|
Die Suid-Afrikaanse politieke toneel is besig om
baie hittig te raak waar opposisiepartye mekaar
al hoe meer direk aanvat, slegsê en probeer
uitoorlê.
Faktore wat hiertoe bydra, sluit in die emosie
wat die wegbreek-groep van Terror Lekota ontlok
het, asook toenemende ongeduld onder sommige oor
die ANC-beleid se minagting van die demokrasie
en die grondwet, en die diskriminerende optrede
teenoor, en onderdrukking van, minderheidsgroepe.
Teen dié onstuimige agtergrond is daar egter
gereeld komiese vermaak – alhoewel sommige van
dié wat daarvoor verantwoordelik is, dit dalk in
die eerste plek nie so bedoel het nie!
jouwêreld
kyk na 'n paar van dié komiese oomblikke,
vindingryke planne, skerp opmerkings, asook van
die meer vreemde uitsprake en gebeurtenisse wat
die onlangse tyd in die Suid-Afrikaanse politiek
die stryd "verlig" het.
Die VF Plus-Jeug glo dat 'n goeie pak slae op sy
tyd nodig is. Hulle het teen die einde van
verlede maand 'n rottang aan 'n verteenwoordiger
van die kantoor van die staatspresident
oorhandig met die versoek dat Julius Malema,
leier van die ANC-Jeugliga, "ses van die bestes"
daarmee moet kry. 'n Versoekskrif dat lyfstraf
by skole teruggebring moet word, het die rottang
vergesel.
Charl Oberholzer verduidelik dat politieke
jeugleiers nog beskaafd opgetree en respek vir
hul eweknieë en ouer mense gehad het in die tyd
toe lyfstraf toegepas is.
Oberholzer het verwys na Malema se onlangse
uitsprake dat hy sal moor vir Zuma, en dié van
die sekretaris-generaal van die jeugliga in
Mpumalanga, Izaac Mahlangu, dat hulle gereed is
"om enige kakkerlak te vermoor wat in hul pad
sal staan om 'n universiteit in dié provinsie te
kry".
Die ANC-Jeugliga was woedend oor die
versoekskrif en die lat. Malema het vertel "hoe
wreed lyfstraf" in sy tyd by skole toegepas is:
hulle het tot 40 keer in 'n skooldag pak slae
gekry, onthou hy.
Beeld se rubriekskrywer, Lood, het dadelik 'n
paar Wiskundige sommetjies gedoen: maar dit
beteken dan mos dat hulle elke 10 minute onder
'n loesing moes deurloop? werk hy dit uit.
Toe kom dit aan die lig dat Malema inderdaad
Wiskunde, asook twee ander vakke, tydens sy
matriekjaar gedruip het.
In 'n e-pos wat nou die rondte doen, word vertel
hoe Malema op 20-jarige ouderdom in 2001 steeds
probeer het om ten minste matriek agter sy naam
te probeer kry – maar drie vakke gedruip het.
'n Anonieme briefskrywer het egter simpatie vir
Malema en sy trawante se swak skolastiese
prestasies: hy sê as hulle elke 10 minute moes
buk vir 'n pak slae, was daar mos nie tyd om nog
te leer ook nie.
Maar vir Castro Ngobese, Jeugliga-woordvoerder,
is Malema se onvermoë om op skool te presteer
nie 'n probleem nie: Sy slim kommentaar is dat
'n leier soos Malema se "opvoedkundige intellek
organies gekweek word".
Een van die ANC-wegbrekers, Willie Madisha, stem
egter nie saam nie: Miskien moet Julius Malema
eerder teruggaan skool toe en sy matriek gaan
slaag, sodat hy 'n positiewe bydrae tot die
demokrasie kan lewer, het dié tydens 'n saamtrek
in die Oos-Kaap gesê.
AfriForum Jeug is net so oorspronklik met hul
sosiale kommentaar.
Nadat die Springbok-rugbyspeler, Luke Watson, en
die voorsitter van die parlementêre
portefeuljekomitee oor sport, Butana Komphela,
vertel het hoe hulle op die Springboktrui wou
braak, het AfriForum Jeug besluit om in te gryp.
Hulle het onmiddellik pakkies Valoids, 'n
medikasie wat naarheid en braking voorkom, per
spoedkoerierdiens aan die twee here gestuur.
Ernst Roets, nasionale voorsitter van AfriForum
Jeug, is selfs bereid om verder te gaan. Hy sê
dat wanneer Komphela weer op 'n duur buitelandse
reis moet gaan om te gaan rugby kyk, sal hulle
sommer 'n groot voorraad naarheidmedikasie aan
hom gee om saam te neem.
"Dit is belangrik dat wanneer 'n persoon met die
statuur van Komphela weer, soos in die verlede,
in 'n Springboktrui moet paradeer, hy nie moet
ly aan die ongemak wat deur naarheid veroorsaak
word nie."
Lede van AfriForum Jeug het ook die oë laat rek
toe hulle tydens die onlangse
Aardklop-kunstefees 'n staalhok op die
feesterrein opgeslaan en hulself daarin
toegesluit het. Dit, sê hulle, is simbolies van
wat regstellende aksie aan hulle doen: dit hou
hul gevange en beperk hulle sodat hulle nie hul
bydra tot die land se ontwikkeling en ekonomie
kan lewer nie. Kunstenaars soos Steve Hofmeyr,
Adam Tas en Blackie Swart het later as 'n blyk
van samehorigheid by hulle kom aansluit.
Selfs blomme – 'n teken van vrede en liefde – is
al dié jaar ingespan om protes aan te teken teen
ANC-beleid wat beskou word as 'n "vertrapping
van demokrasie en die skep van polarisasie
tussen rassegroepe".
Die VF Plus het in sosiale protes teen die
Pretoria-stadsraad se besluit om 27 straatname
in die middestad te verander, 27 tulpe aan die
Nederlandse ambassadeur in Pretoria oorhandig.
Een van die straatname wat die stadsraad wil
laat verdwyn, is dié van Koningin Wilhelmina,
eertydse koningin van Nederland wat 'n groot rol
gespeel het in die vestiging en ontwikkeling van
Pretoria.
Maar ook tydens bekgevegte tussen politieke
groeperinge kom daar baie komiese uitsprake na
vore.
ANC-president Jacob Zuma het die wegbreker
Terror Lekota beskryf as 'n vrat wat afgebind
moet word – en as hy eers afval, is mens ontslae
van hom.
Ayanda Matiti, Oos-Kaapse sekretaris van die
ANC-Jeugliga, sê Lekota is soos 'n ou, stink,
sterwende perd.
Lekota dryf op sy beurt tydens politieke
saamtrekke weer die spot met Zuma. Tot groot
gelag onder sy ondersteuners maak hy Zuma se
danspassies na wanneer dié sy gewelddadige
masjiengeweer-liedjie sing. Dan wil Lekota weet
"aangesien ons in 'n demokrasie leef, wie Zuma
nou eintlik met sy masjiengeweer wil skiet".
Willie Madisha, een van die wegbrekers, vra weer
of Zuma dan wil hê dat "ons onder mekaar moet
begin moor, natuurlik nadat ons almal lekker
gestort het".
Terwyl die groot kanonne mekaar dus aanvat, is
daar genoeg stof vir die gewone man op straat om
net agteroor te sit en die skouspel te geniet!
|