OUTsurance
jouhoofstories

dr. Jan Botha
deur dr. Jan Botha




Boekmerk dié bladsy, of deel met 'n vriend

Die kerk moet oopkop homself herdefinieer

'n Groep teoloë van die NG kerk kry 'n kykie van toekomstige tendense wat in Suid-Afrikaanse kerke te wagte kan wees op 'n navorsingstoer.
Teoloë van die NG Kerk wat saam op die toer was: (voor) Gawie Snyman, Nelus Niemandt, Martin Robinson en Willem Pretorius. (agter) Jan Botha, Marius Nel en Eduan Naude. Die internasionaal bekende dr.Martin Robinson is die Direkteur van Together in Mission, en die skrywer van talle boeke wat wêreldwyd werk aan die ontwikkeling van innoverende leierskapsontwikkeling en 'n nuwe vars visie in die kerk.

Die internasionale tendense en tekens van die toekoms van die kerk, asook die verandering wat dit meebring, is alreeds in die Suid-Afrikaanse kerkkultuur aanwesig. Dit is wat die teoloë van die NG Kerk ontdek het toe hulle in April 'n navorsingstoer na Europa onderneem het.
Die doel van die toer was om na die tendense en die toekoms van die kerk in Engeland, Nederland en in Suid-Afrika te kyk.
Die groep het besef dat kerkwees op 'n moderne en binne 'n bepaalde konteks hergedefinieer sal moet word. Ook dat die kerk van die toekoms meer by die gemeenskap en sosiale geregtigheid sal moet betrokke raak.
Die toer is deur prof. Nelus Niemandt (verbonde aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria) en dr. WA Pretorius (Diensraad-voorsitter van Gemeente-ontwikkeling, Noordelike Sinode) gelei. 
Gedurende die toer van 14 dae het die groep van 16 predikante uit verskillende sinodale streke, woordvoerders van 19 groeperinge en 30 ander geestelike leiers oor 'n baie wye spektrum van spiritualiteite ontmoet. Hulle het hoofstroomkerke sowel as ontluikende en alternatiewe kerke besoek.
Die ervaring van die groep was soos om in 'n tydmasjien te klim en 'n kykie te kry van toekomstige tendense wat in Suid Afrikaanse kerke te wagte kan wees.
Sean Callaghan, ’n voormalige Suid-Afrikaner en missionêre kerkplanter wat 'n kerk in Melville geplant het, sê Engeland is 'n baie goeie plek om by te leer, aangesien generatiewe ontwikkelinge in dié land 20 jaar voor Suid-Afrika, en 10 jaar voor Amerika, is. Volgens hom verander die konteks baie vinnig: “Kerk is lankal vir baie mense nie meer die logiese keuse nie,” verduidelik hy. “Die tempo waarteen die hoofstroomkerke in Engeland leeggeloop het, is 'n bewys hiervan.”
Daar was verskillende reaksies op hierdie tendens. In Amerika het die “seeker-sensitive”-beweging begin waarvan Bill Hybels en sy Willow Creek-Kerk een van die luidste stemme is.
Dan was daar die Alfa-kursusreaksie uit Engeland – 'n benadering wat mense op 'n nie-outoritêre manier wou wys hoe die Bybel se boodskap steeds relevant is in hul lewens.
Derdens was daar die Huiskerk-beweging, met die probleem dat die risiko vir dwaalleer groot is omdat daar geen verantwoording gedoen hoef te word nie.
Die Alternatiewe-aanbiddingsbeweging was 'n belangrike reaksie in Engeland, maar mense het gevoel as jy nie welsprekend, of baie musikaal is nie, jy nie aan dié dienste kan deelneem nie.
Eksperimente met alternatiewe vorms van eredienste, weg van die “sermon-sandwiched-between-two-hymns”-benadering, het gevolg. Hierdie dienste het daarop gekonsentreer om almal te betrek om 'n bydrae tot die beweging te lewer.
Laastens was daar die “Integral mission”-benadering waarin sosiale geregtigheid die hoofrede vir die kerk se bestaan was.


Die groep het ook die historiese kerk in Dordrecht in Nederland besoek waar baie van die NG Kerk se tradisionele wortels lê. Die Dordtse Leerreëls is in 1618 in die kerkgebou aanvaar wat hoofsaaklik oor die uitvekiesing, verwerping, bekering asook die volharding van die heiliges handel.


Die kruis, Christelike liefde en omgee moet "uit die kas kom", want eers dan is daar sprake van waagmoed, grense wat oorgesteek word en risiko's wat geneem word, het die groep besef.


Hierdie benaderings word verder verfyn in hoofsaaklik vier denkskole:
1. Die “Emerging Church”-beweging met wortels in die Baptiste en Charismatiese kerke van die VSA.
2. Die “Alternative Worship”-beweging wat liturgiese wortels het en hoofsaaklik in die VK, Nieu-Seeland en Australië aangetref word.
3. Die “Fresh Expressions”-beweging wat veral in Londen baie gewild is en uit die Anglikaanse tradisie ontwikkel het. 4. Die “Small, Missional Communities”-beweging wat met 'n “highly participative”-model werk en baie na buite gefokus is.
Die verskillende denkskole het almal 'n groot en diepe besorgdheid oor sosiale geregtigheid, soos byvoorbeeld armoede, rassisme en vigs. Hierdie besorgdheid word vanuit vier bronne gevoed, naamlik:
1. Die liberale Protestantisme en die Episkopaalse vleuel van die Anglikaanse kerk.
2. Die Bevrydingsteolgie-bewegings uit Suid-Amerika en Afrika.
3. Die nuwe oplewing in Koninkryksteologie van NT Wright, Brian McClaren en baie ander.
4. Tim Keller met sy bediening in New York. Sy mantra is glo: “Work for the good of Babylon while longing for Zion.”

Dit is wat die groep geleer het:

* Die internasionale tendense en tekens van die toekoms van die kerk, asook die verandering wat dit meebring, is reeds besig om in die Suid-Afrikaanse kultuur neerslag te vind.

* Kerkwees sal eietyds en binne 'n bepaalde konteks hergedefinieer moet word. Daar sal nuut en oop oor bestaande gemeentes, asook die plant van nuwe gemeentes en geloofsgemeenskappe, gedink moet word.

* 'n Missionale kerkwees en 'n koninkrykperspektief moet al meer in die prediking en ten diepste in die kultuur van 'n gemeente en geloofsgemeenskap neerslag vind.

* Die kerk moet as pioniers en voortrekkers (terminologie wat deur wat prof. Henk de Roest van Nederland gebruik word) die unieke uitdagings en geleenthede van ons tyd, binne ons bepaalde konteks, sinvol en met 'n openheid aanspreek.

* Die kerk moet waag om grense oor te steek en risiko’s te neem, en die diversiteit in ons andersheid te vier.

* Daar moet meer betrokke geraak word by die gemeenskap deur sosiale geregtigheid – armoede, vigs, rassisme en seksisme – aan te spreek en op te tree as mede-skeppers van 'n geloofwaardiger wêreld.

* Christene moet weer persoonlik, maar ook gesamentlik, die misterie en grootsheid van die Drie-enige God ontdek, beleef en met die mense rondom hulle deel.


Die skrywer van die artikel, dr. Jan Botha, is die Voorsitter van die NG-kerk se Algemene Sinode se Taakspan van Diversiteit. Hy bedryf 'n Pastorale Krisis- en Verrykingspreekkamer in Pretoria, en is ook 'n deeltydse predikant van die NG Gemeente Eloffsdal in Pretoria. Hy kan gekontak word by 012 546 3545, of by jan@pastoralepraktyk.co.za.
Kommentaar aangedryf deur Disqus
joutuisblad | jouhoofstories | joumenswees | jouapplous | jouleefstyl | joutafel | joukontrei | jou  | joufiksie | jougeskenke | gratis nuusbrief| medewerkers | adverteer | wie is ons?