoë om al haar kunstenaars se musiek op TV, radio en in die gedrukte media te bemark, maar uiteindelik is dit die publiek wat besluit wat word aanvaar.
“As 'n kunstenaar sukses behaal is dit absoluut danksy spanwerk. Ek doen my deel, die kunstenaar en die musiekmaatskappy doen hul deel en ook die media. Elkeen in die ketting is belangrik.”
Die liefde beskaam nie
Lydia se man, Poepies – dis nou Peter vir ander mense – is net so geliefd onder kunstenaars. As ingenieur het hy 'n stresvolle beroep, maar saans sal hy altyd aan Lydia se sy by haar funksies wees. En met sy innemende persoonlikheid seker maak almal het 'n drankie in die hand terwyl hy belangstellend na elkeen se welstand verneem.
Na 'n toevallige ontmoeting jare gelede het hy haar uitgevra vir drankies.
“Well, if you can find Bailey’s,” het sy astrant geantwoord, verwysend na 'n baie skaars likeur. Van die Bailey’s het niks gekom nie, maar na die eerste afspraak was die koeël deur die kerk. Hulle was verlede September 21 jaar getroud.
“Jy kan nie doen wat ek doen as jy nie die seën van jou man het nie,” sê sy. “Poepies is 'n spesiale man, hy gee my 'n vry hand. Hy weet ek behoort aan almal, maar ek weet ek kan my ding doen met sy ondersteuning.”
Die rye en rye foto’s en toekennings teen die mure in Lydia se kantoor vertel haar suksesverhaal.
Lydia en Peter is kinderloos. “Dit het nogal lank gevat om daaraan gewoond te raak om soggens te gaan gim (iets wat sy vyf keer 'n week doen), dan by die coffee shop te sit met 'n koppie koffie en 'n stukkie tert – alles alleen. Dit vang my partykeer as ek sien hoe die vrouens van my ouderdom en hul dogters saam gaan shop. Dan dink jy, sjoe . . . jy weet, almal is involved . . . maar ek sit alleen. Dis wat jy moet aanleer. Om dit alleen te doen.”
Gelukkig is sy nog altyd 'n alleenmens gewees, verseker Lydia. “My mowwe en my kunstenaars is mos my kinders.”
En vir hulle is sy ma Lyds. Of anti Pop.
“Ek het nou die dag gehoor iemand sê ek het my touch verloor,” sê sy en vat 'n sluk witwyn. Een van die mowwe klim op haar skoot; asof hy verstaan hoe seer dit haar gemaak het.
“In sulke tye dink ek maar net aan my gunstelingliedjie: Môre lyk dit anders. Dit laat my altyd beter voel.”
23 Jaar in beeld: Lydia met haar vriende en kunstenaars
Lucas Maree en Coenie de Villiers
Joost van der Westhuizen en Bill Flynn
Anneli van Rooyen
Wyle Leon van Heerden
Danie Botha
Jurie Els
Die Country-legendes
|