Desember 2008
Jaargang 1 Uitgawe 5

 

 


  Kleuteronderwys in 'n krisis

jouhoofstories
hoofinhoud
terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel


deur
Prof. Hennie Steyn

e-pos die skrywer
e-pos jouwêreld
 

Faktore soos 'n tekort aan finansies en opgeleide personeel, het veroorsaak dat kleuterskole 'n groot krisis in die gesig staar – met katastrofiese gevolge vir die kind wat sy basiese vaardighede moet vestig


Kleuters volg die eCindi-program op DVD.

Kleuteronderwys in Suid-Afrika is in 'n krisis. Dié krisis word deur verskillende faktore veroorsaak, waarvan die grootste is dat kleuteronderwys onder beheer van die Departement Gemeenskapsontwikkeling val, en nie onder die Departement van Onderwys nie.
Die nypende tekort aan opgeleide kleuterskoolonderwysers veroorsaak dat die jong kind, wat op dié stadium van sy lewe 'n onontbeerlike basis vir sy verdere ontwikkeling moet kry, reeds sy akademiese lewe met 'n agterstand sal moet begin.
Kleuterskoolonderrig is duur – 'n feit wat veroorsaak dat heeltemal te veel kinders van die voorreg, of rég!, uitgesluit word.
Want alle ouers kan dit eenvoudig net nie meer bekostig nie.

Die regering het sy verantwoordelikheid om 'n goeie basis by die voorskoolse kind te lê, vierkantig afgeskuif na die privaat sektor – met die gevolg dat die meerderheid kleuteronderwys wat tans in Suid-Afrika voorsien word, die verantwoordelikheid van privaat kleuterskole en dagsorggroepe geraak het. Met katastrofiese nagevolge.

Een van die groot probleme waarmee baie van dié privaat instellings worstel, is dat daar nie genoeg opgeleide kleuterskoolpersoneel in die veld is nie. Dié wat wel nog in Suid-Afrika oor is, se dienste is uiters gesog, maar net so duur!
By verreweg die meeste kleuterskole is die beskikbare fasiliteite verder ook geheel en al ontoereikend. Dié gebrek word voor die deur van 'n tekort aan fondse gelê in 'n bedryf wat reeds onder hoë klasgeld gebuk gaan, net om te kan oorleef.

Privaat onderwys, soos kleuteronderwys, is oor die algemeen duur – want alle kostes moet deur die privaat persoon gedra word.
Daarom is dit te verstane dat die bestaande kleuteronderwysstelsel eenvoudig te duur vir die meeste Suid-Afrikaners geword het.

Waar kleuteronderwys se maandfooie só gesny is om dit wel bekostigbaar vir die mindergegoede deel van die gemeenskap te maak, gaan dié skole so mank aan fasiliteite dat baie van hulle met net die mees basiese voorsiening moet sien en klaarkom. Ten koste van die kleuter.

Ten spyte daarvan dat die nuwe slagspreuk – onder die invloed van UGO – deesdae is dat dit die skool is wat kindgereed moet wees, bly dit 'n feit dat elke kleuter ook skoolgereed moet wees. Kleuters benodig stewige kognitiewe, emosionele en sosiale vaardighede voordat hulle volledig baat kan vind by onderwys wat in die formele skoolfases vanaf graad 1 voorsien word. Hiérdie vaardighede kan net in die goed toegeruste kleuterskool met opgeleide personeel verkry word.
Die spesifieke vaardighede moet ontwikkel word vóórdat die kind graad 1 aanpak – soos onder andere die groot en klein motoriese vaardighede, visuele en ouditiewe onderskeiding en geheue, asook balans en lateraliteit. 
Indien 'n kleuter se visuele diskriminasie byvoorbeeld swak ontwikkel is, gaan hy later sukkel om die verskil tussen letters, syfers en woorde te identifiseer.

Alle geloofwaardige internasionale studies wys die een na die ander op die belangrikheid van moedertaalonderrig – iets wat deur die Suid-Afrikaanse regering ontken word. Dit is nou maar eers onlangs, na die totale ineenstorting van die UGO-proefneming, dat sommige in regeringskringe begin besef dat al dié studies eintlik korrek was.
Moedertaal-onderrig in die kleuterskoolfase is onontbeerlik vir die kind wat sy vaardighede na wense wil ontwikkel.
 

Die belangrikheid van kleuteronderwys word dus nie meer ontken nie – maar die nie-beskikbaarheid daarvan vir die meerderheid van die kleutergroepe in Suid-Afrika, weens finansiële en personeelprobleme, kan ook nie meer misgekyk word nie.

Daar word nou na hierdie probleme gekyk om met behulp van moderne tegnologie kleuteronderwys vir alle kleuters beskikbaar te stel.
Die eCindi-projek wat hiervoor ontwikkel is, is gebaseer op die DBS-gebaseerde onderwysondersteuning.  Die DBS (digitale boekskyf) is aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) ontwikkel en behels kortliks dat die "gewone klasgeleenthede" op DVD opgeneem is, sodat die kleuter dit later kan gebruik.

Die leerders kyk dus na die spesifiek-gestruktureerde teks, video en ander insetsels op die DVD, en doen dan die oefeninge en opdragte wat gevra word. Die DBS-gebaseerde onderwysondersteuning is in verskillende projekte getoets, en het elke keer beter akademiese prestasie getoon. Een van die redes hiervoor, is dat dit individualisering, herhaling en verryking, almal belangrike riglyne vir effektiewe onderwys, verwesenlik. 

Die toekomskundige Piet Mϋller, het 20 jaar gelede geskryf dat onderwys een van die enigste beroepe is wat nog nie tegnologie gebruik om produktiwiteit te verhoog nie. Maar nou is dit presies dit waarin die eCindi-projek slaag.

Op grond van die beginsel van skaalvoordele word die eenheidskoste laer hoe meer leerders aan die program deelneem.
Deur middel van die projek kan die onderwyser-leerderverhouding met 25% verhoog word, sonder om kwaliteit in te boet. Verder toon kinders wat aan die eCindi-projek deelgeneem het, voortdurend beter prestasies.

Die eCindi-program word tans met groot sukses by privaat kleuterskole van bruinmense in Afrikaans afgelewer. Die program voorsien 4 lessies per dag, 5 dae per week en 32 weke per jaar. Die kleuters kry ook 'n werkboek met een of twee werkkaarte per dag, asook 'n pakkie kryt elke ses maande en 'n skêrtjie. Die program word heeltemal gratis aangebied, want dit word met fondse uit die SEB-program (swart ekonomiese bemagtiging) gefinansier. 

Besighede wat die eCindi-program ondersteun, kan volpunte verwerf in Kode 600 (klein besigheidontwikkeling) en Kode 700 (sosio-ekonomiese ontwikkeling). Die verdere voordeel vir besighede is dat hulle presies weet waar hul geld spandeer word, die vordering van die program kan monitor, fondse wat so bestee word van hul belasbare inkomste kan aftrek en 'n aantoonbare bydrae lewer tot kwaliteit onderwysvoorsiening in Suid-Afrika.

Vir verdere inligting, besoek www.educationexpert.co.za of kontak lydia@educationexpert.co.za.
Prof. Hennie Steyn is verbonde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

e-pos hierdie artikel
druk hierdie bladsy uit
het jy al vir ons nuusbrief ingeteken?
 

terug na jouhoofstories
volgende artikel
vorige artikel

 

Hosted By Afrihost.com - The Best Web Hosting Ever!

jouapplous ] joufiksie ] jouhoofstories ] jougeskenke ] joukind ] joukontrei ] jouleefstyl ] joumenswees ] joupolitiek ] jourubrieke ] jouse ] tuisbladsy ]