Koeweit gooi die juk af
Wendy Visagie

deur Wendy Visagie




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

20 Jaar na die uitbreek van die oorlog tussen Irak en Koeweit tooi die Koeweiti’s hulself in feestelike gewaad – want tyd het die meeste van die wonde genees.

Verlede maand het die mense van Koeweit hul feesklere uitgehaal. Lamppale, geboue, motors, kinders – ja alles en almal – is getooi in die nasionale rooi, groen, swart en wit kleure van Koeweit: want 26 Februarie was hul Vryheidsdag.

Sedert 1991 trek die Koeweiti’s jaarliks in groot getalle saam om die vreugdesvure aan te steek; daar word in die strate gesing en gedans, mense wens mekaar geluk, die nasionale vlag word hoog gehys, enorme vlae word oor geboue en motors drapeer en vuurwerke word tot laat in die nag gehoor. Maar dié dag gaan ook gepaard met hartseer, want Vryheidsdag in Koeweit word ook onthou as die dag toe duisende onskuldige inwoners hul lewens verloor het en honderde ander as oorlogsgevangenes weggevoer is in die 1990/91-oorlog teen Irak.

Die mense van Koeweit vier fees en alles en almal word in die nasionale kleure geklee.

Op 2 Augustus 1990 het Irak se Saddam Hussein Koeweit binnegeval in 'n poging om beheer te neem oor dié klein landjie met sy ryk oliebronne. Hy het dié daad regverdig deur te verklaar dat Koeweit histories aan Irak behoort en dat dit tyd was dat die land aan sy oorspronklike eienaars terugbesorg moes word. Soldate vanuit Irak het die grense oorgesteek en binne 48 uur beheer van Koeweit geneem. Die land se infrastruktuur is totaal lamgelê, staatsgeboue en huise is beskadig en geplunder.  Duisende van die plaaslike inwoners is gevange geneem en daar was verskeie insidente waar mense doodgeskok, ledemate geamputeer en vroue verkrag is. 

Mans vanoor die hele Koeweit het desperaat begin om oral klein weerstandsgroepe te vorm om die land teen die vyand te probeer beskerm. Een van hierdie groepe, die Al Messilah-groep wat in 'n huis in die woonbuurt Al Qurain gestasioneer was, was op 24 Februarie 1991 in een van die dapperste plaaslike gevegte betrokke. Die groep, bestaande uit 31 lede – waarvan slegs 19 die betrokke dag teenwoordig was – was gewapen met niks meer as masjiengewere nie, terwyl die Irakiërs met grofgeskut en pantserwaens tot die stryd toegetree het. Die geveg het 10 moordende ure geduur waartydens 12 lede van die Al Messilah-groep gedood is en die vyand groot lewensverliese gely het.

Die land was in chaos gedompel maar die stryd was nog nie verlore nie. Die destydse heerser van Koeweit, Sheik Jaber Al Sabah, het hom tot die Verenigde Nasies vir hulp gewend.  'n Koalisie, gelei deur die VSA, het teen die middel van Januarie 1991 begin met operasie Desert Storm en na 'n sewe maande lange besetting deur Irak, is Koeweit uiteindelik bevry. Maar die Irakiërs het nie só maklik gaan lê nie!

Al Qurain Martyr’s Museum -  die stille getuie van die bloedige geveg wat op 24 Februarie 1991 tussen die Al Messilah-groep en Irakse soldate plaasgevind het.


Gedurende die terugval het die Irakkese magte die olievelde in Koeweit gebombardeer. Dit het langer as nege maande geduur om hierdie vure te blus. As gevolg van die langdurige lugbesoedeling het duisende mense ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel en talle spesies in die natuur het gevaar geloop om uit te sterf. Dit het Koeweit uiteindelik meer as vyf biljoen dollar gekos om sy olie-infrastruktuur te herstel. 

Een van Koeweit se prioriteite ná die oorlog was om te probeer vasstel wat van die meer as 600 oorlogsgevangenes geword het wat na Irak weggevoer is. Vir meer as 10 jaar het families steeds gehoop dat hulle met hul geliefdes herenig sou word. Na die onlangse Amerikaanse oorlog in Irak het DNS-toetse egter getoon dat sommige van die lyke in die massagrafte, dié van Koeweitse krygsgevangenes was.

Die Irakiërs het nie só maklik gaan lê nie: gedurende hul terugval het hulle die olievelde in Koeweit gebombardeer. Dit het langer as nege maande geduur om hierdie vure te blus. 

Maar in 2010 – 20 jaar ná die aanvang van dié geskiedkundige oorlog – is die onthou nie meer so seer nie: die wonde het genees. Die feesklere is dus verlede maand uit die kaste opgediep en die land is in feesgewaad getooi.

Sê jou sê oor dié of enige ander onderwerp (lees kommentaar op die brieweblad)

e-pos dié artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel
  Bookmark and Share Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend